Die Kommissie van die AKV het by hul vergadering gehou in Maart 2021 weer besin oor die elektroniese intekening op Die Hervormer.
Die elektroniese intekenmodel van Die Hervormer het gemeentes se tradisionele intekening op ’n aantal gedrukte kopieë in 2015 vervang toe begin is om Die Hervormer elektronies op die Kerk se webblad te publiseer. Hierdie model is deur die Kommissie van die AKV goedgekeur en ook met die 71ste AKV (2016) en 72ste AKV (2019) in verslae van SENTIK uiteengesit. Met die aanvaarding van die verslae en ook die begroting by die 72ste AKV, het die AKV dus ook hierdie intekenmodel bekragtig. Hiervolgens word Die Hervormer gedruk (en kan ’n gemeente enige toepaslike getal gedrukte Hervormers bestel), maar word die volledige publikasie ook aanlyn op die Kerk se webblad gepubliseer. Die artikels word gereeld in lokflitse bekendgestel en ook op die Kerk se Facebook-blad gedeel.
Dit stel die Kerk se amptelike mondstuk sowel in gedrukte as elektroniese formaat beskikbaar aan al die lidmate van die Hervormde Kerk, maar ook aan enigeen op enige plek in die wêreld. So kry die Kerk dus ook ’n stem in die wêreld.
Die intekenmodel is gebaseer op die grootte van ’n gemeente en die tariewe is sedertdien slegs een keer (met ingang van 1 Maart 2017) verhoog, sodat ’n klein gemeente ’n bedrag van R55 per maand betaal en ’n groot gemeente ’n bedrag van R410 per maand. Die intekengeld op Die Hervormer is, benewens die (dalende) verkope van die Almanak en Bybelse Dagboek, kategeseboeke en ander kerklike boeke en skryfbehoeftes, die enigste inkomste wat die Afdeling Kerklike Kommunikasie (voorheen SENTIK) genereer. Daar moet in ag geneem word dat daar vaste, oorhoofse koste aan die produksie van die Kerk se amptelike mondstuk verbonde is (personeel en toerusting), en dat die inkomste wat die Afdeling Kerklike Kommunikasie in, gebruik word om al die Kerk se wydlopende kommunikasie te kruissubsidieer. Dit sluit die produksie en instandhouding van Blitspos, die webblad en Facebook-blad, gedagtes vir die dag (wat op Instagram en Facebook gedeel word), taalversorging en grafiese ontwerp vir alle afdelings van die sinodale strukture en vir gemeentes, en vele ander produkte en dienste in.
Hiermee bevestig die Kommissie vorige besluite van die AKV en Kommissie van die AKV wat voorsiening maak vir die elektroniese intekening op Die Hervormer. Die Kommissie maak staat op elke gemeente se heelhartige ondersteuning.