Broers en susters in onse Here Jesus Christus
Daar is ten minste twee dinge wat almal van ons wat van-dag hier is, met mekaar deel. Almal van ons is sondaars. Begenadig ja, maar sondaars. Voor God is ons daarom gelyk. In wat ons is, en wat betref ons ontsettende afhanklikheid wat sy liefde en genade betref. Ons almal het redding nodig.
Die tweede saak wat ons in gemeen met mekaar het, is die dood. Hierdie ongenooide gas, broers en susters, gaan eendag aan elkeen van se deur kom klop. Soos hy reeds aan tannie N se deur kom klop het. Maar kom sal hy kom. Want hierdie lewe is eindig. Die een oomblik is jy hier, en dan nie meer nie.
Hoor ons iemand het gesterf, is ons geskok. Dit is so finaal. Dit is so … oor. Verby. Maak nie saak wat jy doen nie. Al het jy dit verwag. Die dood maak ons soms ook sprakeloos. Want wat sê jy? Wat sê jy vir ‘n man wat sy vrou sonder voorbehoud liefgehad het? Vir ‘n kind wie se ma sterf? Vir ‘n ma wie se kleuter sterf?
Ons probeer. Ons prewel ‘n paar woorde. Soms vaar ons beter. Maar terwyl ons probeer weet ons: daar is eintlik nie veel wat jy kan sê om iets van die finaliteit anders te maak nie. Ja, ‘n mens wens soms dat jy Jesus hier langs jou kan hê om namens jou te praat.
Jesus is vandag hier langs ons, broers en susters, by wyse van spreke. Want in Johannes 14, wat ons so pas gelees het, praat Jesus oor die dood. Met ons oor die dood. Wat meer is: Jesus praat met ons oor sy eie dood. Johannes 14 is die begrafnisrede wat Jesus vir Homself gegee het. Die dissipels het nie geweet dat dit in wese sy afskeidstoespraak was nie. Eintlik het niemand geweet nie. Maar dit was. Hy het geweet dat sy dood die volgende oggend op Hom wag. Daarom het Hy oor die dood gepraat en so begin:
`Julle moenie ontsteld wees nie. Glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan’.
Wat wil Jesus hier vir ons sê? Vertrou My met julle dood. Wanneer jy voor die graf te staan kom, moenie ontsteld wees nie. Vertrou My net!
‘n Mens kry hier die indruk dat die graf vir God geen probleem is nie. Want Hy sê dit hier so terloops soos die dokter wat vir ‘n hoogs bekommerde en bang pasiënt sê: Ja, die ding aan jou been lyk sleg. Maar ek sal dit gou gou verwyder. Moenie bekommerd wees nie, oor ‘n maand is alles weer reg.’. Vir die pasiënt is so ‘n ervaring ‘n beproewing, maar duidelik vir die dokter geen groot saak nie.
Of kom ons neem ‘n ander voorbeeld. Dit gebeur dikwels, en het seker al dikwels in u lewe gebeur, dat een van ons kinders sommer so op die vloer of ongemaklik op ‘n bank aan die slaap raak. Wanneer dit gebeur tel ons hulle op en gaan sit hulle in die bed, daar waar dit warm en gemaklik is. Die kind weet nie eers daarvan nie, somtyds word hulle so effens wakker en protesteer, maar ons neem hulle bed toe, want ons weet op daardie oomblik van beter, waar dit vir hulle die beste is.
Doen God nie met ons maar net dieselfde nie, broers en susters, wanneer dit ons tyd is om te sterf nie? Dra Hy nie ook maar net vir ons na die plek van rus wat Hy vir ons bestem het omdat Hy meer weet as ons nie? Vir God is die dood nooit ‘n tragedie nie. Vir Hom is die einde van ‘n lewe eerder die begin van ‘n nuwe lewe.
Verder: wanneer ‘n kind so ongemaklik aan die slaap raak, en ons dra hom/haar bed toe, het u al gehoor dat iemand sê: Moenie haar vat nie. Ons sal haar mis. Hou haar asseblief hier dat ons almal saam kan wees. Maar as dit wel gebeur, hoe sal ons antwoord?
Seker iets soos: Nee, sy sal soveel beter rus en lekkerder slaap in haar eie bed. In haar eie kamer wat net haar kamer is. En buitendien, julle kan netnou gaan en vir haar nag gaan sê’.
