Die Hervormer se Oktober-uitgawe bespreek jaarliks die bekende insidente wat met die Reformasie geassosieer word, en tereg so. Daar was egter ook vele ander interessante gebeurtenisse in die tyd van die Reformasie wat nie dikwels gedeel word nie – en tog sou dit ’n beduidende invloed op die geskiedenis uitoefen. Ons kyk in hierdie skrywe kortliks na drie van hierdie verhale.

Die plakkaat teen die koning se kamerdeur

Die Reformasie se aanvanklike momentum in Frankryk word meteens gestuit weens insidente gedurende die nag van 17 en 18 Oktober 1534 – die sogenaamde Affaire des Placards. Plakkate het oornag in Parys en ander stede verskyn wat onder andere die Katolieke mis as afgodsdiens uitgebeeld en die pouslike gesagsisteem as korrup uitgewys het. Hierdie ongekende opstand teen die heersende maghebbers het ’n groot beroering veroorsaak.

Die laaste strooi was toe koning Frans I een van die gewraakte plakkate teen sy slaapkamerdeur ontdek het. Die koning het hierdie mate van minagting van die monargie en die Kerk se alliansie as ’n persoonlike aanval beskou. Waar hy voorheen ’n meer gematigde houding teenoor die hervormings ingeneem het, het aksies soos hierdie hom drasties anders laat begin optree. Diegene wat verantwoordelik was vir die plakkate, is gevange geneem en terstond tereggestel. Die onderdrukking van Protestantse leerstellings het brutaal geraak.

Hierdie gebeure het ’n groot invloed op die Franse kerkgeskiedenis gehad. Dit het die kloof tussen die Protestantse beweging en die Katolieke monargie verskerp. Die vurige vervolging van ondersteuners van die Reformasie het daartoe gelei dat baie Protestantse leiers in ballingskap gegaan het, en dit was die begin van ’n lang stryd tussen Franse Protestante en die mag van die staat (of, meer spesifiek, die Kerk wat ageer het as die staat). In hierdie tyd het die wortels van die godsdiensoorloë, wat vir die res van die 16de en in die 17de eeu sou voortwoed, dieper begin groei. Dit was egter ook die vonk in die kruitvat wat aan die verspreiding van die evangelie nuwe stukrag verleen het.

Die Frankfurt-oorstroming

Op 12 Januarie 1552 is die Duitse stad Frankfurt deur ’n groot oorstroming getref. Swaar reënval en sneeusmelting het bygedra tot die styging van die Mainrivier, wat deur die stad vloei, se watervlak. Die oorstroming van die rivier se walle het groot skade aan die stad se geboue, strate en infrastruktuur aangerig. Handel en bykans die hele ekonomie is daardeur ontwrig. Historiese besonderhede is weliswaar skraps (ook aanlyn), maar die ramp is deur ’n argivaris van Frankfurt se Institut für Stadtgeschichte bevestig. 

Vir ’n stad wat besig was met grootskaalse kerkhervorming, was hierdie gebeurtenis nie net ’n fisiese bedreiging nie, maar ook ’n toets vir hul toewyding aan geestelike vernuwing. Die mens is immers sielkundig geneig om in krisistye in dit wat bekend is, sekuriteit te soek. Die Protestantse stadsleiers het voor ’n belangrike keuse te staan gekom – om terug te keer na ’n meer gevestigde tradisionele (en bekende) godsdiens, of om hulle opnuut vir hervorming te beywer.

Die leiers van Frankfurt het gekies vir sterker kerkhervorming. Die krisis word toe die katalisator wat die stad se morele en godsdienstige hernuwing nog verder gevoer het met ’n vasberade verbintenis tot die Reformasie. Die geestelike herlewing het nie net die godsdienstige rigting van die stad aangedui nie, maar ook die fokus laat val op maatskaplike verantwoordelikheid en die rol van geloof in krisistye.

Die Geneefse horlosiemakers

Teen die middel van die 16de eeu was Genève die episentrum van kerkhervorming in Switserland. Johannes Calvyn se invloed het die stad nie net in ’n godsdienstige opsig verander nie, dit het ook ’n onvoorsiene ekonomiese effek gehad. Genève het ’n streng Calvinisties-Protestantse gemeenskap geword waarin sekere luukshede, insluitend juweliersware, as onnodig en selfs sondig beskou is. Baie Joodse vlugtelinge in Genève was meesters in die vervaardiging van fyn juweliersware en hulle was dus in die knyp – hul ambag was in stryd met die streng Calvinistiese soberheid.

Hierdie bekwame vakmanne het noodgedwonge ’n nuwe kreatiewe rigting ingeslaan, naamlik die maak van horlosies. Horlosies is nie as luukse items beskou nie, maar as nuttige instrumente wat presisie en selfdissipline weerspieël, wat perfek gepas het by die heersende etiek van arbeid en effektiewe tydsbestuur.

Die talentvolle horlosiemakers het onbedoeld en onbepland die stad se ekonomie begin transformeer. Genève het mettertyd die sentrum van die horlosiebedryf geword, wat uiteindelik sou lei tot ’n blywende internasionale reputasie vir uitnemendheid, akkuraatheid en elegansie.

Onverwagse geleenthede

In die kern van elke ramp en krisis skuil dikwels onverwagse en onbedoelde geleenthede – in die gevalle hierbo telkens ’n geleentheid tot ’n groter verbintenis tot verandering en vooruitgang. Aggressiewe vervolging, diep waters en fel onderdrukking kan lei tot dieper geloof, vars denke en veerkragtigheid – presies die soort inspirasie wat elke generasie nodig het.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap