Geagte familie, vriende, kollegas en almal wat hier teenwoordig is.

Toe ek gevra is om hierdie huldeblyk te lewer, het ek onwillekeurig teruggedink aan die gebeure in Markus 8: 27-30, waar Jesus sy dissipels vra: “Wie sê die mense is Ek?” Hulle antwoord toe met verskeie menings – Johannes die Doper, Elia, of een van die profete. Dan vra Hy: “Maar julle, wie sê julle is Ek?”

As volgelinge van Jesus is dit ’n vraag wat ons nie net ten opsigte van Jesus moet vra nie, ons kan dit ook vra betreffende ons siening van medegelowiges. Wat sê ons oor die mense wat ons ken? Hoe verstaan ons hulle werklik? Die Kerk en ons as individue kan verskillende antwoorde gee oor wie prof Andries van Aarde vir ons was. Sommige sal hom as ’n briljante akademikus sien, ander as ’n kritiese stem wat ongemaklikhede ontbloot het. Maar vir almal van ons was hy ’n mens wat sy oortuigings met moed en passie nagevolg het.

Dit is die vraag waarmee ek geworstel het toe ek oor sy lewe nadink: Wie was Andries van Aarde vir ons as Kerk, en wat kan ons by hom leer?

Vir Andries was Jesus die Urbild (argetipe) en die Vorbild (prototipe) van bestaan – ’n absolute voorbeeld van bekering tot God en transformasie van die wêreld. Dit het vir Andries ’n lewe van radikale inklusiwiteit beteken. Hierdie inklusiwiteit het hom genoop om standpunt in te neem oor sake wat die NHKA, volgens hom, verkeerd hanteer het. Dit het hom in groot onguns by sommige in die Kerk gebring.

In my voorbereiding kon ek baie put uit Andries se outobiografiese refleksies[1] in volume 2 van sy boek Jesus, Paul and Matthew. Hy was eerlik oor sy hele lewenspad – vanaf sy hoërskooldae, waar hy elke Sondag 8 km ver kerk toe geloop het, tot sy verkiesing as diaken in matriek. Sy verhouding met sy pa was problematies, en ’n mens wonder in watter mate sy boek Fatherless in Galilee: Jesus as Child of God (2001) sy eie belewenis van ’n soort vaderloosheid weerspieël het.

Hierdie boek het ook by sommige groot weerstand ontlok. Hy skryf hoe hy vir meer as twee dekades by feitlik elke vergadering van die Kerk se uitvoerende gesag moes verskyn om sy oortuigings te verdedig. Selfs op 14 Junie 2019, toe hy aan die laaste hoofstuk van sy boek gewerk het, is hy in kennis gestel van ’n nuwe klag. Hy het nooit die emosionele tol hiervan onderskat nie, en tog het hy in die NHKA gebly. Hy het my vertel hoe hy as jong man eendag vir prof Albert Geyser in trane gevind het, spyt oor sy bedanking uit die Kerk. Daardie oomblik het Andries oortuig om nooit die Kerk te verlaat nie.

Andries het ook ’n profetiese rol in die Kerk vervul. Hy was een van die vyf dosente wat op 10 Maart 2009 apartheid as sonde verklaar het – ’n verklaring wat groot opslae veroorsaak het en uiteindelik tot Besluit 54 van die 69ste Algemene Kerkvergadering gelei het. Hy het die NHKA uitgedaag om rassisme, apartheid en homofobie te verwerp en om internasionale ekumeniese bande te herstel.

Op ’n meer persoonlike noot: Andries het ’n groot rol van aanmoediging en ondersteuning gespeel in die versoeningsproses met Cas Labuschagne[2], waarin ek betrokke was. Sy insette het gehelp om in 2019 versoening moontlik te maak. Ek was bevoorreg om volumes 1 en 2 van Jesus, Paul and Matthew van hom te ontvang. In sy inskrywing in volume 2 skryf hy: “Vir waardering vir leierskap en vir die ‘Groningen’-besoek.”

Wie was Andries van Aarde vir die Kerk? Hy was iemand wat vanuit ’n diep liefde vir God en die kerk nie geskroom het om ongeregtighede aan te spreek nie. Sy passie vir geregtigheid het hom dikwels in ongemaklike ruimtes geplaas, maar sy verbintenis aan waarheid en sy geloof in Christus het hom die moed gegee om vol te hou.

Namens die NHKA bring ek ons opregte dank en eer aan prof Andries van Aarde. Ons gedenk ’n teoloog van wêreldformaat, ’n moedige kritikus van onreg, en ’n getroue dienaar van Christus. Mag sy familie en geliefdes vertroosting vind in die wete dat sy lewe diep spore nagelaat het – spore wat ons aanmoedig om die pad van waarheid, liefde en geregtigheid te volg.

Mag hy in die rus van ons Here sy vrede vind.

 

[1]  Van Aarde, A.G., 2020. Jesus, Paul and Matthew, Volume 2: To and From Jerusalem. Cambridge Scholars Publishing, Newcastle upon Tyne, UK.

[2]  Ungerer, A.G., 2023, ‘Eerherstel aan Cas Labuschagne – Goed genoeg, betyds genoeg?, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 79(1), a8877. https://doi.org/ 10.4102/hts.v79i1.8877

Share via
Copy link
Powered by Social Snap