Liewe jongmense in onse Here Jesus Christus

Julle ken mos daardie lekker drome wat ‘n mens graag wil droom.  Daardie soort droom waar alles mooi en goed en reg is en jy sterk en slim genoeg is om alles te kan doen.  En dan word ‘n mens mos wakker met so ‘n lekker gevoel dat die hele wêreld ‘n mooi plek is sonder enige probleme en hartseer.  ‘n Mens ervaar daardie lekker gevoel van sekerheid dat jy in beheer is van alles dinge.

Maar weet julle, daar is eintlik ‘n ander droom waaroor alles in hierdie lewe behoort te gaan.  Dis die droom wat elke jongmens oor Christenskap behoort te hê.  ‘n Droom oor die plek van Christus in jou lewe.  Droom jy oor Christus?  Of het jy al lank gelede opgehou om oor Hom te droom?

Het julle al agtergekom hoe maklik word jongmense op sleeptou geneem deur dinge wat anders of snaaks is.  So kan hulle maklik weggevoer word deur ‘n briljante prediker, ‘n gospelsanggroep of net ‘n lekker saamkuier geleentheid.  Hy of sy preek op ‘n manier wat ons baie van hou.  Soveel so dat hulle ons amper na ‘n droomwêreld toe kan wegvoer.  Hierdie mense kan ons motiveer sodat terwyl ons na hulle luister alles ‘cool’ en baie lekker is.  En as ‘n paar van jou pêlle ook voel soos jy voel dan dink julle dat julle op ‘n plek was waar julle die teenwoordigheid van God kon aangevoel het.  Dalk het julle nog baie lekker saam gesing ook sodat jy skoon hoendervleis gekry het daarvan.  Dan word Christenskap daardie plek waarheen ‘n mens kan wegvlug van alles wat pla en seer is.

Maar wat gebeur na hierdie lekker droomervaring van geloof en Christenskap?  Jy moet teruggaan in die harde werklikheid van die lewe.  Jy stap uit hierdie droombelewenis van Christenskap terug na die aaklige werklikheid van die lewe – terug na jou probleme, jou ouerhuis waar jy voel jy nie verstaan en aanvaar word nie, terug na jou skool waar jy voel almal pik op jou en terug na jou vriende wat agter jou rug lelike dinge van jou sê.  Terug na tydgenote wat nie meer ‘n probleem met alkohol en vrye seks het nie.

Skielik is daardie lekker droomgevoel weg!  Al die opgewondenheid en die lekker saamwees is weg!  Skielik is dit nie meer so ‘cool’ om ‘n Christen te wees nie.

Dis hoekom ons hier in die erediens bymekaar is.  Christenskap is nie ‘n mooi droom waar alles goed en reg is nie.  Christenskap is baie meer as daardie lekker saamwees gevoel. Die Christelike lewe is nie speel-speel soos in ‘n droom nie.  Heel aan die begin kan ons sê: Christenskap is nie ‘n droomwêreld waarnatoe ‘n mens kan ontsnap om weg te kom van die wêreld en al sy probleme nie. Christenskap is soos ‘n droom wat ‘n mens elke dag in jou lewe moet uitleef.  ‘n Droom wat jy waar moet maak deur jou optrede in die daaglikse lewe.

In Josua 5:13-15 het ons gelees van Josua wat so amper-amper sy groot droom sien in duie stort het. Maar God gryp in wanneer mense wil-wil wanhopig raak.

Die mense van Israel was vir baie jare lank die slawe van farao in Egipteland.  Hy het hulle baie hard laat werk.  Hulle het so swaar gekry dat hulle by God gepleit het om hulle te verlos.  God het die gesmeek van sy mense gehoor en Moses Egipteland toe gestuur om sy mense te gaan verlos.  Julle weet hoe God plae na Egipte gestuur het om farao te wys dat Hy die groot Koning van alle konings is.  Na die dood van die oudste kinders in die familie het farao die Israeliete laat gaan.

