ORDE 1 
LOFSANG
: Gesang 48:4 & 5 – Agter in die liedboek (gemeente bly staan) 
Gesang 207:1 & 4 
Lees van gelofte (gemeente staan en sit daarna)

Bloedriviergelofte van 1838 
“Mijne broeders en medelandgenoten, 
Hier staan wij thans op een ogenblijk voor Een Heilige GOD van hemel en aarde om een belofte aan Hem te beloven, als Hij met zijn bescherming met ons zal wezen, en onze vyand in onze handen zal geven, dat wij hem overwinnen, dat wij die dag en datum elke jaar als een verjaarsdag en een dankdag zooals een Sabbat in Zijn eer zullen doorbrengen, en dat wij een tempel tot Zijn eer stichten zullen, waar het Hem zou behagen, en dat wij het ook aan onzen kinderen zullen zeggen, dat zij met ons erin moeten delen, tot gedachtenis ook voor onze opkomende geslachten. Want de ere van Zijn Naam daardoor zal verheerlijkt worden, dat de roem en eer van de overwinning aan Hem sal worden gegeven”. 
[Hierdie bewoording is direk afgeskryf van die Gelofte wat op die plaat in die Bloedrivierlaer is]

Gebed (sluit skuldbelydenis in) 
Skriflesing: Johannes 15:18 16:4 [146]; 2 Timoteus 3:10 4:5 [281]

Geliefdes van die Here Jesus Christus 
Die tema aan die hand van ons gelese skrifgedeeltes is: Die kerk van Jesus Christus sal gedurende sy aardse bestaan altyd gehaat word en ‘n strydende kerk wees! Dit klink vreemd, nie waar nie? Hoe is dit te rym met die boodskap van die Bybel dat god liefde is, vrede gee en Here is oor alles en almal?

Die apostel Johannes verduidelik dit pragtig as hy die Here Jesus se eie woorde aanhaal: ”Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle”. [Jh 15:19b]

Wanneer die apostel Paulus aan die jong dominee Timoteus ‘n brief skryf dan sluit hy pragtig aan by dit wat die Here Jesus gesê het. In 2 Timoteus 3:12 staan daar: 
”Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word”.

Die kerk van Jesus Christus is en sal altyd strydende kerk wees:

  • Omdat hulle wat aan die Here behoort, teenoor diegene staan wat nie geantwoord het op die roepstem van die Here Jesus Christus nie!
  • Die stryd waarin die kerk van Jesus Christus sedert die vroegste jare gewikkel was en sal bly, het dus te doen met die stryd ter handhawing van die geloofswaarheid van Jesus Christus as Here, teenoor diegene wat dit wil vernietig, verdraai en/of ignoreer.

Ons kry egter in ons gelese gedeeltes ook ‘n tweede rede waarom die kerk van Jesus Christus altyd strydende kerk sal wees. In Johannes 15:21 staan daar: ”Maar hulle sal dit alles aan julle doen omdat julle My naam bely en hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie”.

In 2 Timoteus 3:14 en 4:24 staan daar: ”Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo….verkondig die Woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, want daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend”.

Die kerk van Jesus Christus of in ander woorde gesê

  • Hulle wat aan die Here behoort….
  • Hulle wat uitgekies is uit die wêreld….
  • Hulle wat die genade aanbod van kindskap met bedelaarshande aangegryp het en geantwoord het op die roepstem van die Here en só onderskei word van diegene wat nie in afhanklikheid reageer het nie.

Hierdie kerk het die roeping en opdrag ontvang om die woord van god te verkondig. Die bose ….. Die teenparty …. God se vyand en bedreiger van die kerk…. Wil dit ten alle koste verhoed dat Jesus Christus as die weg, waarheid en lewe erken, bely, gevolg en gedien word.

Dis die redes waarom die kerk van Jesus immer strydende kerk sal wees….en daarop moet ons voortdurend bedag wees!

Satan; die teenpartyhoof, sal nooit rus tot en met Christus Jesus se wederkoms nie. Hy sal alles in die stryd werp om dit waartoe hulle wat aan die Here behoort, geroep is, verdag te maak, te beveg en of af te water.

Wanneer ons hiermee saamstem en ons kyk dán na wat met gelowiges gebeur en steeds gebeur, dan behoort ons dit in ‘n heeltemal ander lig te sien en te verstaan, nie waar nie?

Sedert die vroegste verhale van ‘n Abraham, moses en Gideon van ouds om maar net ‘n paar te noem staan die boodskap soos ‘n paal bo water: 
Kinders van die Here word geroep om deur geloof heen die tree in die onbekende in te gee saam met god!…. En god dan te dank vir sy immerbarmhartige en reddende teenwoordigheid!

Paulus roep vir Timoteus op om “in alle omstandighede nugter te bly”. Daarmee word bedoel om voortdurend jou roeping en opdrag as kind van god voor oë te hou en te leef vanuit die belofte van die een wat jou geroep het in sy diens: In Johannes 16:33 staan daar ook: ”dit sê ek vir julle sodat julle vrede kan vind in my. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: ek het die wêreld klaar oorwin”.

