Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In die tyd toe Jeremia hierdie preek aan die volk gelewer het, was die volk inderdaad in ‘n groot verknorsing. Josia, hulle gelowige koning wat werklik in die vrese van die Here gelewe het was dood. In sy plek was Jojakim nou koning, iemand wat die Here nie gevrees het nie, en wat almal rondom hom gebruik het tot sy eie voordeel. Hy was soos ‘n tiran, en niemand was veilig in sy eie huis nie.
Naas hierdie interne probleme, was daar ook probleme van buite. Die magtige Assirië was aan die kwyn, en Egipte, Babilonië, Medië en die Skithiërs was op die loer om Assirië in te neem. Daar was egter ‘n probleem: almal se paaie na Assirië het deur Juda gelei. Dus: Juda sou ook deurloop.
Nou in hierdie tyd, lees ons, gaan van die volk na die tempel op soek na ‘n bemoedigende woord. Hulle gaan met ander woorde kerk toe, daar waar die priesters en profete hulle moed kan inpraat. En wat hoor hulle? Inderdaad ‘n positiewe, bemoedigende en ondersteunende woord: moenie bekommerd wees nie. Dink gerus maar aan die tyd van Jesaja toe die Assiriërs ingegrawe gelê het rondom Jerusalem, in geweldige getalle. Ons het nie ‘n kans gehad nie. Julle onthou. En wat gebeur toe? Hulle het onverklaarbaar hulle goed gevat en geloop. Ja, dit was die Here se werk. Want die Here sal Sy tempel nooit prysgee nie.
En so, broers en susters, kon hulle die spreuk munt: Die Here se tempel, die Here se tempel, die Here se tempel is dit! Met ander woorde: presies soos die Babiloniërs van hulle tyd voorwerpe besweer het deur die naam drie keer daarvan te noem, so besweer hulle God nou om in die tempel te bly.
Sê hulle eintlik vir God: ons beveel U om in die tempel te bly. En vir die mense sê hulle: bring gereeld julle offers tempel toe, gee gereeld julle tiendes, en die Here sal hier wees. En wat sê vers 10? Die volk was so bly om dit te hoor, dat hulle dadelik begin sing het: ons is verlos! Al ons probleme is verby!
En al singende verlaat hulle die tempel. Maar dan staan iemand hulle voor. Staan iemand hulle voor met ‘n effens ander boodskap: julle vertrou op bedrieglike woorde. Die tempel van die Here bied geen beskerming nie. Julle laat julle om die bos lei omdat julle hoor wat julle graag wil hoor. Julle vertrou op valse woorde. En kom ek sê julle hoekom:
Aan die een kant verdruk julle die armes, die weduwees en wese en die vreemdelinge. Hulle wat spesiale beskerming onder die wet het. Daarmee saam hardloop julle vreemde gode toe. Met ander woorde: julle verbreek julle verhouding met God en met julle naaste, en dan kom staan julle so wraggies hier en sê: die Here se tempel sal ons beskerm.
Lyk my julle verstaan nie. Godsdiens bestaan nie net uit tiendes en offers nie. As dit by diens aan God kom kan ‘n mens nie jou lewe in kompartemente indeel nie. Jy kan nie een stel reëls vir die Sabbat hê en ‘n ander vir die res van die week, een vir die winkel en een vir die tempel, nie. God verstaan veel meer onder ware godsdiens as dit.
Aan die ander kant vertrou julle op valse woorde, omdat julle besig is om die tempel as ‘n rowerspelonk te gebruik. Julle maak met die tempel soos rowers met hulle grotte maak. Wat hulle buit, gaan steek hulle daar weg,. En dan gaan hulle maar weer uit, om nog goed te buit. Maar as dinge vir hulle te warm word, as hulle nie meer vrylik kan beweeg nie, dan vlug hulle terug spelonk toe om op hulle reserwes te leef.
Julle maak presies so. Julle dink dat julle met al julle offers en tiendes besig is om ‘n aardige ou reserwetjie by God op te bou. Dan gaan julle uit, die wêreld in, julle moor, julle steel, julle sweer vals, julle kom mense eenvoudig op elke terrein waar julle kan na. En sodra dinge vir julle te warm word, soos nou, kom julle terug tempel toe om op julle sogenaamde reserwes te teer.
Dus: God se tempel, is geen rowerspelonk of versekeringsmaatskappy nie. ‘n Mens kan God nie besit of manipuleer nie. ‘n Mens kan God nie kry sonder om ook sy wet te ontvang nie. En dit was dan ook hierdie mense se probleem: hulle was vol van die tempel, maar sonder God. Hulle wou God hê, maar nie ook sy wet nie. Hulle wou God as iets handig hê, net reg om gebruik te word wanneer hulle Hom nodig het. En wanneer hulle Hom nie nodig gehad het nie, moes Hy net rustig en stil op sy plek wees. Dan was die verstandhouding tussen hulle en God net reg.
Wat, broers en susters, is u en my verstandhouding met God? Knyp ons nie maar ook somtyds tussen die buiteblaaie van die kanselbybel vas nie? Probeer ons nie soms ook om God, wanneer ons hier uitstap, binne die kerk toe te maak totdat ons volgende keer weer kom nie?
Juis daarom, broers en susters, kan die woorde `die brood wat ons breek dui op ons gemeenskap met die liggaam van Christus’ en `die beker waaruit ons drink dui op ons gemeenskap met die bloed van Christus’ bedrieglike woorde, en ‘n gevaarliks gewoonte wees.
Want ons kan nie bely dat ons gemeenskap met Christus het as nie bereid is om met hulle rondom ons gemeenskap te hê nie. Ons kan nie die tafel met erns nader, as ons nie almal rondom ons ook met erns nader, benader en behandel nie. Ons kan nie sê: `die Here is Vader, die Here is Jesus Christus, die Here is Gees’, maar intussen lewe ons, al is dit hoe klein en onbelangrik in ons oë, teen God se gebod in nie.
Dit is óf die tafel en die gebod, óf anders is dit niks. Ja, ‘n mens kan die tafel ontvang, al leef jy in volgehoue ongehoorsaamheid, maar dit sal geen betekenis vir jou hê nie.
Want eers as ‘n mens se hele lewe ingeskakel is by die plan van God, eers as ons elke dag met die grootste erns met God en sy gebod omgaan, eers as ons onsself werklik inspan om God by elke aspek van ons lewens te betrek, kan ons met sekerheid sê, sonder om vals te hoop, sonder om op bedrieglike woorde te vertrou:
My enigste troos in lewe en in sterwe is dat ek nie aan myself nie, maar aan Christus behoort.
Daartoe wou Jeremia die volk by die tempelpoort beweeg. Daartoe wil God u vanoggend by sy tafel beweeg. Kom eet, kom kry weer die lewe, en gaan lewe God se lewe. Want eers dan sal u waarlik lewe! Saam met God, en reg voor God.
Amen