Dr André Ungerer het namens Die Hervormer ’n paar vrae aan prof Natie van Wyk, bekende akademikus, sistematiese teoloog en emerituspredikant, gestel oor sy jongste drie boeke.
André Ungerer (AU): As jy na jou drie jongste publikasies kyk, naamlik Martin Luther: ’n Inleiding tot sy lewe, denke en geskrifte (2022, hersiene tweede uitgawe); Philipp Melanchthon: Die denker, leermeester en opvoeder van die Reformasie (2022); en Die Uitgebreide Liturgiese Kalender (2025) – is daar ’n bepaalde lyn wat hulle met mekaar verbind?
Prof Natie van Wyk (NvW): Al drie boeke het met die Lutherse reformasie te make. Melanchthon was die eerste sistematiese denker van die Reformasie, terwyl die liturgiese kalender die Bybelse inhoud orden volgens die hooflyne van die Reformatoriese teologie. Die deurlopende lyn in al drie boeke is die Bybelse boodskap vanuit die perspektief van die Lutherse teologie. Lutherse teologie is ten diepste Bybelse teologie wat deur metodiese beginsels gerig word, soos: die onderskeiding van wet en evangelie, Ou Testament en Nuwe Testament, koninkryk en wêreldgeskiedenis; die aanvaarding van die belydenis as hoofpunte van die geloof; die hoogskatting van die hoofstroom van die teologie en aanhoudende kritiese denke en navorsing.
AU: Wat was jou motivering vir die boek oor Martin Luther, en wat wou jy met hierdie publikasie bereik wat vir jou besonder belangrik was betreffende die kerk in die Suid-Afrikaanse konteks en meer spesifiek die NHKA?
NvW: Wetenskaplike teologie berus op aanhoudende kritiese navorsing van die Bybel en die bronne van die teologie. Luther se geskrifte vorm die basis van ’n kerk wat homself Reformatories noem. Die Hervormde Kerk was nog altyd bereid om sy Lutherse wortels te erken; nogtans het ons nog nooit vanuit die primêre bronne navorsing gedoen nie. Ek het ’n verpligting gevoel om dit wel te doen.
Die meeste Afrikaanssprekendes weet min of niks van Luther en sy geskrifte af nie. ’n Bekendstelling aan hierdie tekste en denke was vir my noodsaaklik.
AU: Philipp Melanchthon is waarskynlik minder bekend as Luther. Wie was hy, en wat het jou as sistematiese teoloog na Melanchthon aangetrek?
NvW: Philipp Melanchthon was Luther se jonger kollega in Wittenberg. Hy was professor in Grieks en het, in sy geheel beskou, ’n groter bydrae as Luther tot die kerk en die teologie gelewer. Sy bydraes sluit onder meer die volgende in: die eerste Protestantse sistematiese teologie, die eerste algemeen-erkende belydenisskrif (die Augsburgse Geloofsbelydenis), die eerste kommentare op die Nuwe Testament, medevertaler van die Ou Testament en die Nuwe Testament, medeopsteller van die eerste kerkordes (onder andere vir Denemarke), lieddigter, stigter van Protestantse skole en die Universiteit van Marburg, en akademiese bydraes tot onder andere die regs- en mediese wetenskappe, hoofonderhandelaar met die Roomse Kerk, en die outeur van Griekse en Latynse grammatikas, om maar enkele voorbeelde te noem.
Die basiese teologiese kurrikulum aan Protestantse fakulteite berus op Melanchthon se insigte. Aangesien ons in Suid-Afrika niks van die grondlegger van ons teologie weet nie, het ek die uitdaging aangeneem om die eerste boek in Afrikaans oor hierdie geniale man, vanuit die primêre bronne, te skryf. Melanchthon se kennis van die Griekse filosofie was maar één aspek van sy teologie wat my aangetrek het.
AU: Hoe het Luther en Melanchthon mekaar teologies aangevul, en watter groter insig oor die Reformasie het hieruit vir jou na vore gekom?
NvW: Luther het die eerste Reformatoriese insigte geformuleer, terwyl Melanchthon dit verder verduidelik het en aangetoon het hoe dit prakties toegepas kan word. Luther het geweet dat wet en evangelie onderskei moet word. Melanchthon het in detail uiteengesit wat alles onder wet verstaan kan word, en waarom die kultiese en regswette van oud-Israel nie vir Christene bindend is nie. Luther het ingesien dat Christenskap op vryheid neerkom, terwyl Melanchthon aangevoer het dat kerklike wette nie absoluut bindend kan wees nie. Luther het ingesien dat die Romeinebrief die hart van die Nuwe Testament is, terwyl Melanchthon ’n kommentaar geskryf het wat drie keer hersien is. Luther het ontdek dat geloof nie moraal is nie, terwyl Melanchthon omvangryk kon skryf oor wat geloof is, en wat dit nie is nie.
AU: Hoe het die projek Die Uitgebreide Liturgiese Kalender ontstaan?
NvW: Die boek oor die uitgebreide liturgiese kalender het oor ’n baie lang tydperk tot stand gekom. Dit het begin toe ek die eerste keer oor Kersfees, die kruisiging, die opstanding, die Hemelvaart, die uitstorting van die Heilige Gees en die drie-enige God moes preek en kategese aanbied. Ek het twee reekse in Konteks, ’n weeklikse bydrae in die Blitspos in 2017 en ’n hele aantal artikels in die HTS oor aspekte van die kalender gepubliseer. Verder het ek ’n paar jaar lank by die HTK lesings oor die temas van hierdie boek vir die finalejaarstudente aangebied. Ds Hannes van der Merwe het my oorreed om al my navorsing in ’n boek op te neem.
