’n Groepie kinders het ’n ouetehuis besoek, en aan die einde van die besoek wou een van die inwoners weet of hulle enige vrae het. Ja, het ’n dogtertjie geantwoord, Hoe oud is oom? 98, het die oom trots geantwoord. Duidelik beïndruk het die dogtertjie gevra: Het oom by een begin?

Om ouer te word, is iets wat niemand van ons verwelkom nie, maar ook iets wat niemand van ons kan systap nie. Daarom moet ’n mens ’n manier vind om jou jare wat aanstap te verwelkom met ’n positiewe gedagteraamwerk.

Eintlik is die hele geheim van om met grasie oud te word, eenvoudig net om die hele oudwordproses te geniet.

Eleanor Roosevelt het die volgende gesê: Beautiful young people are accidents of nature, but beautiful old people are works of art.

Daar is bewys dat in vroeëre samelewings waar mense nie kon lees nie, dat mense se oorlewing afhanklik was van die kennis van die oudste lede van die gemeenskap. Selfs die verskillende boeke van die Bybel is ook dikwels samestellings van verskillende verhale wat oor tyd mondelings deur geslagte na die volgende geslagte oorgedra is.

Soos ons ouer word, besef ons die voorreg wat ons gehad het om ons lewe tot dusver uit God se genade te kon leef, sy liefde vir ons en dat Hy Immanuel is – God met ons. Daarom is oudword ’n geleentheid om ook hierdie geloofskennis van geslag tot geslag oor te dra en God daardeur te loof en prys!

Skertsend word gesê dat soos ’n mens ouer word, word jy al ryker. Jy het silwer in jou hare; goud in jou tande; stene in die niere; staal in die gewrigte; en lood in jou skoene! Maar terselfdertyd baie wysheid in die kop.

Het jy al ooit gewonder hoekom regters en presidente ouer is as 40? Die rede is dat namate ’n mens ouer word, ontwikkel jy ’n wyer perspektief op sake. Daar is gevind dat wanneer persone ouer as 60 gekonfronteer word met probleemstellings, kan hulle ’n wyer verskeidenheid oplossings vir die probleem bied as wat jongeres kan.

Skanderings het getoon dat jongmense net een deel van hul brein gebruik as hulle ’n taak moet verrig, terwyl ouer persone albei dele van hul brein inspan om ’n probleem op te los. Dit beteken soos ons ouer word, raak ons meer vaardig om te redeneer en om probleme op te los. Studies wys dat namate ons ouer raak, is ons ook meer geneig om te fokus op die positiewe in plaas van die negatiewe.

Emosioneel is ’n mens ook baie meer stabiel. ’n Mens se brein hou aan groei, veral as jy hom stimuleer deur nuwe dinge aan te leer, en jy is dan geneig om beter te prioritiseer en te fokus op dit wat werklik belangrik is.

Hulle sê om ouer te word, is nie vir sissies nie, maar dit hou wel ’n legio voordele in waarna ons kan uitsien en waaroor ons bly kan wees.

Eintlik wil ek net aan ons ouer wordende geslag sê: Julle is belangrik! Julle het so baie om ander te leer en praktiese ervaring om te deel. Julle kan jongeres help om belangrike beginsels in hul lewens toe te pas, soos selfrespek, selfdissipline en eiewaarde. Julle weet van dinge wat ons nooit sou geraai het nie.

Julle weet hoe om ons te help om teleurstelling, siekte en hartseer te verwerk. Julle weet hoe belangrik ’n sin vir humor is, en julle weet hoe om tyd te maak om lief te hê. Hierdie is net ’n dankie vir die onmisbare rol wat julle in ons lewens speel! Dankie vir die geestelike opvoeding wat ons by julle kon leer. Dankie vir jul geloof in God en die praktiese uitleef daarvan in ons lewens. Julle is ons helde van gister én vandag!