Met ander woorde, broers en susters: deur ons na sy huis te roep, doen God maar net wat enige pa sou doen. Hy voorsien aan ons ‘n beter plek om te rus. ‘n Plek wat Hy vir ons voorberei het. Die hemel, sê Johannes 14, is nie ‘n plek vir massaproduksie nie, nee, daar is vir ons elkeen sy eie plek voorberei, ‘n plek waarby en waarin ons sal pas.
Daarteenoor, broers en susters, as ons baie mooi gaan dink, is die probleem met hierdie wêreld dat dit nie behoorlik pas nie. Ag, dit is goed genoeg vir nou, maar darem nie vir altyd nie. Ons is mos eintlik gemaak om saam met God te leef, maar hier op aarde leef ons in die geloof voor God. Ons is eintlik gemaak om ewig te leef, maar hier op aarde leef ons eintlik net ‘n oomblik lank. Ons is eintlik gemaak om heilig te leef, maar in hierdie wêreld is ons bevlek met die sonde en baklei elke dag hard daarteen.
Terloops, broers en susters: ek het al baie gedink dat dit eintlik vreemd is dat Jesus so min mense uit die dood opgewek het. Hy het honderde genees en gevoed, maar ek weet net van drie wat Hy uit die dood opgewek het: Jaïrus se dogtertjie, die seun by Nain en Lasarus. Waarom so min? Kan dit dalk wees omdat Hy geweet het Hy doen hulle geen guns nie? Kan dit dalk wees omdat geen vrywilligers kon kry nie? Kan dit wees dat as iemand eers daar is, die aarde die laaste plek is waarheen hulle wil terugkom?
Johannes 14 sê: Ons moet God vertrou. Ons moet Hom vertrou dat Hy nie slegs doen wat die beste is nie, maar dat Hy weet wat voorlê. En daarom moet ons Hom vertrou met die gedeelte van die lewe waarvoor ons heel waarskynlik die bangste is.
Ons moet God daarom vertrou. Luister gerus na wat Jesaja 57:1-2 sê: `Die gelowige mens kom aan sy einde, sonder dat iemand daaroor nadink of verstaan waarom dit gebeur. Die gelowige word uit die ellende weggeneem en gaan waar daar vrede is. Die wat ‘n opregte lewe gelei het, rus in hulle graf’.
Watter stof tot nadenke is hierdie woorde nie, broers en susters. God neem hulle weg uit die ellende wat voorlê. Sou ons daarom verkeerd wees om die dood as God se genade te beskryf? Waarom sterf ‘n agtjarige kind aan kanker? Waarom word ‘n jong moeder van haar kinders af weggeneem? So verskriklik as wat die graf ook al mag wees, sou dit nie dalk God se beskerming teen die toekoms wees nie?
Daarom: vertrou op God, dring Jesus by ons aan, en vertrou op My. Want Ek is in beheer. Ek weet die beste.
Oom (eggenoot): wanneer Paulus vir die Korinte gemeente skryf, praat hy juis hieroor. Die Jode soek wondertekens. Die Grieke wil alles met die kop uitwerk. Maar vir ons, sê hy, is die kruis van Christus, die wete dat ons op God kan vertrou, tot in die dood, kan glo dat Hy in beheer is, dat Hy beter – die beste – weet, genoeg. En ek weet oom (eggenoot), dat dit vir oom genoeg is. Juis omdat oom se verhouding met God (en N s’n) nog altyd vir ons almal ‘n voorbeeld was. Julle weet en het geweet wat dit beteken om afhanklik en rustig uit en in die hand van God te leef. As hier vanoggend iemand is wat sal verstaan wat dit beteken dat God in beheer is en die beste weet, dan is dit oom.
Dit neem nie die hartseer weg nie, dit neem nie hierdie ontsettende gemis weg nie. Maar hierdie wete bring ‘n ongekende vrede. Wat alle verstand te bowe gaan. En dit is geloof.
Mag God u daarom die geloof en die krag gee om so op Hom te vertrou, dat ook die dood iets is waarvoor ons nie meer hoef te vrees nie. Want die dood is nie die einde nie, dit is eintlik God se genade. Al klink dit vir ons hoe vreemd. Dit is egter wat God daaroor sê, en ons weet tog dat hy die beste weet.
Amen