Die soveelste katedraal wat ek in Januarie in Ierland betree het, begroet my met dieselfde gesig. ’n Paar bejaardes wat eerbiedig aan welke vorm van godsdiensbeoefening ook al deelneem. Met my terugkeer na ons eie land word ek weer ten seerste bewus van my eie gemeentelede se gevorderde jare. Ook in ander gemeentes waar ek onlangs gekuier het. In een gemeente was ek as 55-jarige, op een of twee na, die jongste persoon in die kerkgebou. Niemand was in elk geval jonger as 40 jaar oud nie.

Die tipiese vraag wat ons teen hierdie agtergrond vra, is: Waar is ons kinders dan?

In die buiteland vind jy hulle dikwels in kroeë en ander kuierplekke. Hulle drink ’n drankie en sosialiseer daar.

Een van my Facebook-vriende skryf spottenderwys op haar blad oor ons eie omgewing: As jy in Harties is en jy uitgehonger is vir geselskap, moet jy net op ’n Sondag gou Mall toe gaan. Almal is daar.

Ons weet tog hulle, “die Mall-gangers”, en die jongmense trap nie kerke se matte stukkend nie. Êrens in my nadenke hieroor wou ek soos baie ander moedeloos raak en vra wat dan van die kerk gaan word. As daar geen of min jongmense oor is en hulle nie meer enige formele aktiwiteite bywoon nie, gaan die kerk soos ons dit ken mos binne ’n geslag heeltemal verdwyn. My aanvanklike gedagte wat ek in ’n vorige bydrae gedeel het, naamlik dat ons ’n tuiste vir die jeug moet skep binne ons kring, dat hulle gemaklik moet voel binne die kerkfamilie en programme, lyk ook nie of dit altyd werk nie.

Voor die verdrietigheid my totaal en al oorweldig het, het ek gewonder of ons ons aanslag nie heeltemal moet verander nie. Hierin gee iemand soos Kenda Dean, soos dikwels in die onlangse verlede, vir my ’n bietjie hoop. Sy skryf dat dit waar is dat jongmense nie meer in die kerke te vind is nie. Sy gaan verder deur te sê dat hulle eintlik in wese vir ’n lang tyd nie daar wás nie, al het ons hulle daar raakgeloop. Hul harte was nie daar nie. Dit beteken nie dat hulle geen behoefte aan ’n geestelike lewe het nie.

Ons praat al ’n geruime tyd in die Kerk van ’n koninkryksbenadering en nie noodwendig ’n kerklike of gemeentelike benadering nie. Ons uitgangspunt behoort eerder te  wees: Wat sou sinvol wees vir die uitbreiding van die koninkryk en nie noodwendig net die instandhouding van die gemeente nie?

Hierdie teorie het onlangs grondgevat in my eie bedieningswêreld. Ons gemeenskap het oor die laaste klompie jare ingrypend verander. Daar het letterlik honderde behoeftiges hier ingetrek. Laekostebehuising wat soos paddastoele verrys het, het ’n trekpleister geword vir baie haweloses. Daar moes dringend planne gemaak word vanuit die gemeenskap om kos, klere en ander aardse middele bymekaar te maak en te versprei. Ons moes geestelike leiers, beraders en ander betrek om emosionele, spirituele en maatskaplike sake te help bestuur. Ons het gou agtergekom dat ’n beduidende persentasie van die mense in ons omgewing en selfs verder hiervandaan, nie oor Bybels beskik nie.

’n Klein motorfietsgroep, Bybel Bikers, is op die been gebring met die uitsluitlike doel om in hierdie behoefte te voorsien. Die merkwaardige was dat enkele jongmense wie se name op die kerkregister verskyn, maar wat nie noodwendig êrens leiding neem nie, na vore getree het en betrokke geraak het by hierdie aksie. Die beplanning is nou om kwartaalliks rond te ry en Bybels te versprei.

Wat merkwaardig is, is dat dienswerk en betrokkenheid by geestelike aksies so spontaan kan gebeur wanneer ons die jongmense se wêreld betree, in plaas daarvan dat ons ’n wêreld waar hulle nie tuis of gemaklik is nie, probeer buig en skaaf om hulle nader te lok. Diens buite die kerkgebou, ’n geestelike lewe in die gemeenskap, ’n spirituele ontdekkingsreis sonder ’n lywige en teologies-korrekte preek, is skynbaar heel haalbaar. Dit kan die moeite loon om die jongmense se plekke te soek en te vind, en die Here se genade en liefde, met hul samewerking, daar te vestig. Die geleenthede hiertoe is legio. Ons moet maar net die moeite doen om dit te soek.

af
af
Deel met behulp van
Copy link