Nou was hulle vry en hulle droom van baie jare het uiteindelik waar geword.  Hulle was nie meer slawe nie.  Terwyl hierdie droom van hulle besig is om waar te word was hulle ongehoorsaam aan God. En as gevolg hiervan het hulle in die woestyn rondgeswerf en nie geweet wat hulle volgende gaan doen nie.  Eindelik was hulle besluiteloos: moes hulle bly of na ‘n volgende oase trek, waar gaan hulle iets kry om te eet ensovoorts.  So erg was hierdie rigtingloosheid dat baie van hulle begin terugverlang het na Egipte.  Dit was vir hulle beter om ‘n slaaf in Egipte te wees as om doelloos sonder ‘n droom in die woestyn rond te dwaal.

Die hele tyd wil God die Israeliete bemoedig om nie die droom van hulle eie land prys te gee nie.  God bly vir hulle vertel van hoe wonderlik dit in daardie land gaan wees.  Hierdie plek word in die Bybel beskryf met die uitdrukking ‘‘n land van melk en heuning’.  Dit is die droom waaraan baie van die Israeliete vasgeklou het.  Dit het hulle die krag gegee om met hulle lewens aan te gaan.

Toe hulle egter in die beloofde land aankom het hulle nie net melk en heuning daar gekry nie, maar ook die vyandige volke wat inwoners van hierdie land was.  Hierdie volke het nie Israel se droom van ‘n eie land gedeel nie.  Dit was juis hulle land wat Israel nou wou kom vat.  Hierdie mense sou veg vir die behoud van hulle land.

Israel het begin voel dat God hulle in die steek gelaat het.  Hulle is uit Egipteland weg met hierdie wonderlike droom.  ‘n Droom van ‘n plek waar hulle nie meer slawe sal wees nie maar vry mense.  Mense wat die vryheid het om te bly waar hulle wil bly in ‘n land wat oorloop van al die goeie dinge wat ‘n mens maar net van kan droom.  Noudat hulle droom uit eindelik besig is om waar te word tref ramp op ramp hulle.  Hulle kry die gevoel hulle droom is besig om aan skerwe te spat.  Al die swaarkry en die uithou was verniet.  God was ook nie meer ‘n deel van hulle droom nie.

Om hierdie angsgevoelens nog verder op te jaag kom hulle tot stilstand voor ‘n stad met baie hoë mure.  Mure wat gebou is om ander ouens se drome te vernietig!  Massiewe mure wat nie weggedink of weggewens kan word nie. Israel moes seker  by hulleself gedink het: nou is alles finaal verby.  Die droom lê aan skerwe!

Elke jongmens leef met ‘n droom.  ‘n Droom oor jou lewe, jou toekoms en alle mooi dinge wat jy graag in jou lewe wil hê.  Soms kry jy so ‘n kansie om skelm-skelm te sien hou jou drome bewaarheid gaan word.  En skielik as jy weer kyk staan jy voor die mure van Jerigo.  Mure wat jou drome wil vernietig.  Mure wat jou vaskeer en geen beweegruimte gee nie.  Mure wat jou in jouself en jou lewensdroom laat twyfel.  Mure wat jou in God laat twyfel.  Mure wat jou laat wonder of al hierdie dinge wat jy van God geleer, waar is.  Mure wat jou laat wonder oor God se bystand aan mense en Christus se liefde vir die sondaars.  Is alles net mooi woorde?  Mure kan alles vernietig wat vir jou mooi en goed is.  Mure kan selfs dit waarin jy glo, vernietig.

Kom ons wees eerlik met mekaar: die een of ander tyd loop ons almal ons vas teen ‘n soliede muur. ‘n Muur wat so hoog is dat niemand daar kan oorkom nie.  Jy kan nie oorklim nie maar ander kan ook nie oorklim na jou toe nie.  So weet God dan ook teen watter muur ek en jy ons vasgeloop het.

Die muur wat tussen jou en jou droom van ‘n lewe saam met God staan is dalk jou verhouding met jou ouers.  Dalk is dit jou verhouding met jou vriende.  Of dalk is dit ‘n lelik ding wat jy gedoen het en jy weet nie hoe om dit reg te maak nie.  Dalk was jy oneerlik in ‘n toets.  Dalk het iemand iets baie leliks aan jou gedoen wat jou vertroue in die mensdom geskok het.  Dalk is jy baie teleurgesteld in mense of dalk in jouself.  Dalk as jy in die spieël kyk is jou voorkoms hierdie muur wat tussen jou en jou droom staan.  As ek maar net anders gelyk het.

