Deel 1 het die historiese ontwikkeling van die wegraping kortliks bespreek. Hierdie verstaan van die eindtyd neem die tekste van die Bybel as ’n goddelike legkaart wat aanmekaargesit moet word. Verskeie tekste uit beide die Ou en Nuwe Testament word saamgevoeg om ’n nuwe prent te vorm.
’n Kernteks in dié verband is 1 Tessalonisense 4: 17 waar Paulus vir die gemeente skryf en sê dat ook dié wat nog nie gesterf het opgeneem sal word in die wolke en saam met die Here sal wees. In die Latynse vertaling word die woord rapiemur gebruik. Die probleem met die wegraping-lees van die teks is dat die fokus op ’n enkele vers geplaas word, terwyl ander belangrike terme geïgnoreer word. Soos wat menige Bybelwetenskaplikes al uitgewys het, dra enkele woorde in tekste, selfs ’n enkele vers, nie daarin self betekenis nie. Dit is die verhouding tussen woorde, sinne, paragrawe, en selfs boeke in die geheel wat betekenis aan woorde gee. Hierdie teks van 1 Tessalonisense moet ook so gelees en verstaan word.
1 Tessalonisense 4: 13-17: ’n Verskuiwing van fokus
1 Tessalonisense 4: 13-17 se fokus gaan nie soveel oor die wegneem van gelowiges na Jesus nie (ons kom later hierby), maar eerder oor ’n troosboodskap wat Paulus aan die gemeente geskryf het. Die gemeente in Tessalonika het geglo dat Christus se parousia (koms) sou plaasvind voordat enige van hul geslag sou sterf. Maar dit het nie gebeur nie, en sommige in die gemeente het toe gesterf voor die parousia. Hulle het toe vir Paulus gevra of hierdie mense ook saam hulle aan die parousia gaan deelneem, en Paulus verseker die gemeente dat dié wat nog lewe en dié wat gesterf het almal aan hierdie gebeurtenis sal deelneem. Dit is belangrik om na die terme wat in die teks gebruik word, te let.
1 Tessalonisense 4: 15-17 (AFR2020) lees (let op die vetgedrukte en onderstreepte woorde): Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here: Ons wat lewe, wat agtergebly het tot die koms (parousian) van die Here, sal beslis nie diegene wat gesterf het, voor wees nie. Want die Here self sal met ’n luide bevel, met die stem van ’n aartsengel, en met ’n trompetgeskal van God, uit die hemel afkom, en diegene wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat lewe en oorgebly het, saam met hulle in die wolke opgeneem word om die Here in die lug te ontmoet (apantēsin).
Die fokus vir hierdie gemeente sou nie op die wegraping van gelowiges gewees het nie, maar eerder op die koms (parousian) en ontmoeting (apantēsin) van Christus. So ’n besoek van ’n heerser aan ’n stad was ’n algemene praktyk in die antieke tyd, en daar sou spesifieke gebruike gewees het wat stede met so ’n besoek uitgevoer het. Die besoek is as die parousian van die heerser beskryf.
In 333 vC besluit Aleksander die Grote om Jerusalem te besoek. Die redes hiervoor is minder belangrik as hoe hierdie besoek deur die Judese skrywer Josephus beskryf word. Josephus vertel hoedat die hoëpriester Jaddus in vrees verkeer het oor die ontmoeting (apantēsei) wat sou plaasvind met die koms (parousia) van Aleksander. Maar in ’n droom vertel God vir Jaddus dat wanneer Aleksander kom, moet hulle die hekke oopmaak uitgaan en hom ontmoet (hypantēsin). Hierna het Jaddus met ’n geruste hart wakker geword en gewag vir die koms (parousian) van die koning. Toe die mense in Jerusalem hoor dat die koning naby is, vertel Josephus dat hulle uitgegaan het en die Aleksander ontmoet (hypantēsin) het. Alles het goed afgeloop tydens hierdie ontmoeting. Die nodige eer is aan Aleksander betoon, en (volgens Josephus) aan die hoëpriester. Daarna het almal, die koning en inwoners van Jerusalem, weer in die stad ingegaan.
As ons nou weer kyk na 1 Tessalonisense 4 sien ons hoe Paulus hierdie koninklike besoek as ’n model gebruik om Christus se koms na die gemeente in Tessalonika te beskryf. Christus se koms is ’n parousian wat sal plaasvind, soos wat Aleksander s’n was. Die inwoners van die stad sal, wanneer hulle die trompette hoor wat die koms van die Heerser aankondig, uit die stad uitgaan (opgeneem word) en Christus ontmoet (apantēsin) in die wolke. Net soos die inwoners van Jerusalem vir Aleksander ontmoet het. Alhoewel die derde element, naamlik terugkeer in die stad in saam die heersers, nie hier voorkom nie kan daar aangeneem word dat die hoorders in Tessalonika self hierdie afleiding sou gemaak het. ’n Parousia het nie ten doel gehad om die inwoners uit hulle stad te neem nie. Dit het gegaan oor die blywende teenwoordigheid van die heerser by die inwoners.
Slot
Die koms van Christus soos in 1 Tessalonisense 4:13-17 beskryf sou nie deur Paulus of enige van die gemeenskap in Tessalonika verstaan word as gelowiges wat weggeraap word nie. Dit sou nie ’n geval wees waar gelowiges opgeneem word na Christus en opwaarts bly beweeg die hemel in nie. Vir Paulus en die gemeente sou hierdie ’n oomblik gewees het waar die Heerser, Christus, na hulle gekom het. Hulle sou Christus buite die stad (in die wolke) ontmoet het, maar dan sou daar ’n terugkeer wees. Christus sou nou saam met die gelowiges terugkeer na die stad en saam met hulle in ’n veranderde wêreld geleef het. Christus sou by hierdie gelowiges wees om so die heerskappy van God ten volle te vestig.
Gevolglik kan ons nou ’n antwoord gee op die vraag waarmee die twee bydraes begin het: Die wegraping, soos voorgestel deur wegrapingprofete, kom nie in die Bybel voor nie. Hierdie was nooit die fokus of bedoeling van hierdie teks in 1 Tessalonisense of enige ander teks in die Ou of Nuwe Testament nie. Die koms van Christus gaan nie gepaard met vrees nie. Dit is ’n gebeurtenis van vreugde en feesviering. Dit is nie so sensasioneel soos wat wegrapingprofete dit uitmaak om te wees nie. Maar so ’n lees, is meer getrou aan ’n verantwoordelike en verantwoordbare lees van die Skrif. Dit is ’n lees wat lei tot troos, bemoediging en ’n oproep om te leef in die heerskappy van God.