Mnr Johan Hattingh help dr Wouter van Wyk met die plasing van sy vlakvarke

Op Vrydag 30 Augustus het die sinodale personeel Clay Café in Montana met gemengde gevoelens genader. Ons vier Loslitdag 2024 en ons gaan verf! Sommige het presies geweet wat wag, maar sommige het gedink ons gaan mekaar se gesigte verf – wat gelukkig nie gebeur het nie!

Dit was ’n geskarrel van epidermiese proporsies. Kry ’n item om te verf, kies die verskillende kleure verf wat jy wil gebruik, en kies dan ’n templaat van die prentjie of ontwerp wat jy graag op jou item sal wil verf, kies tussen kwassies of sponsies, was jou item af in koue water, en kry ’n plekkie om te sit.

So tussen die geskarrel deur hoor jy iemand wat die woord reënboog gebruik, en daar weer iemand wat skakerings van pienk en groen met ’n spatsel geel wil inbring. Sommige was op soek na maklike prentjies terwyl ander die ingewikkeldste template nadergehark het. Katvoetspoortjies, blomme, unicorns, kaktusse, katbeelde, hasies met lang ore, vlakvarkies wat opdraande hardloop, meerkatte, blompotte en nog vele meer is ingespan vir die groot verf.

Soos ons mensdom maar is, het almal nie mooi geluister na die jongman wat die moets en moenies van hierdie verfprojekkie deurgegee het nie. Meerkatte is afgekrap en oorgedoen, verf is verdun en heelwat items is deur die winkelassistente gered.

Alhoewel ons luistervaardighede ’n bietjie werk nodig het, het ons kommunikasievermoë geen tekorte nie – almal het gesels en gekuier dat die verf spat. Die wafels en lekker drinkgoed het ook die gewerskaf interessant gemaak.

Om almal so in ligte luim te sien gesels, grappe maak en konsentreer op iets heeltemal buite ons verwysingsraamwerk, was goed. Goed vir die siel, goed vir die hart en goed vir die gees. Met aankoms het ek die vraag gevra: Is dit Loslit of los dit? Dit was definitief LOSLIT! 

Dr André Ungerer en sy botterbak

Vir sommige sal die dag jou kan herinner aan die woorde van Psalm 130 in die ou Psalm- en Gesangeboek van 1936: Uit dieptes, gans verlore, van redding ver vandaan, waar hoop se laaste spore in wanhoop my vergaan…

Ja, ons was uit ons diepte, maar redding vanaf die kenners was naby. Ons het net spore geverf want dit was die maklikste om te verf. Maar die belangrikste van hierdie dag was dat niemand wanhopig daar uitgestap nie. Ons kan die laaste deel van die jaar aanpak met meer kreatiwiteit as wat ons gedink het ons het.

Ons sien uit na die gebakte eindprodukte om afgelewer te word!

(Mev Clarika Hattingh is verbonde aan die Hervormde Teologiese Kollege)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap