Met die lees van hierdie artikel lyk dit hopelik ook vir jou asof die intense bedreiging van 2021 se Covid-19 al meer iets van die verlede is (terwyl die virus dalk steeds op ’n manier in die toekoms deel van ons lewe gaan wees).
Die wisselende vlakke van inperkings het die Kerk genoodsaak om op velerlei maniere kreatiewe aanpassings te maak in bedieningstyl – soms op baie kort kennisgewing. Dit was verblydend om te sien hoe veerkragtig gemeentes en predikante op die veranderlikhede gereageer het!
Dit was egter veral die eredienste van die gemeentes wat ingrypend geraak is deur die inperkings. Lidmate kon met tye nie eredienste in persoon bywoon nie. In daardie tye het gemeentes meestal gekies om boodskappe eerder in ’n korter formaat te stroom of uit te stuur, aangesien kundiges aangedui het hoe kort die aandagspan is van mense wat via elektroniese media inskakel.
Die gevolg was dat die liturgie afgeskaal is – soms tot minder as die basiese minimum. Waar liedere wel nog deel uitgemaak het van die stroming, het dit slegs in enkele gevalle gebeur dat mense in hul huise met oorgawe saamgesing het.
Later, met ’n beperkte aantal persone terug in die kerk, moes almal gemasker sit en luister na die preek, en die gemeente se antwoord in die ontmoeting met God moes telkens van agter maskers op ’n gedempte manier plaasvind. Van die kansel af kon ’n mens sien hoe sommige die masker effens weggetrek het van hul gesig af net om genoeg asem in en uit te kry tydens die sang.
Om ons geloof nuut te verwoord in nuwe tye
Dit alles is die presiese rede waarom ek dink dat liturgie, gemeentesang en kerkmusiek van die heel grootste verloorders is weens die twee jaar se inperkingsmaatreëls. Die vraag is egter of ons as kerk in hierdie nuwe omstandigheid nog iets het om oor te sing? Het Covid dit reggekry om gelowiges se stemme stil te maak en hul lied te laat verstom?
Dit is uiteraard noodsaaklik dat gelowiges juis in tye soos hierdie steeds hul geloof moet verwoord. Nuwe en uitdagende omstandighede behoort eintlik die impetus te wees om die ou, vasstaande waarhede ook in die nuwe situasie te laat klink. Dit gee selfs die geleentheid om ons geloof nuut te verwoord – ook in nuwe liedere, sodat ons ook op nuwe maniere ons stem tot God kan laat klink en in nuwe omstandighede ons geloof kan verklank.
In Februarie vanjaar was daar by Gemeente Pretoria-Oos ’n geleentheid waartydens predikante, orreliste en ander belangstellendes blootgestel is aan 40 nuwe VONKK-liedere. Hierdie nuwe liedere handel almal oor die geboorte, lewe, sterwe en opstanding van Jesus Christus, asook sy hemelvaart, sy roeping vir sy kerk in die wêreld, en sy wederkoms. Dit het uitdrukking probeer gee aan die belangrikheid van die totale kerklike jaar en om dit wat ons in Jesus Christus ontvang het, opnuut met oorgawe te vier. Dit was ’n poging om liturge met so ’n verskeidenheid van nuwe liedere te help om in 2022 die heilsgebeure van God in Jesus Christus op ’n nuwe manier in die mond van die gemeente te plaas. Die kerk het in die Christusgebeure sovéél om oor te sing dat ons daaroor nooit uitgesing kan raak nie!
Deur nuwe liedere hieroor vir gemeentes aan te leer, probeer ons eintlik vir mense in nuwe omstandighede opnuut geloofstaal gee. Dit vervang op geen manier die liedereskat wat ons vanuit die verlede ontvang het nie, maar verbreed en verruim dit en help gelowiges om opnuut ’n stem aan hul geloof te gee.
Die rykdom van die liturgie
Ook die rykdom van ’n vol liturgie moet in hierdie nuwe omstandigheid eintlik herontdek word. Die ontmoeting van God en sy gemeente in die erediens en die viering van sy heil, is soveel meer as net die boodskap van die preek. Daar moet steeds op kreatiewe maniere ruimte geskep word vir mense om hul geloof saam in ’n nuwe omstandigheid te bely, hul onvermoë om ook in hierdie tyd God se wil te gehoorsaam saam te bely, en om ten spyte van moeilike omstandighede saam hul lof- en danklied tot God te laat klink. In sommige gevalle kan dit selfs nou die tyd wees om saam ’n klaaglied aan te hef.
Een van die dinge wat ons aan mekaar vasbind as Kerk, is ons verstaan van die liturgie, soos dit in die Diensboek na vore kom. Al lyk die inkleding van die erediens in verskillende gemeentes dalk effens anders, is die volle rykdom van eredienselemente tog deel van ons ooreengekome gemeenskaplikheid. Dis waarom Ordereël 2 dit duidelik verwoord: …’n gemeente handhaaf die eenheid van geloof, belydenis en liturgie met die ander gemeentes van die Kerk.
Eredienste in 2022
In ’n tyd waarin mense in wese getraumatiseer is deur dit wat gebeur het en waartydens ons getref is deur hoe veranderlik dinge in die wêreld is, is dit weer nodig om lidmate terug te lei na dit wat vir ons as kerk en as gelowiges vasstaan: die evangelie van Jesus Christus! Daarom is 2022 ’n jaar waarin ons in diepte aandag behoort te gee aan die rykdom van verkondiging deur die verloop van die kerklike jaar, maar ook die diepte van die ontmoetingsgebeure wat in ’n vol, kreatiewe liturgie plaasvind. Dis tog ’n uitdrukking van wat ons glo die hoop vir die wêreld is.
(Ds Hannes van der Merwe is leraar in Pretoria-Oos en programleier van die Kernkomitee: Erediens)