Al ooit van die Stockdale Paradox gehoor? Dit word in ’n merkwaardige boek van Jim Collins, Good to Great, beskryf. Admiraal Jim Stockdale was die krygsgevangene met die hoogste rang in die Hanoi Hilton-krygsgevangenekamp gedurende die Viëtnamese oorlog.
Stockdale was vir agt jaar (1965-1973) ’n krygsgevangene sonder enige regte, geen vasgestelde datum vir vrylating of enige sekerheid dat hy ooit weer sy geliefdes sou sien nie. Gedurende hierdie agt jaar is hy meer as 20 keer gemartel. Ten spyte daarvan het hy op elke moontlike manier sy medekrygsgevangenes bemoedig en bemagtig. Tydens ’n onderhoud met Collins het hy die volgende gesê: I never doubted not only that I would get out, but also that I would prevail to the end and turn the experience into the defining event of my life, which, in retrospect, I would not trade.
Later gedurende die onderhoud het Collins vir Stockdale uitgevra oor watter krygsgevangenes dit nie oorleef het nie. Oh, that’s easy, the optimists. Hierdie uitspraak was vir Collins (en waarskynlik vir jou as leser) verwarrend. Pas tevore het hy verklaar dat hy heeltyd geglo het dat hy alles sou oorleef. Stockdale verduidelik toe dat die optimiste diegene was wat vas geglo het dat hulle Kersfees vrygelaat sou word. Wanneer Kersfees gekom en gegaan het, het hulle geglo hulle sal met Paasfees by die huis wees. Só het hulle elke jaar gehoop met die gepaardgaande teleurstelling – net om uiteindelik aan ’n gebroke hart te sterf.
Stockdale het die verwarring op Collins se gesig gesien en gesê dat daar ’n belangrike les hierin te leer is: You must never confuse faith that you will prevail in the end – which you can never afford to lose – with the discipline to confront the most brutal facts of your current reality, whatever they might be.
Die Stockdale-paradoks lê daarin dat jy geloof moet behou dat jy aan die einde sal seëvier én dat jy met die wrede werklikheid (brutal facts) van jou huidige situasie rekening sal hou.
Jeremia 28 en 29 handel oor Juda wat in Babel in ballingskap is. Hoofstuk 28 berig veral van ’n voortvarende profeet met die naam Gananja wat profeteer dat God oor twee jaar al die tempelvoorwerpe wat Nebukadnesar gebuit het, weer na Jerusalem sal laat terugkom. Jeremia ontmasker Gananja as vals profeet en kondig sy straf aan. Gananja sou nie die einde van die jaar lewend deursien nie – hy het in die sewende maand van daardie jaar gesterf.
Hoofstuk 29 vertel van Jeremia wat ’n brief laat aflewer het aan die leiers, die priesters en profete wat ballinge in Babel was. Die boodskap het die wrede werklikheid bevestig (vers 10): So sê die Here: Oor presies sewentig jaar sal Ek Babel straf en julle onder my sorg neem en dan sal Ek my belofte nakom om julle hier na Jerusalem toe terug te bring. Die brief waarsku ook teen vals profete in verse 8 tot 9: Moenie dat die profete en waarsêers daar by julle julle mislei nie. Moenie ag slaan op daardie drome wat julle so graag droom nie. Daardie mense tree sonder opdrag op as profete in my Naam. Ek het hulle nie gestuur nie, sê die Here. Dit is baie duidelik. Dit gaan presies sewentig jaar duur. Maak vrede met die feit dat julle nie oor twee jaar Jerusalem sal sien nie.
Tog klink woorde op wat die vergesig van sewentig jaar draaglik maak (vers 11): Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting! Uiteindelik sal volgende geslagte ballinge seëvier wanneer hulle na Jerusalem sal terugkeer. Dit herinner ietwat aan die Stockdale-paradoks, of kan ons dalk van ’n ballingskap-paradoks praat? Behou geloof, Israel, dat julle sal seëvier, en hou intussen met die wrede werklikheid rekening.
Die tyd tussenin moet op die beste moontlike wyse gevul word (verse 5 tot 7): Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie. Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.
Watter boodskap lê vir ons hierin opgesluit? Maak vrede met die werklikheid dat Covid-19 nie teen Kersfees iets van die verlede gaan wees nie. Maak vrede met die vooruitskatting dat die ontwikkeling van ’n entstof ’n geruime tyd sal duur. Maak vrede met die wrede werklikheid dat die “ballingskap” weens ’n verwoeste ekonomie nie oor twee jaar iets van die verlede sal wees nie.
Intussen moet ons vashou aan die geloof dat dit wel weer beter sal gaan – dat die virus oorwin sal word en dat ons ’n nuwe (en beter) normaal sal vind waar die welstand van die breëre gemeenskap net so belangrik soos ons eie welstand sal wees. Hoe lank dit sal neem, weet ons nie. Dit sal waarskynlik veel langer as Gananja se twee jaar duur waarin ons gedurig die wrede werklikheid sal bly konfronteer.
God se belofte aan Israel eggo ook tot ons in hierdie tyd: Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!
(Dr André Ungerer is voorsitter van die Kommissie van die AKV en hoof van die HTK)