‘n Kind van god is dus nugter wanneer hy/sy dié beloftewoord van die Here ter harte neem; gelowig daaraan vashou en onder alle omstandighede volhard in die handhawing van die waarheid van Jesus Christus as Here en in die uitdra van sy woord en wil in en teenoor die wêreld.

Liewe broeders, susters en kinders die Bybel vertel vir ons verhale van mense wat juis dit gedoen het, en enduit behoue gebly het vir die koninkryk van God! 
By Bloedrivier het gelowiges ook presies dit gedoen…..en oorleef! Bloedrivier….en dan spesifiek Geloftedag……het met geloof in god; gehoorsaamheid aan sy roeping én dankbaarheid teenoor ‘n getroue en reddende god te doen!

  • 464 gelowige mans het met die wapen in die hand stelling ingeneem teenoor ‘n ongelowige oormag impi van tussen 10 000 – 12 000….
  • Kinders van die Here ….. Draers van die waarheid dat Jesus Here is, het behoue gebly omdat hulle nugter gebly het toe alles om hulle letterlik en figuurlik swart was…
  • In die mees aangrypende en angsvolle oomblikke van voortbestaan is ons geloofsvoorouers beskerm, gedra en het hulle behoue gebly omdat hulle geloofsoë en geloofsore gerig was op die een van wie hulle getuig en aan wie se roepstem hulle gehoorsaam was ….. En omdat die Here van hulle lewens en hulle getuienis, immer getrou bly aan elke belofte…..wat die omstandighede ook al mag wees!

Geloftedag roep dus elke gelowige in Christus Jesus en daarom die kerk van Jesus Christus, op, tot hernieude toewyding en dank aan God! Hierdie hernieude toewyding het spesifiek daarmee te make dat ons sal doen soos ons geloofsvoorgeslag belowe het:

  • Om die Here met nuwe ywer te dien soos hy in sy woord van ons vra en dan spesifiek, om die rusdag in te rig soos god dit vra….
  • Om met ons kinders te praat en op te roep om soos dankbare mense te lewe wat uitgekies is uit die wêreld….wat deel gemaak is van hulle wat aan die Here behoort en wat in woord en daad die lig en redding vir die wêreld moet bring.

Ek is seker dat u met my sal saamstem dat die herdenking van Geloftedag, gesien teen hierdie agtergrond, meer is as maar net ‘n volksfees…..dis in die eerste plek ‘n dankfees! Al die eer kom god toe wat sy kinders nooit as weeskinders alleen laat nie en wat deur elke dal van doodskaduwee, herder en Here bly!

Ek is in die tweede plek ook daarvan seker dat u met my sal saamstem dat die gelofte, gesien teen hierdie agtergrond, steeds bindend is en bly!…. Kinders van die Here kan tog mos nooit enigiets anders wil doen as om te vertel van god se groot reddingsdade nie? Hoe sal verbondsouers ooit hulle doopbeloftes kan afmaak en sê: ”ek bind my kind aan niks nie, want dis nie reg om namens hom/haar beloftes af te lê nie?

Die gelofte se fokuspunt was nie wat die mens sal doen nie, maar wat God sal en kan doen en ook daadwerlik gedoen het.

  • Die gelofte en die herdenking aan die gelofte deur al die geslagte heen, wil die eer aan god gee wat leef en regeer in alle ewigheid!;
  • Wil begenadigde kinders van die Here opnuut bring tot hernieude oorgawe in geloofsgehoorsaamheid en dankbaarheid teenoor ‘n getroue en barmhartige vader wat reddend ingryp in sy kinders se lewens!

Met dit in gedagte is dit vir my as begenadigde kind van God ‘n saak van onmoontlikheid om te verstaan hoedat enige gelowige kind van god hom/haar ooit sal wil losmaak van die gelofte en die bedoeling daarmee!

Geloftedag is in die derde plek daarom ook ‘n geleentheid tot navraag na ons geestelike nugterheid…. Dit vra pertinent:

  • Kan ons en wil ons nog die geloofstree die onbekende ingee?
  • Is ons oë en ore nog ingestel op god se beloftewoorde of staar ons ons blind teen die sigbare oormag van afvalligheid, verdigsels, verleidinge en oormoed van die bose?

Broeders en susters….geloofsgenote…..geloftegenote…..

  • Kom ons rig ons hart en oog omhoog en stel opnuut in gehoorsame dankbaarheid ons lewens, geld, voete, stem in diens van die Here….
  • Kom ons leef getroos met die beloftewoord dat Jesus die wêreld reeds oorwin het en buig in belydenis wanneer ons sy heerskappy ignoreer, vergeet en/of ter syde stel;
  • En kom ons bly in alle omstandighede nugter, verdra lyding, en doen ons werk as verkondigers en draers van die blye boodskap van verlossing…..dan hoef ons geen onheil te vrees nie!

Amen

Ouderling: Genadeverkondiging, geloofsbelydenis en wet

Gebed/slotsang: Gesang 309: 13 
Seënbede

Share via
Copy link
Powered by Social Snap