Wat ook al die geval mag wees – jy voel jy het jou vasgeloop teen ‘n muur.

Daar is dinge wat jy graag anders sal wil doen maar hierdie muur gee jou nie ‘n kans nie.  Jy sal baie graag die probleem wil oplos maar hierdie muur voel te hoog om oor te klim!  Ons leef in ‘n samelewing wat vir ons sê dat drome nie bestaan nie.  Hulle wil graag vir ons sê ons God help nie mense nie.  Gooi liewer tou op en doen niks.  Dit is die maklike uitweg wat die wêreld ons wil leer.  Die droom van Christenskap lê aan skerwe.  Wat beteken dit om oor iets te droom wat soos mis voor die son verdwyn as die strale van die lewe daarop val.

Gaan sit voor die muur en bejammer jouself.

Sit voor die muur en kritiseer alles en almal wat jou oor die muur wil help klim.

Gee die skuld vir almal behalwe jouself.

Draai weg van die muur af en maak of dit nie bestaan nie.

Geniet jou lewe en sê vir jouself ek sal more weer probeer om oor die muur te klim.

In die gedeelte wat ons gelees het staan Josua voor ‘n muur wat tussen hom en sy droom staan.  Hy sien ‘n man met ‘n ontblote swaard staan.  Sy eerste vraag aan hierdie man is: Is jy aan ons kant of aan die kant van die vyand?  Gaan jy ons droom vernietig?  ‘n Mens kry amper die gevoel dat hy sou kon dink: so naby en tog so ver. Josua het egter tot die besef gekom dat dit God is wat voor hom staan en daarom vra hy: “Wat wil U aan my, u dienaar, sê?” daarom het Josua ook voor Hom neergebuig en aan Hom die erkenning gegee wat ‘n mens net aan God gee.

Josua vra vir God aan wie se kant Hy is?  Gaan Hy hulle help om hulle droom te verwesenlik of gaan Hy hulle droom vernietig.  God antwoord NEE.  Hy is nie daar om kant te kies nie, Hy is die bevelvoerder van die leer van die Here.  Hy neem by Josua oor.  Van nou af is God in beheer en nie meer Josua nie.

God ken die muur wat jy jou teen vasloop.  God wil nie langs jou kom sit en saam met jou swaarkry nie.  Hy wil jou ook nie straf nie.  God staan tussen jou en die muur voor jou en Hy vra vir jou: IS JY AAN MY KANT?  Jy sal verstaan dat God nie vir jou vra: kan jy, of wil jy nie.  Hy vra nie wie se skuld is dit nie.  Hy vra: IS JY AAN MY KANT?  God het terwyl jy nog voor die muur vasgesteek het en gewonder het wat jy moet doen, lankal beheer geneem.  God is die bevelvoerder van jou lewe – terwyl jy nie herwaarts of derwaarts weet nie, neem Hy die beheer oor.  Geloof is daardie dinge wat God in jou lewe laat gebeur terwyl jy nog besig is om planne te maak.

Wat het Josua gedoen toe hy agterkom dat God beheer oorgeneem het?

Hy het in erkentlikheid diep voor God gebuig en die beheer van sy lewe aan God oorgegee.

Die oomblik toe hy besef dat dit God is wat voor hom staan het hy uit respek voor God neergebuig.  Hy het aan God die eer gegee wat ‘n mens normaalweg aan iemand sou gee wat baie belangrik is.  Hy betuig sy onderdanigheid aan God.  Hy laat God die bevel oorneem sonder om Hom te bevraagteken.  Hy laat God oorneem sonder om waarborge te vra of voorskrifte te gee.

Josua weet dat God die vermoë het om dinge te doen wat hy nie kan doen nie.

