Broers en susters in onse Here Jesus Christus: 
Daar is baie dinge in die lewe wat ons kan probeer ontduik of vermy. Ons reël daarom ook ons lewe so dat ons sommige dinge nie hoef te beleef nie.

Maar een saak is absoluut nie ontwykbaar nie: die ontmoeting met God wag op elke mens. Elke mens, gelowig of ongelowig sal eendag voor God moet staan. ‘n Ontmoeting wat nie uitgeskakel, uitgestel of misgeloop word nie. Dit is soos Amos dit stel: ‘Maak jou klaar om God te ontmoet’.

Om te dink dat ‘n mens eendag so voor die heilige God moet staan, broers en susters, maak ‘n mens ontsteld. Meer nog: wanneer ‘n geliefde van ons sterf, maak dit ons ook ontsteld. Want ons wou nie eintlik afskeid geneem het nie. Ons wou nie nou al gegroet het nie. Die stem van die een wat naby ons was is nou vir altyd stil. En ons is alleen. En ontsteld. Ontsteltenis wat gesien kan word in ons trane, en as iemand in ons harte in kon kyk, sou hulle die ontsteltenis in ons harte kon sien.

In ons ontsteltenis, broers en susters, kom die Woord vandag na ons toe met ‘n wonderlike troosboodskap: ons is nie alleen in ons ontsteltenis nie. Jesus was ook ontsteld in sy lewe. God weet wat dit beteken om ontsteld te wees. Want op ‘n keer was Jesus Christus ook ontsteld. En sy dissipels. En kom ek verduidelik.

Johannes 14 speel af die aand voor die kruisiging van Jesus Christus. Die afskeid tussen Jesus en sy dissipels is dus voor die deur. Maar die dissipels weet nog nie dat die uur van afskeid gekom het nie. Hulle verwag dit glad nie. Jesus en sy dissipels het so pas Paasfees gevier. Die nagmaal is ingestel. Die voetwassing is verby. Alles is so pragtig. Alles lyk reg. Alles voel reg.

Maar dan gebeur iets wat die dissipels nie verstaan nie. Jesus kondig aan dat een van hulle Hom gaan verraai. En asof die nuus nie skokkend genoeg is nie, vertel Johannes ons in Johannes 13:21 dat Jesus hewig ontsteld geword het toe Hy hierdie nuus aan hulle meegedeel het.

En dit alles maak die dissipels ook ontsteld. Want hulle weet nie wat nou ewe skielik aangaan nie. Een oomblik is alles reg, en die volgende oomblik is alles verkeerd. Hulle Meester is hewig ontsteld, en uit sy mond kom woorde wat hulle ook erg ontstel: Hy praat van afskeid, van verloëning, van weggaan.

En daarom, broers en susters, troos Jesus Christus sy dissipels. En hoe troos Hy hulle? Kyk na die groter prentjie, sê Hy. Moenie net vaskyk in dit wat julle nou sien en ervaar nie. Nee, die lewe gaan oor baie meer as dit. Ja, Ek gaan weg, maar Ek gaan om vir julle plek voor te berei. En daar sal vir julle almal plek wees. Hulle wat my Vader as Vader aangeroep het, vir hulle almal sal daar plek wees.

En Ek is die weg na daardie Vaderhuis toe. So, wie in My glo, vir hom/haar sal daar plek wees. Ek is die weg daarheen. Wie in My glo, bevind homself/haarself nooit in ‘n doodloopstraat nie. Want Ek is die weg na die Vader. Wat meer is: Ek los julle nie alleen nie, want Ek sal my Gees vir julle stuur. Hy wat ook die Trooster is. Hy sal by julle wees, julle sterk maak en troos. En bo alles: as erfporsie ontvang julle ook vrede. Dit sal Ek vir julle gee. So, moenie ontsteld wees omdat Ek weggaan nie. Kyk na die groter prentjie. Daar is ’n rede hoekom Ek gaan. Ek is die weg. Ek gaan plek voorberei. En julle nie alleen laat nie. Die Gees sal by julle bly. En julle sal vrede ontvang. So, moenie ontsteld wees nie.

Net so, geliefdes, wil God vir ons vandag in ons ontsteltenis troos. Ook vir ons sê Hy: kyk na die groter prentjie. Laat ons nie ontsteld wees oor ‘n geliefde wie se stem nie meer gehoor sal word nie. Laat ons nie ontsteld wees oor ons eie dood wat wag nie.

Want by die Vader wag daar vir ons woonplek. En tot dan, gee Hy ons sy Gees, en sy vrede. Gawes wat geskenk word aan hulle wat werklik in Hom glo, aan hulle wat bereid is en was om hulle hele lewe aan Hom in die geloof toe te vertrou, aan hulle wat geglo het dat Hy alleen die weg, waarheid en die lewe is.

En is dit nie so waar, broers en susters, van **** van wie ons vandag hier afskeid neem nie? Het **** nie ook met **** hele lewe getoon dat **** Jesus Christus geken het nie? En met **** lewe vertrou het nie? Almal van ons vanoggend hier, ons wat **** goed geken het, sal kan getuig daarvan dat ook **** met oorgawe, met **** hele lewe bely het dat Jesus, en Jesus alleen, die enigste weg en waarheid en lewe is.

Ons neem vandag van **** afskeid. Want ons is mense, en mense neem afskeid van mekaar. Die mense, die gelowige mens, broers en susters, kan egter nooit van God afskeid neem nie. Want die dood het nooit die laaste woord in die lewe van God se kinders nie. Nee, die geloof het, die geloof in Jesus Christus en die geloof in die opstanding. ‘n Geloof wat sonder twyfel met oorgawe in **** se lewe geleef het en teenwoordig was.

Jesus Christus sê vandag vir ons, vir u en vir my:moenie ontsteld wees nie. Glo in God en glo ook in my. Ek is by julle. Ek gee julle my Gees, die groot Trooster, wat julle sal troos. Maar ek gee julle ook my vrede. Julle sal weer rustig wees, nie ontsteld nie. Dit sal Ek doen, deur my Gees.

En vir almal van ons wag die Vader se huis. ‘n Huis wat deur God self gebou is. ‘n Huis wat gewis en seker op ons wag. Ons kan ons woonplek daar nooit verloor nie. Daarom: moet nie ontsteld wees nie. In die huis van ons Vader is daar vir ons elkeen woonplek. Waar **** nou is, sal ons ook eendag wees. 
Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap