Ignatius WC van Wyk
Martin Luther: ’n Inleiding tot sy lewe, denke en geskrifte
HTS Teologiese Studies/Theological Studies Supplement 13
Aosis, Kaapstad
2019
In 2018 tree Natie van Wyk af as professor in Sistematiese Teologie. Hy kon terugkyk op ’n lewe van toegewyde studie en onderrig in die tradisie van Christelike denke. Maar elke einde is ook ’n begin. Hy het toe nie afgestudeer geraak nie. Na sy verpligte aftrede op 65 meld hy toe aan as navorsingsgenoot van die Departement Historiese en Sistematiese Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria. In plaas van uitspan, bly hy aan die gang om die waarheid te peil wat in hierdie tradisie opgesluit lê. Hy doen dit deur die lewe, denke en geskrifte van een van die mees boeiende van histories opvallende figure van die Christendom, Martin Luther (1483-1546), te ondersoek. Boeiend oor wat die Here aan ’n mensekind doen.
In ’n lekker stewige boek van oor die 300 bladsye, wat hy aan sy vrou, Neltjie, opdra, stel hy Luther voor as mens, teoloog en skrywer. “Voorstel” is die regte woord, want hierdie werk is die omvattendste nog om Luther voor die Afrikaanse gees te roep. Dit is geen kleinigheidjie om so ’n taak af te handel nie. Gebaseer op onlangse navorsing, bring hy dit wat deur die loop van die geskiedenis vreemd geraak het, weer onder ons in om dit tot ons eie te maak.
Hy skryf die boek as handboek vir fynproewers op die gebied van Kerkgeskiedenis en Dogmatiek, en ook vir predikante en studente. En waarom sal die boek nie ook lesers onder ander dopelinge kan kry nie? Luther het immers self gesê dat elke Christen ’n teoloog is en so deel in die ervaring van die wysheid wat die evangelie bring. Om te verhoed dat geloof ’n beweging word wat op eie stoom hardloop, word geloof tog vir almal bepaal deur die inhoud van wat geglo word. Daarby is die boek maklik leesbaar en ten spyte van die gewigtige sake wat behandel word, buitengewoon toeganklik geskryf, in dié mate dat hierdie akker gerus deurgeploeg kan word, soos Luther sou sê.

Luther se familienaam was oorspronklik Luder, maar soos wat sy vrymoedigheid in die teologie toegeneem het, verander hy sy van na “Luther”, wat hy aflei van die Grieks-Latynse woord wat met vryheid verband hou. Hy het die Christelike vryheid ontdek, en dit hou in dat die evangelie telkens in volgehoue kritiese gesprek benader moet word. Hy voel reeds vroeg in sy loopbaan vry om die Kerk aan te vat oor wat hy as ’n misleide teologiese uitkyk beskou.
Maar met “Luther” was die saak nog nie beredder nie, want, soos hy self sou ondervind, is niks so moeilik nie, veral wanneer jy self so ’n gesoute sondaar is, as om agter te kom waarvoor die kerk instaan en waarvan die kerk deel uitmaak. Na intense studie van die Pauliniese briewe daag dit by Luther op dat die lewe van ’n mens verloop aan die hand van die oordeel en genade van God wat Hom in Jesus Christus openbaar. Luther het dus nie angs vir God se oordeel oorkom deur dit uit sy denke te druk nie, maar het ingesien dat terwyl God die God van die oordeel bly, Hy genade betoon aan die gelowige (p 81). Oordeel en genade val saam wanneer God se handeling aan Jesus Christus aan die kruis gevolg word. Die gelowige word die deur oordeel verootmoedigde begenadigde. Om dit te verstaan, is meer ’n saak van die hart as van die verstand. Daarom stel Luther dat teologie nie soseer wetenskap (scientia) is nie, maar eerder wysheid (sapientia) (p 114). Dat ’n mens begin om die deure van die hart hiervoor oop te maak, is die geheim van God se openbaring.
(Dr Piet Boshoff is ’n emerituspredikant van die Kerk)