Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Is dit nie vreemd hoe die mooi dinge in die lewe soms juis die dinge word wat ons die seerste maak nie. Neem byvoorbeeld die liefde tussen twee jongmense. Wanneer jongmense verlief raak is dit vir hulle een van die mees avontuurlikste, opwindendste, en opbouendste dinge in hulle die lewe. Maar as die verhouding skeefloop, is dit vir daardie twee jongmense van die afbrekendste en selfs vernietigende tye. Dit is altans hoe dit soms ervaar word. Dieselfde geld vir byvoorbeeld vuur en water. Hoe heerlik is dit nie om in die aand iewers in die veld na die vlamme van die kampvuur te staar, of langs ‘n stil rivier te sit en te ontspan nie. Maar daardie selfde vuur en water kan, as dit buite beheer raak, geweldige skade aanrig.
In ons gedeelte van vanoggend word in wese presies dieselfde van God se liefde gesê. Aan die een kant kan die ontvangs van God se liefde jou lewe sinvol maak. Dit kan, volgens Hebreërs 6:7, soos water op jou lewe val, en gewasse na vore bring wat God kan gebruik. Dit kan, volgens Hebreërs 6:10-12, maak dat ons ander dien, dat ons volhou, al is die omstandighede hoe moeilik.
Maar, God se liefde kan, aan die anderkant, ook lewensgevaarlik wees. Ons kan God se liefde ontvang, sê Hebreërs 6:4-6, die ewige lewe ontvang, die Heilige Gees ontvang, vir ‘n tyd daaruit leef, maar dan ophou om te volhard en dan tog afvallig raak. Om verskeie redes. Dan, sê die skrywer van Hebreërs, het God se liefde gevaarlik geword. ‘n Liefde wat mense net wil geniet, net wil ontvang, maar nie daarvolgens wil gaan lewe nie. Dan kla God se liefde jou aan, dan verlos dit nie meer nie. Want dan sus God se liefde jou, dit gee jou ‘n valse sekerheid, dit laat jou eintlik afgestomp raak, en word God se liefde, in die woorde van die Hebreërskrywer, so gevaarlik dat dit amper nie moontlik is om weer tot bekering te kom nie.
Hoe is dit moontlik dat God se liefde gevaarlik kan wees? Kom ek verduidelik: daar is mense wat maar net elke keer weer wil hoor en hoor wat God se wil is (vers 1-2), dat jy moet wegdraai van die sonde, dat jy in God moet glo, hoe jy opgeneem word in die huisgesin van God deur die doop, dat jy jouself telkens weer moet bekeer, en dit wat in die lewe hierna gaan gebeur. Dit is al wat hulle wil hoor, dit wat God se liefde is en wat dit alles beteken. Maar hulle wil net daarvan hoor. Dit mag net nie ‘n effek op hulle hê nie, ook mag dit net nie iets van hulle terugvra nie. Dan, broers en susters, word God se liefde baie gevaarlik.
Presies so was dit in die gemeente van die Hebreërbrief. Daar is dinge waarna sommige gemeentelede graag geluister het, wat hulle later al soveel keer gehoor dat hulle eintlik nou al ander hieroor kon leer (Heb 5:12). Hulle was soos ‘n gebou wat elke keer net ‘n nuwe fondament kry, maar van die bou van mure was daar nie sprake nie, sê Hebreërs 6:1.
En tog: ten spyte van al die kennis wat hulle gehad het, het dit hulle lewens nie verander nie. Hulle het daar in die erediens gesit, baie dinge beleef, selfs beleef hoedat God met hulle praat deur die werk van die Heilige Gees, deur sy Woord, ja, selfs deur die dinge wat daar voor hulle oë gebeur het. Dit alles, se hulleself, was vir hulle soos hemelse geskenke (vers 4).
Maar ten spyte van dit alles gebeur die verskriklike: hierdie mense draai hulle rug op Christus. Hulle ontvang God se liefde, hoor oor en oor daarvan, maar dit het geen effek op hulle lewens nie. Want hulle hoor een ding, glo een ding, sien een ding in die erediens, maar gaan leef niks daarvan uit in hulle lewens nie. ‘In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot ’n bespotting’, sê vers 6.
Hierdie gedeelte, broers en susters, wil ons waarsku teen die verskriklike gevaar van godsdiens speel. Van om die goeie van God te geniet, maar terselfdertyd Christus te verwerp. Wanneer jy dit doen, wil die gedeelte duidelik sê, verwerp jy die enigste offer wat jou sondes kon wegneem. Dan is daar geen verlossing vir jou sondes nie, en daarom dan ook dat God ophou om die vernuwingswerk wat op bekering uitloop, stop te sit in so iemand se lewe. Of, soos vers 6 sê: wanneer dit gebeur, word dit onmoontlik om iemand weer te vernuwe sodat hulle tot bekering kan kom.
