(Deel voor die prediking ‘n skets van ‘n hand met vyf duidelike vingers uit, of vertoon dit elektronies)
Broers in onse Here Jesus Christus
Ons glo dat die Bybel God se Woord is. Die Bybel wil vir ons (eenvoudig gesê) twee dinge leer: wie en wat God is, en hoe ons gehoorsaam en dankbaar voor God moet lewe. Twee dingetjies: wie en wat God is, en hoe ons behoort te lewe.
Maar om dit uit die Bybel agter te kom, is nie so maklik nie. Want die Bybel is ‘n baie, baie dik boek met baie bladsye. Sommer net vir die interessantheid: die Bybel het 66 boeke, 39 in die Ou Testament, en 27 in die Nuwe Testament. Die hele Bybel het 31161 verse, 23204 in die OT en 7958 in die Nuwe Testament.
En ek dink julle sal met my saamstem: dit is darem baie verse. Hoe sal ‘n mens ooit alles kan onthou wat in die Bybel staan en wat die Bybel ons wil leer?
Maar ek het goeie nuus vir julle vanoggend: al is die Bybel so dik, is die Bybel se boodskap baie eenvoudig, so maklik dat ‘n klein kindjie dit kan onthou en verstaan. En ek wil vanoggend julle wat nog klein is help om dit wat ons van die Bybel behoort te weet, op ‘n maklike manier te verstaan en te onthou. En om dit te verduidelik gaan ek ‘n baie eenvoudige voorbeeld gebruik, iets wat elkeen van ons het – ‘n hand.
Hier op die prentjie is ‘n hand geteken, en die vingers op daardie hand is gemerk van 1 tot 5. En kom ons noem dit God se vyfpunt plan vir ons lewe.
Kom ons begin by vinger nommer 1 – die ringvinger. Wanneer ons kyk na die hand, dan sien ons daar is ‘n ring aan die ringvinger. Waarvoor staan hierdie ring? (gee geleentheid vir antwoorde). Dit is ‘n trouring, dit sê hierdie persoon is so lief vir iemand anders gewees dat hy gewillig is om sy lewe met daardie persoon te deel, elke keer wat hierdie persoon na daardie ring kyk, herinner dit hom aan sy liefde vir sy lewensmaat.
Wanneer ons die ringvinger as nommer 1 merk, dan wil die Bybel daardeur vir ons sê: God is liefde, God is lief vir ons. Liefde is die sentrale boodskap van die Bybel, van die begin tot aan die einde. Op baie maniere vertel die Bybel vir ons hoe lief God ons het, en hierdie liefde het ‘n hoogtepunt bereik toe God se Seun na hierdie wêreld gekom het, toe God se liefde sigbaar geword het – vir almal om te sien.
Van hierdie liefde van God lees ons in Johannes 3:16: ‘God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê’. Die eerste en die mees belangrikste boodskap van die Bybel is daarom die liefde van God.
Kom ons kyk na vinger nommer 2. Dit is die wysvinger. Wat doen ons met hierdie vinger? Ons wys wie is skuldig, wanneer ons kwaad is vir iemand, dan is dit met daardie vinger dat ons daardie persoon beskuldig, aankla en veroordeel. Dit is dan ook die boodskap van die wysvinger – ons is skuldig. Die Bybel leer vir ons dat mense sondig, en daarom is ons verlore.
Hiervan lees ons in Romeine 3:11-12: ‘Daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie’.
Die Bybel sê vir ons, dit maak nie saak wie jy is nie, dit maak nie saak hoe hard jy probeer nie, ons is sondig en doen sonde (verkeerde dinge). Daarom is ons anders as God, en daarom is ons verlore. Vinger 2 sê dit vir ons: God wys sy wysvinger na jou en my en sê vir ons: jy is skuldig, jy het verkeerd gedoen.
Wanneer ons dan kyk na die derde vinger, dan sien ons hierdie vinger staan tussen God se liefde en die dinge wat ons verkeerd doen. Hierdie vinger dui daarom op Jesus Christus wat sonde op Hom geneem het, wat namens ons kom betaal het. Hy het vir ons aan die kruis gesterf en so ons sondes weggeneem, en nou het ons ‘n Vader wat in die hemel is: God. Ons lees in 1 Johannes 4:9-10: ‘Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes’.
Soos wat vinger nommer 3 tussen nommer 1 en nr 2 staan, so staan Jesus tussen ons en God, bring Jesus ons en God weer bymekaar uit. En daarom is ons God se kinders.
Vinger nommer 4 is die duim. En met hierdie vinger moet ons ‘n keuse maak. As ons wys iets is reg, dan wys ons dit met die duim in die lug, of as dit verkeerd is, met die duim na onder. Daarom kom die duim met die boodskap dat die Bybel sê dat die mens moet ‘n keuse maak. Ek kan weet van God se liefde, ek kan bewus wees van my sonde en ek kan hoor van alles wat Jesus vir my kom doen het, maar dit kan nie daar bly nie. Ek moet ‘n keuse maak, ek moet kies vir God of teen God. Ek kan nie besluiteloos bly nie, die duim sê vir my ek moet kies.
Die Bybel sê dit ook vir ons in Johannes 1:12: ‘Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word’.
Wanneer ek hierdie keuse vir God gemaak het, bring dit ons by vinger nommer 5, die pinkie. Die pinkie is die kleinste en die swakste van al ons vingers, en daarom leer die pinkie vir ons dat ons voor die Here klein en nietig moet wees. Markus 8:34 sê dit vir ons mooi: ‘As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou’.
‘n Kind van God, iemand wat die keuse vir God gemaak het, is nie meer die belangrikste persoon in die lewe nie, wanneer Jesus my lewe aangeraak het, dan dink ek aan ander mense, dan leef ek nie meer net vir myself nie en my eie belange nie. Jesus, wat tog die Seun van God was, was gewillig om sy dissipels te dien, Hy was nederig, sagmoedig, liefdevol. En Hy vra van ons om dieselfde te doen.
Hier sien ons dat ons op ons een hand die boodskap van God se plan vir mense kan verduidelik:
Vinger 1: God is liefde;
Vinger 2: die mens is ‘n sondaar;
Vinger 3: Jesus se liefde kom staan tussen my met my sondigheid en God, Jesus bind my weer aan God se liefde;
Vinger 4: Ek moet ‘n keuse maak – vir God of teen God; en
Vinger 5: As ek vir God kies, moet ek klein wees, minder word en Jesus al hoe meer.
In 5 punte gee God sy plan vir jou en my lewe weer. As ons sê ons glo, moet ons volgens hierdie plan te lewe. Is dit nie wonderlik dat God met elkeen van ons ‘n plan het nie? Maar dan moet ons gaan lewe soos God van ons vra. Omdat Hy liefhet, moet ons liefhê. Omdat Hy vergewe, moet ons ook vergewe. En omdat Hy vir ons omgee, moet ons ook vir ander omgee.
Amen