Dis amper die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika se Algemene Kerkvergadering (Sondag 22 tot Donderdag 26 September 2019) en ek wou al lankal ’n aftelling met geskiedenisbrokkies tot die opening aanpak – en toe het dr Wouter van Wyk, sekretaris van die Kommissie van die AKV, my ook aangemoedig!
Wanneer jy dus hier lees, het jy miskien al vanjaar se agenda en bylaes onder oë gehad om voor te berei. Hier is 1907 se Notule van 52 bladsye en agenda van 8 bladsye, A4-grootte.
Gaan kyk gerus op ons Facebook-blad na al die brokkies en sluit sommer aan op die blad: SP Engelbrecht Museum.
Vervolgens ’n paar hoogtepunte uit die aftelberiggies. Eintlik ’n lusmakertjie om jou, geagte leser, te lok om te kom aansluit by ons FB-blad en al die beriggies te gaan lees. So raak jy AKV-slim!
Is jy gerat vir Pretoria se warm lenteweer en ’n sinvolle AKV? Kom ons kry onsself in die regte luim…

…nog 76 dae (8 Julie 2019)
71 AKV’s van die NHKA het reeds plaasgevind sedert die eerste onafhanklike AKV noord van die Vaalrivier wat op 8 Augustus 1853 in Rustenburg begin het, met oudl FG Wolmarans as tot dusver enigste ouderlingvoorsitter. Hy het ook ds Van der Hoff as predikant bevestig.
Vanjaar in 2019 vind die 72ste AKV plaas by Gemeente Wonderboom, vanaf 23 September, in groepe rondom ronde tafels. Die amptelike opening is op Sondag 22 September by Gemeente Montana, want dan is die kerkbanke by Wonderboom al uitgehaal. Dankie aan die werkers wat so hard en versigtig gewerk het! By watter AKV’s was jy?


...nog 72 dae (12 Julie 2019)
Klankopname op ’n dik 78-spoed-plaat van sang tydens ’n AKV van die NHKA. Ongelukkig ontbreek die datum en plek. Gesang 2: 1. Psalm 100: 1-4. Dis vermoedelik ouer as 1961. Gaan luister gerus daarna op die Museum se FB-blad.

...nog 71 dae (13 Julie 2019)
By die AKV’s is daar ook kuiertyd (reünies) van klasgroepe tydens etenstye. So word kollegiale bande weer versterk. Hier is die 1995-klasgroep tydens 2010 se kuier. Die ouderlinge kuier saam.

...nog 70 dae (14 Julie 2019)
Die heel eerste onafhanklike (onafhanklik van die moederkerk in Nederland) algemene kerkvergadering wat in Suid-Afrika gehou is, het op 2 November 1824 in Gemeente Kaapstad se kerkgebou begin.

...nog 70 dae (14 Julie 2019)
Vandag staan nog net die toring en die kansel van die oorspronklike gebou. (Op die foto hierbo is die oorspronklike toring heel links van die 19de-eeuse Groote Kerk. Op die swart-wit tekening is die oorspronklike gebou uit die vroeë 1700’s.) Tegnies is dit ook ons NHKA se eerste AKV – by hierdie vergadering is die Kerk se naam amptelik vasgestel as Nederduitsche Hervormde Kerk in Zuid-Afrika.

...nog 65 dae (19 Julie 2019)
In Mei 1890 word die 24ste AKV in oudl Christiaan Johannes Joubert se huis in Pretoria gehou. Hierdie ouderling het in 1887 ds Goddefroy as predikant bevestig voor die Witfonteinkansel (wat in ons Museum bewaar word) – hy was mynkommissaris van die ZAR en een van die persone na wie Johannesburg vernoem is. Die heel eerste onafhanklike (onafhanklik van die moederkerk in Nederland) algemene kerkvergadering wat in Suid-Afrika gehou is, het op 2 November 1824 in Gemeente Kaapstad se kerkgebou begin.

...nog 54 dae (30 Julie 2019)
Lees onder andere hieronder hoe daar op die eerste agt AKV’s (op Rustenburg, Potchefstroom en Pretoria) van 8 Augustus 1853 tot 11 Januarie 1859 met beswaardes oor die kwessie van die sing van Gesange gehandel is.

In 1859 het die Hervormde Kerk verder verdeel. ’n Groep lidmate, onder leiding van ds Dirk Postma, het hulle van die Hervormde Kerk afgeskei en die Gereformeerde Kerk gestig. Een van die besware van die streng Gereformeerde lidmate was die sing van Gesange in Hervormde eredienste. Die evangeliese Gesange is in 1814 in gebruik geneem en dikwels in eredienste gesing. In die Oosgrens-distrikte was daar mense, onder andere die Krugerfamilie, wat beswaar gemaak het en volgehou het dat net Psalms in die erediens gesing mag word. Reeds by die eerste AKV van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Transvaal (1853) het diak Stephanus Kruger van Gemeente Rustenburg ’n memorie van lidmate ingedien waarin hulle beswaar teen die Gesange aanteken. Hierdie versoek is op al die vergaderings herhaal.
…nog 52 dae (1 Augustus 2019)
Van die 64ste AKV in die Pretoriase winter van 1995 is die laaste reuse-groepfoto* geneem. Die vergadering was in die Aula (ouditorium) by die Universiteit van Pretoria, en die teedrink het daaronder in die Rautenbachsaal geskied. Hierdie foto is daarnaas in die amfiteater op die trappe geneem.
* Dalk moet ons op die een of ander manier weer vanjaar ’n groepfoto neem?

