Elke jaar vier ons op die laaste Sondag van Oktober Hervormingsfees. Dan draai ons die horlosie terug na die 15de eeu, terug na dit wat Martin Luther gedoen het om die Hervorming se bal aan die rol te sit.
Op 31 Oktober 1517 gaan hamer Martin Luther 95 stellings vas teen die deur van die Kerk in Wittenberg. Alles wat Luther van die Kerk van daardie tyd ontstel het, was in daardie 95 stellings.
Hy was ontsteld omdat dit wat hy in die boek Romeine oor verlossing gelees het, en dit wat die Kerk besig was om te verkondig, nie ooreengekom het nie. Luther het gesien dat die Kerk besig was om mense in te doen en om valse leer aan hulle te verkondig. Die Kerk het onder andere die aflaatstelsel toegepas waar mense ingelig is dat hulle hul sonde kan wegkoop. En die mense van daardie tyd het dit wat die Kerk hulle geleer het geglo, want hulle het nie toegang gehad tot die Bybel in hul moedertaal nie.
Hierdie onwaarhede wat verkondig is, het Luther tot aksie laat oorgaan en tot gevolg gehad dat hy die 95 stellings teen die deur van Wittenberg se kerk gaan vashamer het.
Natuurlik was die Kerk nie ingenome daarmee dat Luther hulle ontbloot het en ’n aantal beskuldigings gemaak het nie. Hy is gevolglik aangekla, maar hy het homself verdedig en hulle aangesê om die Bybel te gebruik om te bewys of hy onwaarhede verkondig het, al dan nie. Volgens Luther het die outoriteit by die Bybel en nie by die pous of die Kerk gelê nie. Hy is egter steeds skuldig bevind en verban.
Die prins van Duitsland was Luther goedgesind, en Luther kon vir ’n aantal jare in die prins se kasteel skuil. Tydens sy verblyf daar het hy die Bybel in Duits vertaal en so bygedra tot die beskikbaarheid van die Bybel in sommige mense se moedertaal.
Sy aksies het die Reformasie aan die gang gesit. Latere jare het Johannes Calvyn na vore getree met sy bekende werk van 1535 met die sterk klem daarop dat ons as mense net uit genade gered is.
Hervorming roep ons op om terug te keer na die oorspronklike, geïnspireerde, bindende en voldoende tekste van die geloof, maar om ook aan te hou hervorm.
Uit die Hervorming het ons die boustene vir ons geloof gekry wat bekend staan as die Vyf Solas. Solas beteken alleen-waarhede, en dit is die boustene wat ons elke dag saam met ons dra:
- Sola Scriptura: Net die Bybel alleen. Die Reformasie het ons kom leer dat die Bybel daar is vir almal. Dit behoort nie net aan sekere heiliges nie, dit is aan elkeen geskenk.
- Solus Christus: Jesus alleen is ons enigste Redder. ’n Mens kan jou nie red nie; ons is alleen deur Christus gered: Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as ’n losprys vir almal gegee het. Dit was op die bestemde tyd die bewys van die bedoeling van God (1 Tim 2: 5-6, AFR1983).
- Sola Gratia: Genade alleen. Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het (Ef 1: 6, AFR1983).
- Sola Fide: Geloof alleen. Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God (Ef 2: 8, AFR1983).
- Sola Deo Gloria: Aan God al die eer. En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom (Kol 3: 17, AFR1983).
Luther se herontdekking van God se regverdiging het ’n enorme impak gehad in ’n tyd toe mense verteer is deur hul angs weens die oordele van God. Met die Reformasie kom daar ’n boodskap van vryspraak – ’n boodskap dat God ons vryspreek omdat ons glo.
As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered (Rom 10: 9-10, AFR1983).
Tydens die 500-jarige viering van die Reformasie is VONKK 341 deur ds Hannes van der Merwe geskryf. Ek wil graag hierdie bydrae oor die Hervorming met dié lied se woorde afsluit.
Sola Scriptura! God se Woord
is deur die Gees geïnspireer.
Geen mensewoord, geen kerkgesag
kan God se wil so aan ons leer.
Ons glo uit God se Woord
vloei God se redding voort.
Hy openbaar sy wil
en hoe ons dit vervul.
Sola Scriptura, net sy Woord.
Dis Sola Gratia, net alleen
genade wat ’n sondaar red.
Geen mens sal dit ooit kan verdien
deur onderhouding van die wet.
Hoe hard ons self probeer,
ons faal maar telkens weer.
Geen mens uit eie krag
kan redding ooit vermag –
net sy genade kan my red!
Sola Fide! Dis net geloof
waardeur ons redding kan verkry.
Niks wat ons doen, niks wat ons gee,
kan ons voor God regverdig maak.
Die Gees werk deur die Woord
en bring geloof so voort;
genade word ons deel,
gebrokenheid word heel;
dit deur geloof – Sola Fide!
Net Jesus Christus, Hy alleen
kan intree as ons Middelaar.
Net Hy alleen betaal die prys –
ons buig voor Hom, ons Voorspraak, neer.
Geen sonde wat ek doen,
sal Hy nie kan versoen.
Geen offer wat ek gee,
maak ooit sy liefde meer.
Net Solus Christus! Hy alleen!
Ons eer U, Vader, as ons God
wat deur die Woord in ons wil werk.
Ons prys u Naam, besing u Seun.
U Gees maak van ons God se kerk.
Soos wat die Woord ons leer,
besing ons keer op keer,
met eerbied en ontsag,
die grootheid van u mag.
Sing: Soli Deo Gloria!
(Dr Antionette Janse van Rensburg is ’n dosent by die Universiteit van Pretoria en predikant in Gemeente Montana)