Die liturgiese kalender is belangrik aangesien dit op ’n sistematiese wyse aandag skenk aan die persoon, lewe en werk van Jesus Christus. Wie hierdie kalender vermy, wil nie met sekere aspekte van die evangelie gekonfronteer word nie. Wie die kalender nie wil volg nie, wil die evangelie verskraal tot ’n enkele greep of twee uit die lewe van Jesus.
Die uitgebreide kalender is beslis nie aan baie mense in die Hervormde Kerk bekend nie. Wie die moeite wil doen om aan die onbekende aspekte aandag te skenk, sal die volle skat van die evangelie ontdek. Lidmate behoort nie voortdurend aan slegs ’n paar temas van die Bybelse boodskap blootgestel te word nie. Die verskraling van die prediking en kategese tot enkele oppervlakkige temas dra by tot die agteruitgang van die kerk.
AU: Wat bedoel jy met ’n uitgebreide liturgiese kalender, en waarom is dit belangrik?
NvW: Die meeste predikante en belangstellende kerkraadslede ken die belangrikste datums van die liturgiese kalender, maar slegs enkeles ken die temas van die uitgebreide kalender. Geleenthede soos die Epifanietyd, die sewe Sondae van die Paastyd, die herdenking van die eerste martelare kort ná Kersfees, Ewigheidsondag, die Sondag van die skepping en talle ander geleenthede help die gemeente om binne die bestek van een jaar aandag te gee aan talle temas en tekste wat met Jesus Christus verband hou. Só voorkom die uitgebreide liturgiese kalender die sieldodende herhaling van ’n enkele tema of twee, óf ’n paar teksgedeeltes wat tot vervelens toe aan die orde kom.
Prediking aan die hand van die uitgebreide liturgiese kalender, selfs al is dit net elke tweede of derde jaar, sal lidmate aan die meeste van die belangrike gedeeltes en temas van die Bybel blootstel. Indien mense nie weet wat die Christelike geloof behels nie, kan daar mos nie verwag word dat hulle getroue lidmate sal bly nie.
AU: Waarom is die kerklike jaar en sy ritme vandag nog van waarde vir die geloofslewe van die kerk, en watter gebruiker of leser het jy voor oë gehad toe jy die boek geskryf het?
NvW: Vir diegene wat beweer dat die liturgiese kalender onbelangrik geraak het, het die kerk van Jesus Christus klaar gesterf. Die liturgiese kalender reël dat die kerk op ’n sistematiese wyse aandag gee aan al die aspekte van die persoon, lewe en werk van Jesus Christus. Wie nie hieraan wil meedoen nie, staan buite die gemeenskap van gelowiges – en vir hulle is Christus dood.
Ek meen dat die uitgebreide liturgiese kalender juis op hierdie stadium belangrik is. Ek weet dat daar predikante, jonk en oud, is wat die evangelie nie ken nie. Sommige van hulle ken nie die verskil tussen die Adventstyd en die Lydenstyd nie. Ander weet nie dat die Heilige Gees ná die Hemelvaart uitgestort is nie, en dan is daar dié wat nie kan sê wat die kerk hoop nie.
Ek het ’n eenvoudige kategismus op grond van die uitgebreide liturgiese kalender saamgestel sodat kinders, lidmate en predikante net weer ’n oorsig kan kry oor wat ons in die kerk glo en wat ons nie glo nie.
AU: Wat beteken hierdie drie werke, wanneer jy terugkyk, vir jou eie teologiese reis en loopbaan, en wat hoop jy sal die blywende waarde van hierdie drie publikasies vir die kerk wees?
NvW: Dit is vir my persoonlik bevredigend om te weet dat ek probeer het om die aard, argumente en metodes van die Reformatoriese teologie aan die lesers bloot te lê – en wel vanuit die primêre bronne.
Ek hoop dat predikante en lidmate in die toekoms deur die boeke sal blaai en ontdek waaroor die Reformasie ten diepste gaan. Ek hoop ook dat die boek mense sal laat nadink oor die oppervlakkige idees wat die afgelope dekades vanuit bedenklike teologiese oorde oor ons spoel.
AU: Waar kan hierdie boeke verkry word?
NvW: Die boeke oor Luther en Melanchthon kan gratis in elektroniese formaat by my aangevra word (natievanwyk123@gmail.com). Die drukweergawes is uitverkoop. Die boek oor die liturgiese kalender kan teen R300 by mev Sarie Roux (boekwinkel@nhk.co.za) aangekoop word.
AU: Is daar tans nog ’n publikasie in die pyplyn?
NvW: Ja, ek werk tans aan ’n boek oor lyding en die bose. Die populistiese oortuigings uit die volksgodsdiens sal aan kritiese ondersoek onderwerp word. Die filosofiese vraag oor hoe geloof in ’n almagtige en liefdevolle God met die bose versoen kan word, naamlik die teodiseeprobleem, vorm ook deel van die boek. Ek hoop om die boek teen die einde van 2027 gereed te hê.
(Dr André Ungerer is emerituspredikant en leraar van Gemeente Pretoria-Oos)