Die Departement Ou Testamentiese en Hebreeuse Literatuur, in die Fakulteit Teologie en Religie aan die Universiteit van Pretoria, het van 11 tot 13 Mei vanjaar ’n internasionale virtuele Qumran-konferensie gehou. Die tema van die konferensie was The Origin of the Sectarian Movement in the Dead Sea Scrolls. Dit is ’n veelbesproke onderwerp wat tot ’n lewendige gesprek gelei het.

Prof John J Collins, die Holmes-professor aan die Yale Divinity School, wat aangestel is as ereprofessor aan die Universiteit van Pretoria, was saam met prof Ananda Geyser-Fouche medegasheer van die konferensie. Prof Collins is ’n wêreldbekende Qumran-geleerde en sy navorsing fokus veral op apokaliptiese literatuur en Ou Testamentiese kritiek.

Die konferensie was ’n uitstekende geleentheid vir internasionalisering. Meer as honderd persone het die konferensie virtueel bygewoon. Gesiene internasionale geleerdes het deelgeneem, onder andere proff Esther Chazon, Charlotte Hempel en Timothy Lim. Daar was ook deelnemers uit die VSA, die Verenigde Koninkryk, Switserland, Israel, Malta, Nederland en Australië, wat spesialiste in die Rolle, in Tweede Tempel-Judaïsme en literatuur, maar ook in argeologie en kuratorskap ingesluit het. Nasionale geleerdes van die Universiteit van die Vrystaat, die Universiteit van Noordwes en die Universiteit van Pretoria het ook deelgeneem.

18 referate is gelewer en die reaksie was verstommend. Die hooffokus was op die oorsprong van die sektariese beweging in die Dooie See-rolle. Ek sal kortliks vertel wat die nuutste navorsing behels, asook vorige navorsing wat weerlê is. Die skakel na die opnames word onderaan die artikel gelys vir diegene wat graag daarna wil luister.

’n Belangrike vonds

Die bekende argeoloog William Albright het in 1948 ná die ontdekking van die Dooie See-rolle in Israel in 1947 gesê dat die ontdekking van die Dooie See-rolle die belangrikste argeologiese vonds in ons tyd was. Meer as 900 manuskripte (insluitend variante van dieselfde dokument en vele fragmente) met betrekking tot 445 verskillende literêre komposisies is gevind, waarvan die meeste in Hebreeus en sommige in Aramees en Grieks is. Dit is tussen 1947 en 1956 in 11 grotte naby Qumran ontdek. Die meeste manuskripte is afkomstig van Grot 4. Behalwe die boek Ester, is daar ten minste een eksemplaar van elk van die boeke van die tradisionele Hebreeuse kanon onder hierdie manuskripte gevind. Die boekrolle bevat godsdienstige manifeste, handleidings van Joodse reëls, voorskrifte vir die gemeenskap en Bybelse eksegetiese geskrifte.

Qumran-studies dra geweldig by tot insig in die vroeë Judaïsme met inligting oor onder andere die verskillende sektes wat in Israel bestaan het, ook in die tyd van Jesus, aangesien daar baie verwysings is na die Fariseërs, Sadduseërs, Esseners en Sadokiete. Die Dooie See-rolle dra by tot ons begrip van die kanonieke en deuterokanonieke Evangelies, asook aanhalings uit die Hebreeuse geskrifte in die Nuwe Testament, waarvan sommige voorheen onverklaarbaar was.

Die eerste 50 jaar van Qumran-studies is oorheers deur ’n konsensus dat die beweging wat in die Damaskus-dokument en die Gemeenskapsrol beskryf word, sy oorsprong het in ’n geskil oor die Hoëpriesterskap in die middel van die tweede eeu vC; dat die beweging gelei is deur hul stigter, die Leraar van Geregtigheid, en dat hulle in die omgewing (khirbet-Qumran) naby die grotte gaan woon het. Aanvanklik is geglo dat khirbet-Qumran die belangrikste (indien nie die enigste nie) nedersetting van die Esseners was, en omstreeks 150-135 vC gestig is. Gedurende die afgelope twee dekades het hierdie konsensus verbrokkel, veral sedert 4QMMT bekend geword het. Geleerdes besef toenemend dat die vorming van die sektariese beweging ’n langer en ingewikkelder proses behels as wat vroeër besef is.

[Die geskiedenis van die navorsing op die boekrolle sowel as die geskiedenis oor die bekendmaking van die tekste is belangrik om die ontwikkeling van teorieë oor die oorsprong van die sektariese beweging en die paradigmaverskuiwing(s) wat plaasgevind het met die publikasie en bekendmaking van tekste te begryp. soos die Tempelrol en 4QMMT. Ongelukkig is dit nie moontlik om hierdie aspek hier te bespreek nie. Die volgende bronne kan genader word om meer daaroor te wete te kom: James C VanderKam en Peter W Flint, The Dead Sea Scrolls after Fifty Years, Volume 1 (Leiden: Brill, 1998); Weston W. Fields, The Dead Sea Scrolls. A Full History (Leiden: Brill, 2009); John J Collins, The Dead Sea Scrolls. A Biography (Princeton: Princeton University Press, 2013).]

