Van kindsbeen af het ds Zilcha Mostert se pa ’n godsdienstige toewyding in sy dogter aangewakker. Dit was ’n toewyding wat die pad na haar teologiese studies en uiteindelik haar roeping as predikant uitgekerf het. Hierdie pad het haar na die NHKA se Gemeente Louis Trichardt gelei waar sy vanaf 30 Januarie 2025 diensdoenend is. Maar haar wortels was nie altyd in die NHKA geplant nie. Ds Mostert het haar studies as lidmaat van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) voltooi.
Sy en haar man, ds Johan Mostert, woon in die pastorie van die NGK Gemeente Levubu buite Louis Trichardt waar hy sedert einde 2024 werksaam is. Ds Zilcha verwoord hul gesamentlike roeping as ’n samewerking met medegelowiges wat gevestig is in afhanklikheid van God – ’n roeping waar hulle saam op die roepstem van God gereageer het. Sy pen die volgende neer oor haar belewenis in die NHKA tot dusver: Wanneer ek aan my gemeente dink, maar ook aan die Hervormde Kerk in geheel, is ek baie trots om myself ’n Hervormer te mag noem!
Vanjaar het ds Zilcha haar eerste Algemene Kerkvergadering (AKV) as ’n Hervormer bygewoon. Die AKV het vanaf 6-10 Oktober 2025 sitting in Pretoria geneem. Sy vertel dat die vergadering vir haar ’n vormende ervaring en waardevolle leerskool was. Dit was ’n vergadering wat ruimte geskep het sodat sy die omvangrykheid van beide kollegialiteit en die eenheid van die Kerk opnuut kon ervaar en leer ken het. Dit was juis tydens die aangrypende daaglikse opening en afsluiting deur Woord en sang waar sy die samesyn en afhanklikheid van God se leiding in die NHKA beleef het. Sy beskryf dit daarom as ’n week wat saam met die Woord en lofprysing van God begin het, maar ook saam só afgesluit is. Natuurlik het die beskrywingspunte vir haar bydrae tot die verstaan van die Kerkstruktuur, maar dit was veral die ryk gesprekke en bou van verhoudings buite die vergadering wat byegdra het tot haar positiewe en omvattende verstaan van die NHKA, haar roeping en ook haar mense.
Ds Zilcha spreek haar dankbaarheid oor die 74ste Algemene Kerkvergadering as volg uit: Ek is dankbaar dat ek ’n week lank by ouer predikante kon leer, hul sienings oor Kerklike sake kon toets, verskeie kwessies met hulle kon bespreek en hul indrukke en insig daaroor kon kry. Ek is opreg opgewonde oor die rigting waarin die Kerk beweeg en sien uit daarna om as jong predikant my bydrae te lewer.
Ds Zilcha beskryf die verwelkoming in haar gemeente as ’n besonderse eer, voorreg en groot vreugde. Dit is presies ook hoe ons as die ganse NHKA haar by ons wil verwelkom en daarom is dit vir die Kerk ook ’n groot voorreg om te hoor wat ds Zilcha opper wanneer sy oor die Kerk uitgevra word: Hou vas! Die Kerk is in ’n goeie rigting op pad!