Covid, sosiale distansiëring, ontsmetmiddel, digitale vergaderings, pandemie, maskers. Als nuwe begrippe en woorde wat in 2020 heeldag gehoor word. Maar jeugbediening? Daarom my reaksie toe ek gevra word om daaroor te skryf: Watter jeugbediening? Soos die meeste van die bedieninge en funksies van die Kerk, is jeugbediening deur die grendelstaat gekortwiek en moes dit ’n metamorfose ondergaan.

Ja, daar was beplan vir jeugbediening in 2020. Duidelike dae uitgemerk op die Kerkkalender en met groot opgewondheid beplan. En toe kom die eerste Dear fellow South Africans

Maar wat is drie weke nou? Ons mis ons eerste jeugbyeenkoms en so ’n paar kategeselesse, maar dan sal ons weer begin. Toe die volgende Dear fellow South Africans… Hoe lank gaan die grendelstaat dan wees? Dalk moet ons maar opnuut begin planne maak en iets doen om jeugbediening weer lewe te gee.

Die eerste instink is om die nuut aangeleerde vaardighede van videoredigering in te span. Maklik man, daar kan mos net video’s gemaak word in plaas van kategese. Maar, fluister die stemme van professore in my oor, ons moet daarteen waak om net verbuikers van godsdiens te word. Goed, so dan kry ons die jongspan om deel te neem. Nuwe plan: Ons sal ook ’n Facebook challenge begin. #jeugbediening. Uitdaging nommer een word uitgestuur per boodskap na al die ouers op die jeug-WhatsApp-groep. Die uitdaging is om Psalm 121 se eerste vier verse uit jou kop te leer. Kan mos nie te moeilik wees nie en gaan minder tyd vat as om ’n rou eier in te sluk. Die kinders kan gebruik maak van kuns, voorwerpe, ritme of hoe dit hulle ook al sal pas om die versies te onthou. Dan maak hul net ’n video en laai dit op die gemeente se Facebookblad. Daar is een week kans om te probeer en groot pryse op die spel.

Die week is verby en al wat kom, is die inskrywings. #mislukking. Nie ’n enkele persoon reageer nie. Niemand nie! Nie eens daai getroue staatmakers wat by elke deurnag en fliekaand is nie. Ons eie kind is nog voorskools, so dalk sit ons die pot mis. Ons bel toe maar een van die ouers om ondersoek in te stel. Waarom het jul kinders nie deelgeneem nie? Dominee, ons is gedaan. Tot die dood toe moeg. Behalwe dat die kospotte en voltydse werke en ’n huishouding aan die gang gehou moet word, moet ons ook nou sommer die kinders se juffrou wees. En die skoolwerk vereis dat honderde rande se data gekoop moet word om huiswerk af te laai en weer op te laai. Daar moet toetse geskryf en skyfievertonings gekyk word. Die karate-meneer stuur ook al video’s. Dominee moet ons asseblief verskoon, maar ons het nie geld vir data vir kategese ook nie.

Tuis sukkel ons self met slegte internet, en ek besef dat dit weer tyd is om terug te gaan na die witbord vir idees vir jeugbediening. Maar in die spanningsvolle uitsonderlike omstandighede wat Covid ons bied, is dit nie dalk tyd om geheel te herbesin oor jeugbediening nie? Dalk moet kind en ouer tyd gegun word om te ontspan. Ja, as u in ’n omgewing bly waar breëbandinternet ’n gegewe is, dan is die moontlikhede legio vir interaksie met die jeug van die Kerk. Van instruksievideo’s oor hoe om ’n 3D-kruis te vou tot ’n virtuele koffiekantien via Zoom met die tieners.

Maar as dit nie vanselfsprekend is nie, ontspan. Een of ander tyd sal ons weer bymekaar kan kom, en ’n mate van normaliteit sal weer terugkeer. Die juffrou sal binnekort weer die wiskunde op “die regte manier” aan die kinders verduidelik, en jeugbediening sal weer al die kaalvoetkinders na die skattejag trek en die ouers ’n uur of twee se ruskans bied. Een ding is wel seker: Ons kinders en ons ouers is onder ’n ongelooflike klomp druk. Die werk van die Kerk is nie nou soseer om seker te maak die kinders raak nie agter met hul kategese nie. Nee, die Kerk se werk is om seker te maak dat ons aan die einde van hierdie pandemie nog steeds gesonde gesinne het.

As ons kan seker maak dat ons gesinne gesond bly, dat die spanning van hierdie lockdown nie permanente skade berokken tussen ouer en kind nie, sal die jeugbediening van die Kerk weer kan voortgaan. Sal daar steeds ouers wees wat hul kinders bring omdat hulle voel die Kerk het ’n rol om in hul kinders se lewens te speel. Vir nou sal ons daarop moet fokus om te ondersteun en nie nog laste op die ouers en kinders te plaas nie.

Die hoe verskil steeds in elke unieke konteks van gemeentes. In sekere areas sal dit kan werk om Google hangouts te stig waar die ouers kan saamkuier oor die uitdagings wat hulle ervaar of die kinders waar hulle die vrese van die nuwe normaal kan bespreek. Predikante en jeugwerkers kan daardie gesprekke fasiliteer. Maar in die meeste kontekste gaan dit beteken dat ons die telefoon moet optel en bel. Bel elke huisgesin en praat met elke lid van daardie huisgesin. Ons sien daarna uit om dit binnekort weer oor ’n koppie koffie te kan doen, maar intussen wag ons maar vir die volgende Dear fellow South Africans

Intussen kan ons op die ouers se harte druk om die belangrikheid van huisgodsdiens met hul kinders te besef. Intussen kan ons vir ons gemeentes se ouers en kinders bid en weet dat die Heilige Gees steeds in die kinderharte werk.

Tradisionele jeugbediening tydens Covid-19 is bykans onmoontlik. Maar ons moet steeds na mekaar omsien. Dis nou die tyd om uit te reik en sowel die ouers as die kinders te ondersteun. Om deur die sosiale distansiëring te breek en eerder verhoudings te bou deur middel van die tegnologie tot ons beskikking, gaan op die lang termyn meer beteken vir ons gemeentes as ’n duisend video’s en aktiwiteite wat voltooi moet word. In hierdie tyd moet ons nie praat van jeugbediening nie, maar eerder van familiepastoraat. Want dit is daar in die verhoudingslewe van ons gesinne dat die Kerk die grootste rol kan speel.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link