Gebrek aan konsensus

Die debat oor die moontlike oorsprong, die rede, sowel as die aard van die sektariese beweging van die Dooie See-rolle, hang van enkele sleutelaspekte af. Van die hoofonderwerpe is: die Leraar van Geregtigheid, die “Wicked Priest”, die moontlike skeuring, die sosiohistoriese konteks, en die sektariese beweging.

Die voormalige konsensus het in onsekerhede verander, tot so ’n mate dat sommige geleerdes verkies het om na albei sobriquets (Leraar van Geregtigheid en “Wicked” Priester) as literêre stereotipes te verwys; tóg wil dit lyk asof daar wel so ’n historiese figuur was soos die Leraar van Geregtigheid. Oor die bose priester is daar nog minder konsensus. Sommige geleerdes dink dat dit kan verwys na Johannes Hirkanus, terwyl ander dink dit is meer as een priester. Enige identifisering van die “Wicked Priest” bly voorlopig, en hierdie debat sal voortgaan met vrae oor wie die bose priester was; of daar net een was; of daar ’n opvolging van bose priesters was; en of dit dalk ’n versamelnaam vir die Hasmonese priesters was. Die tydperk waarin hierdie priester opgetree het, hang af van die ingewikkelde datering van tekste sowel as van gemeenskappe.

Aanvanklik is geglo dat die beweging ontstaan het uit ’n dispuut oor die opvolging van die Hoëpriesters toe ’n groep hulself van die res van die Judaïsme geskei het. Hierdie konsensus was gebaseer op die rusie tussen die Leraar van Geregtigheid en die “Wicked Priest” soos dit in die pesharim (Bybelse kommentare) beskryf word. Ondanks die debat oor die aanvanklike skeiding van die beweging en die Judaïsme, is daar ook bespiegelinge oor ’n moontlike “skeuring” binne die beweging. Daar is egter nie veel tekstuele bewyse van ’n skeuring nie. Dat die gemeenskap geleidelik en oor ’n tydperk ontstaan het, wat ’n aantal wegbrekings en/of skeurings kon behels, is ’n groot waarskynlikheid.

Die probleme in die debat oor die beweging hou verband met die uitdaging om ’n enkele gemeenskap, ’n enkele sekte of ’n enkele beweging te identifiseer. Dit behels vrae soos: Wat was die oorsprong van die beweging? Hoe hou hierdie beweging verband met die yaḥad (gemeenskap van die Gemeenskapsrol), met khirbet-Qumran, en met die tekste wat in die grotte gevind is?

Die Dooie See-rolle beskryf verskillende soorte gemeenskappe. Die Damaskus-dokument praat van mense wat “in kampe” oral in die land woon, trou en kinders kry. Die Gemeenskapsrol verwys daarenteen glad nie na vroue of kinders nie, wel na klein gemeenskappe met ’n kworum van tien, as deel van die yaḥad. Dit verwys ook enigmaties na 12 mans en drie priesters wat veronderstel is om die woestyn in te gaan om die weg van die Here voor te berei. Dit is moontlik, maar nie seker nie, dat dit die stigters van die Qumran-nedersetting was. Khirbet-Qumran was sekerlik ’n sektariese nedersetting in die Romeinse tyd.

Die sosiohistoriese aspek behels ’n magdom fasette, waarvan argeologie een is. Vroeëre navorsing het baie op die werk van Roland de Vaux gesteun, maar dit blyk dat hy die argeologiese bewyse geplooi het om te pas binne die historiese raamwerk wat uit vroeëre konsensus geskep is. Ander aspekte wat van belang is, is die vraag na die ontwikkeling in die tekste, ideologieë, kollektiewe geheue; die tipe genres wat in die tekste voorkom; asook hoeveel invloed sekere sektes gehad het. Die vraag na watter tekste as sektaries beskou kan word en watter nie, asook die effektiwiteit van ’n term soos “sektaries” om die beweging(s) waarna daar in die tekste verwys word te beskryf, is ook relevant.

Die kongres is saamgevat deur prof John Collins. Hy het genoem dat dit tyd geword het om oor alle tekste van en hipoteses oor Qumran te herbesin. Dit wat die meeste bevraagteken word, is die datering asook die mate waartoe hierdie gemeenskap in afsondering gelewe het. Dit het duidelik geword dat hierdie tekste problematies is in historiese navorsing omdat dit so sterk steun op Bybelse stereotipes en simboliese taal.

Dit wil voorkom asof daar nie ’n waterskeidingsmoment was wat die ontstaan van die gemeenskap kenmerk nie, maar dat dit ’n geleidelike beweging was met ’n aantal waterskeidingsmomente. Dit is duidelik dat die Dooie See-rolle nie net Qumran-geskrifte was nie, maar dat dit ’n baie wyer beweging was wat ontwikkel het, met sekere beslissende hoogtepunte. Die aankoms van die Leraar van Geregtigheid het iewers ’n rol gespeel – net so ook die nuwe verbond in die Damaskus-dokument en die formasie van die yaḥad (gemeenskap van die Gemeenskapsrol). Die gebeure dui nie noodwendig op ’n interne skeuring nie, maar moontlik eerder op ’n ontwikkeling. Die verskeie tekste wat in die grotte naby khirbet-Qumran gevind is, dui ook op ’n moontlike relevansie vir ander vorme van Judaïsme van daardie tyd.

Die opnames kan hier geluister word.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)