Dit is die maand Oktober, die mooiste mooiste maand, het C Louis Leipoldt uitgeroep. Ja – dit is Oktober en die moontlikheid van ’n nuwe begin wink weer vir ons.
Dis eintlik merkwaardig – ten spyte van ons ervaring van ’n tweede Covid-jaar, het tyd nie stilgestaan nie en seisoene hou aan draai, al voel dit dalk vir ons asof die aarde stilstaan. Vir my is die draai van seisoene die absolute verwesenliking van die teenstrydigheid van tyd, wat sowel ’n troos as ’n bedreiging is. Die feit dat niks stilstaan nie, is ’n troos omdat dit wat hinder, en uitdaag en seermaak, nie vir altyd duur nie. Maar dit beteken dat dit wat opgewonde maak en blydskap meebring ook nie vir altyd aanhou nie. Dit is die hartklop van menslike lewe.
Die Oktober wat nou gaan aanbreek, is vir my een van kontraste, maar uiteraard ook een van moontlikhede. Dit is vir my opvallend dat ek skielik bewus is dat Oktober – nuwe groen lewe – met Hervormingsmaand saamval. Soms leef ’n mens mos jare met iets saam, onbewus, en skielik “kliek” dit. Die saamval van “groen” en “hervorming” is uiteraard iets wat vir ons hier in die Suidelike Halfrond beskore is. Die historiese Reformasie wat in die Noordelike Halfrond plaasgevind het, se seisoene sien anders daar uit, en miskien was die komende herfs en winter vir die gelowiges van hul tyd ’n aanduiding dat verandering met ’n bietjie ongemak gepaard gaan. Ons wat onsself in die Reformatoriese tradisie bevind, kan egter hier in die Suidelike Halfrond in die mooiste, mooiste maand nadink oor wat nuwe lewe – groen lewe – vir ons as ’n geloofsgemeenskap beteken.
In Augustus hierdie jaar is die sesde verslag van die Tussenregeringspaneel oor Klimaatsverandering (IPCC – Intergovernmental Panel on Climate Change) gepubliseer. Die vorige verslae het waarskuwings uitgereik oor die toenemende gevaar dat aardverwarming nie omgekeer kan word nie. Die nuutste verslag stel aardverwarming as ’n voldonge feit en dat die uitdaging gaan wees om dit tot 1,5 °C of 2 °C te beperk. Wat beteken dit vir geloofsgemeenskappe?
Twee jaar gelede is ek genooi om aan te sluit by ’n navorsingsprogram, gesetel by Humboldt Universiteit in Berlyn, wat fokus op die verband tussen religie (geloofsgemeenskappe) en volhoubare ontwikkeling. Een van die kernaspekte van die navorsing is die wyse waarop geloofsgemeenskappe as agente kan dien, met ander woorde kan meewerk, aan die Verenigde Nasies (VN) se doelwitte ten opsigte van die volhoubare ontwikkelingsprogram (sustainable development goals). Binne die groter netwerk, fokus ek op twee van die 17 doelwitte, naamlik nommer 5 (gendergelykheid) en nommer 13 (klimaataksie). Binne twee jaar het ’n gans ander wêreld vir my oopgegaan: Ek het met ’n reuse-aantal geloofsgemeenskappe, interreligieuse nie-regeringsorganisasies en ander rolspelers oral in Afrika en die wêreld kennis gemaak wat almal hard probeer om die effek van ’n skeefgetrekte skeppingsteologie (aan die een kant) en menslike hubris (aan die ander kant) wat gekulmineer het in ’n klimaatskrisis, te beveg.
Uiteraard is daar heelwat kritiek teen die VN se groter volhoubaarheidsprojek. Vir baie wat aan die ontvangkant is van die magswanbalanse wat die klimaatskrisis veroorsaak het, is dit ’n futiele poging om die ekonomiese hiërargie tussen die Noordelike en Suidelike Halfrond uit te wis. Die hele idee van “ontwikkeling” loop ook soms onder fel kritiek deur, omdat dit ’n tipe Westerse progressiewe industriële karakter het wat mense as instrumente inspan. Dit is veral geloofsgemeenskappe wat hierdie kritiek lewer, en met goeie rede, want hulle sien watter effek droogte en vloede het op diegene wat dit die minste kan bekostig.
En dit is die goue draad van wat ons in die groter navorsingsprojek probeer bereik: om geloofsgemeenskappe te mobiliseer met verantwoordelike teologie en hulle in kontak met mekaar en nie-regeringsorganisies te bring sodat hulle die hulpbronne het om verandering – ’n eko-etiek – te verwesenlik. In ’n groot deel van die Noordelike Halfrond praat mense lang praatjies oor sekularisering en hoe geloof – veral die Christelike religie – kwyn. Hier aan die suidpunt van Afrika is dit nie ons krisis nie. In ons leefwêreld is geloof en godsdiens ’n manier om die werklikheid rondom ons te verstaan. Dit is ingebed in ons kultuur (wat natuurlik ook krities beskou moet word).
My ervaring met my studente en binne my samewerking met my Duitse kollegas wat oral in Afrika ’n netwerk van kollegas het, is dat godsdienstige leiers opmerklik baie invloed het, en dat groot dele van die bevolking bestaan uit mense wat hulself as religieus of godsdienstig beskou. As jy dus die een of ander verandering wil bewerkstellig, is dit in ons geval logies om eerste geloofsgemeenskappe te nader, te mobiliseer en toe te rus met hulpbronne. Ek dink byvoorbeeld aan die Green Anglicans-Movement wat plaaslik ook die Environmental Network of the Anglican Church of Southern Africa insluit. Hulle organiseer talle gemeenskapsprojekte, en fokus daarop om geloofsgemeenskappe ook oor die omgewing te onderrig – hul webwerf het fantastiese hulpbronne, maar uiteraard doen hulle baie gemeenskapswerk. ’n Ander voorbeeld van goeie werk wat gedoen word, is ’n interreligieuse organisasie (wat die NG Kerk byvoorbeeld insluit), naamlik SAFCEI (Southern African Faith Communities’ Environment Institute).
Dit is die teoloog Jürgen Moltmann wat my geleer het dat hoop ’n werkwoord is. Meer as ooit tevore is dit vir ons nodig om ’n groen etiek gestalte te gee. Te midde van die draai van seisoene en ’n hernude kans op ’n nuwe begin, is ’n groen etiek deel van ’n onvoltooide reformasie – en herwinning is deel van ’n Christelike leefwyse. Miskien is daar reeds gemeentes in die Kerk wat hieraan meewerk, en dit sal wonderlik wees om daarvan te hoor.
Ons Kerk se lidmate is nie gespaar van die effek van ’n klimaatskrisis nie, en daarom is dit ook ons Kerk se evangeliese plig om maniere te vind om die skade van ’n verdraaide skeppingsteologie teen te werk. Hoe kan ons hoop verrig en ons gemeenskappe mobiliseer en toerus in hierdie verband? Ons kan nie langer hieroor stilbly nie en ook nie ons reformasietaak in hierdie sin versaak nie. Laat hierdie Oktober ook vir ons ’n nuwe begin wees.
(Dr Tanya van Wyk is senior lektor in Sistematiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria)