Is dit moontlik, broers en susters? Is dit moontlik dat ‘n kind wat al sy ouers se liefde en aandag kry, tog sy ouers afskryf en niks met hulle te doen wil hê nie? Ja, dit is moontlik, en dit gebeur soms. Hoekom? Want dit gaan nie oor die vraag of dit moontlik of onmoontlik is nie, dit gaan oor die verskriklike werklikheid dat kinders hulle rûe op hulle ouers kan draai, en ons ons rug op God se liefde kan draai. Ons kan die keuse maak, al wil God nie hê dit moet so wees nie.
Met, broers en susters, en laat ons nie doekies omdraai nie, verskriklike gevolge. Hebreërs 10:26 en 29 sê dit duidelik: ‘Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie’, en ‘hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het?’
Om seker te maak dat ons hierdie vermaning, hierdie harde woorde, reg moet verstaan, gebruik die skrywer van Hebreërs ‘n beeld uit die natuur. Grond wat gereeld deur God se genade reën ontvang, dra nie alleen vrugte voort nie, nee, dit kan op die ou-end ook dorings en dissels (onbruikbare gewasse) oplewer. Al het dit genoeg reën gekry, al het ons genoeg liefde van God ontvang. Al wat oorbly vir so ‘n boer is om die grond te brand om te kyk of hy van die onkruid ontslae kan raak (vers 7-9).
God se liefde, broers en susters, kan gevaarlik wees. Laat ons daaroor geen illusies hê as ons hierdie waarskuwing hoor nie. Die vraag vanoggend is: is ons nie ook besig om soms met God se genade, liefde en sorg te speel nie? Is ons nie soms besig om die goeie van God te geniet, maar terselfdertyd besig om Christus in ons lewens te verwerp nie?
Vir solank u en ek met hierdie speletjie besig is, broers en susters, wil die Woord van die Here ons waarsku dat dit ‘n gevaarlike speletjie is waarmee ons meer as net ons vingers gaan verbrand. Ons kan ook God se liefde verbrand.
Maar gelukkig wil die Woord van die Here nie net waarsku nie, broers en susters, maar ons ook aanspoor. Want God se liefde en sorg is nie net gevaarlik nie, dit kan ook mense se lewens mooi en sinvol maak.
Om weer by die natuurbeeld van die skrywer aan te sluit: ons lewe word ook met ‘n stuk grond vergelyk wat gereeld reën gekry het, en bruikbare gewasse voortgebring het vir dié wat dit bewerk het. Met ander woorde, die grond het vir ander iets beteken.
Of anders gesê: God se liefde en sorg vir my word iets moois wanneer my lewe nie meer op myself gerig is nie, maar op ander. Wanneer my lewe vir die wat saam met my lewe, iets begin beteken. Soos diegene in die gemeente van die Hebreërs van wie ons in vers 10 gelees het: hulle het hulle liefde vir God gewys het deur ander te dien en nog steeds te dien.
Ons doen dit egter nie altyd nie, broers en susters. Laat ons maar eerlik wees. So dikwels lewe ons eintlik maar net vir onsself, en nie vir ander nie. Hoekom is dit so? Victor Frankl het op ‘n keer gesê dat een van die gevaarlikste fases van die konsentrasiekamplewe was die emosionele afstomping wat ‘n mens daar beleef het. Om te oorleef, kon ‘n mens net nie bekostig om betrokke te raak by ander se nood en seer nie. Want jou eie was reeds te veel om te dra. Lewe ons nie soms ook maar net so nie, broers en susters?
Ek sluit af: wat is die verskil wat God se liefde aan jou lewe maak? Maak jy ‘n verskil in ander se lewe, of het God se liefde vir jou eintlik gevaarlik geword? Soos God op alle grond reën laat val, gee Hy sy liefde aan al sy kinders. En soos grond goeie en slegte gewasse voortbring, so bring God se kinders ook goeie en minder goeie gewasse voort.
Daar is altyd daardie moontlikheid. Al ontvang almal God se liefde. God se vraag is: wat maak ons met die liefde wat Hy vir ons gee? Word sy liefde wederliefde, of word sy liefde gevaarlik?
God se liefde maak ‘n verskil aan mense wat dit regtig aanneem, en op hulle beurt maak hulle weer ‘n verskil. Is dit waar van jou lewe?
Amen