…nog 51 dae (2 Augustus 2019)
Die AKV is nie die hoogste vergadering van die NHKA nie, maar wel die grootste. Die AKV is ’n groot vergadering wat die afgelope dekades telkens deur meer as 500 afgevaardigde ouderlinge en diensdoende predikante van die NHKA bygewoon is.
…nog 50 dae (3 Augustus 2019)
Die 24ste AKV van Mei 1890 is gehou in die huis van oudl Chrisjan J Joubert. Die groepfoto is geneem met sy huis in die agtergrond. Dit was volgens alle aanduidings een van die heel eerste groepfoto’s wat tydens ’n AKV geneem is.
Oudl Joubert, wat ook ZAR-mynkommissaris was, het ds Goddefroy in 1887 as predikant bevestig voor die Witfonteinkansel, en was een van die Johannesse na wie Johannesburg vernoem is. Ook Joubertpark is na hom vernoem.


...nog 45 dae (8 Augustus 2019)
Die eerste en enigste vrou as afgevaardigde by ’n AKV saam met die Moderamen in 1983. Vlnr prof BJ Engelbrecht, ds PM Smith, diakones mev Botha van Gemeente Oudtshoorn, proff FJ van Zyl en Bart Oberholzer.

...nog 43 dae (10 Augustus 2019)
Tydkorting voor die vergadering vroegoggend begin! 1995 se AKV – ds Gawie Wolmarans en oudl A Boshoff van Gemeente Coligny. Dames kan mos altyd ’n klomp dinge tegelyk doen!
…nog 44 dae (9 Augustus 2019)
Vroue-afgevaardigdes na die 61ste AKV in 1986. Vlnr oudl AM Gerber van Gemeente Kensington, ongeïdentifiseer, ds Kotie Mc Donald, diak Lydia Moolman van Tygerberg, ds Yolanda Dreyer-Papp, ds Elsie Wolmarans en oudl Lena de Beer van Wespark.
Dis die eerste groep vroue in die amp, te wete ouderlinge, dominees en diakens (of soos toe genoem, diakonesse). Ons hoop om dalk nou met hierdie artikel die ongeïdentifiseerde dame se naam te vind – herken julle haar? Ds Kotie is deesdae deeltyds verbonde aan Gemeente Turffontein, ds Elsie is nou Pretorius en reeds met emeritaat, en prof Yolanda Dreyer was ons eerste vroueprofessor aan UP se Teologiese Fakulteit, sedert 2000.


...nog 42 dae (11 Augustus 2019)
Nadat die innerlike versterk is met die heerlike eetgoedjies waarmee die NHSV-takke (susters, maar ook broers wat vlytig help) immer die afgevaardigdes trakteer, word die klok deur die Ordekommissie gelui om aan te dui dat die vergadering gaan hervat! Elke afgevaardigde dra ’n naamplakker om bekendstelling aan mede-vergaderinglede te vergemaklik. Wie is hierdie ouderling by 1992 se AKV?

...nog 41 dae (12 Augustus 2019)
Vroeër het die predikantsvroue ook saamgekom na die AKV toe, vir onder andere die opening, vir sake in die stad, om onderlinge bande te bou, en dies meer. Maar in 1940 het ’n baie belangrike gebeurtenis tydens die AKV plaasgevind waarby al die mevrou-dominees betrokke was: die formele stigting van die Nederduitsch Hervormde Sustersvereniging! Dit geskied onder leiding van mev Marié Oosthuizen, met 130 vrouens teenwoordig uit 41 gemeentes. In ons SP Engelbrecht-museum is kosbare NHSV-skatte op uitstalling. (Foto: NHSV-stigterslede op Woensdag 22 Mei 1940 in die toe splinternuwe saal van Laerskool Eendracht in Kockstraat, later Bosmanstraat, in die Pretoria-middestad.)
Die geheue van die NHKA vind ons onder meer in ons Museum en Argief. Ons Kerkargief is by die Voortrekkermonument in die gebou van die Erfenisstigting. Dis dáár waar ek begin soek het en saam met die argivaris, Nándor Sarkady, beplan het aan hierdie aftelling na die 72ste AKV toe.
Vandag wil ek dankie sê en erkenning gee aan die NHKA Kerkargief vir die bereidwilligheid dat ek hulle kan belas met my navorsing oor ons AKV’s uit ons kerklike tydskrifte.
’n Laaste versoek: Neem asseblief foto’s tydens die 72ste AKV en plaas jou allerbestes met kragtige beskrywings daarby op ons Museum se FB-blad!