So is daar mure in ons lewens.  Ons is nie altyd slim of sterk genoeg om hierdie mure self af te breek nie.  Die enigste manier waarop jy  hierdie muur voor jou gaan breek is deur jouself aan God se beheer oor te gee.  Moenie God se bedoelinge as die bevelvoerder van jou lewe bevraagteken nie.  Moenie wonder of God dit vir jou sal doen nie.  Gee jou lewe oor in die hande van God wat alles in jou lewe ten beste wil laat uitwerk.  Al lyk hierdie lewensmure soms baie hoog moet jy weet dat niks vir God te groot of te klein is nie.

Die enigste manier waarop jy die stryd teen die muur in jou lewe kan wen, is deur jouself aan God oor te gee.

Dan vra Josua ‘n vraag: Here wat wil U hê moet ek doen?

As Josua God as die bevelvoerder van sy lewe aanvaar gaan sit hy nie een kant op ‘n hopie en laat God nou al die werk doen nie.  Hy vra uit na God se opdragte vir sy lewe.  Wat verwag die groot Bevelvoerder van hom as soldaat?  ‘n Goeie soldaat wag op die bevele van sy bevelvoerder.  Wanneer hy dit gekry het doen hy wat hy beveel is.

Is dit nie wat ons dikwels doen nie?  Ons aanvaar dat God beheer neem in ons lewens en dan sit ons terug.  As ons gebid het oor ‘n saak moet God doen wat ons gevra het.  Hy moet dit ook baie gou doen want ons wil nie baie lank voor hierdie muur in ons lewe stilstaan nie.  Soms verwag ons ook dat God dit op ‘n bepaalde manier moet doen.  Doen Hy dit op ‘n ander manier is ons baie ongelukkig.

Ons moet ophou om onsself te kul.

God is daar om ons oor die mure te help maar dan moet ons as aktiewe soldate in die leer van God veg. Doen die dinge wat God in sy Woord van jou vra.  As Jesus die wet opsom met die woorde “jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en verstand en alles wat in jou is.  En jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”, is dit wat jy moet doen.  Leef en praat soos ‘n kind van die Here.  Wees altyd gereed en bereid om in jou wêreld te getuig van die liefde van Jesus Christus.  As jy moet gaan regmaak waar jy verkeerd opgetree het, moet jy dit gaan doen.  As jy mense moet help, help hulle omdat jy graag wil. As jy moet nee sê vir daardie dinge wat jou droom van Christenskap bedreig, sê met oortuiging nee!  Gee jou hart, jou hande en voete vir God om te gebruik soos Hy wil. Terwyl hy die mure voor jou wegstoot moet jy die droom uitleef om sy kind te wees.  Jy is tot alles in staat deur Christus wat jou die krag daarvoor gee.

Dis die groot droom wat hier van sprake is.  ‘n Droom om te leef soos God dit van ons vra.  ‘n Droom om soos Jesus in liefde met mense omgang te maak.  ‘n Droom om groter en sterker as die mure in jou lewe te wees.  Die droom dat jy met die krag van God alle mure in jou lewe kan oorklim.  Leef die droom volledig uit. Jy kan dit doen want wat vir mense onmoontlik is is by God moontlik.  Leef die droom uit dat daar niks in hierdie wêreld is wat kan skeiding maak tussen jou en die liefde van Christus nie.

Al voel dit vir jou soms alles is hopeloos moet jy die droom van Christenskap uitleef.  Christene is dromers.  Maar nie dromers oor ‘n paradys waar die mens kan wegkruip teen die aanslae van die lewe nie. Maar ‘n droom waar jy die gewillige voetsoldaat is en God die aanvoerder van hierdie leer is.

Hoe gaan jy hierdie mure in jou lewe oorwin?

Deur jou droom as kind van God uit te leef.  Die Here is lief vir jou.  Jy is nooit alleen nie.  Jy kan dalk party dae sonder raad wees maar jy is nooit raadop nie. Jy kan dalk by tye moedeloos wees maar jy is nooit terneergedruk nie.

Jy moet ‘n jongmens wees wat in hierdie wêreld die droom uitleef dat God in beheer is van alle dinge.

Is jy ‘n dromer? 
Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap