Is ons nie terug waar Luther 500 jaar gelede, en Barth 100 jaar gelede was nie – baie goeie werke, en ’n afwesigheid van God?  So vra prof Natie van Wyk in ’n voordrag op die Tydskrif vir Hervormde Teologie (THT) se jaarlikse simposium wat hierdie keer gehandel het oor die Switserse teoloog, Karl Barth.

Prof Van Wyk se voordrag het gehandel oor Luther en Barth se voorwoorde tot hul Romeine-kommentare.  Beide het vroeg in hulle loopbane ’n kommentaar op die Romeinebrief gepubliseer, en albei hierdie kommentare het die gang van die teologiegeskiedenis sterk beïnvloed.

Luther het daarop gewys dat die oordrewe behoefte aan menslike erkenning nie dieselfde is as goeddoen ter wille van goeddoen nie.  Barth het benadruk dat die teenwoordigheid van God wat reeds in die koms van Christus aangebreek het, belangriker is as morele ideale.  Prof Van Wyk vra die kritiese vraag hierbo juis omdat mense in ons tyd groot klem plaas op gemeenskapsdiens waarvoor hulle graag openbare erkenning wil ontvang, terwyl daar dikwels weinig bewustheid is van die teenwoordigheid van God wat reeds met die koms van Christus aangebreek het.  Dít is – minstens vir die kerk – belangriker as morele ideale.

In dr Barry van Wyk se voordrag oor Barth se siening van die orde in die kerk het hy goed hierby aangesluit.  Barth se beklemtoning dat Jesus Christus Hoof is van die kerk én die wêreld (Ef. 1: 22, 23) is ongelooflik belangrik vir die Kerkreg, maar strek wyer en omvat alle kerklike handelinge,  maar selfs nog wyer om ook die hele gemeenskap in te sluit.  Kerkreg is diensreg – soos Jesus Christus die wêreld dien (Mark 10:45) en sy lewe afgelê het, word van die kerk en gelowiges verwag om in dieselfde gesindheid ook so te gaan doen.  Kerkreg is ook vir Barth liturgiese reg wat in die erediens gestalte vind, en lewendige reg wat poog om die lewende Heer as inhoud van die reg voortdurend op alle lewensfere van toepassing te maak.  Kerkreg is laastens vir Barth voorbeeldige reg wat ʼn voorbeeld stel vir ander samelewingsverbande soos die politiek, die ekonomie of die kultuur.  Kerkreg is uiteindelik die getuienis wat die broederlike gemeenskap van die kerk teenoor die wyer gemeenskap aflê van die middelpunt en hoop van ons geloofsgemeenskap: Jesus Christus.

 

Dr Kobus Labuschagne het gepraat oor Karl Barth se boek Die Christelike gemeenskap en die burgerlike gemeenskap (1946).  Barth, wat ’n leidende rol gespeel het in verset teen die Nazi-owerheid in Duitsland, het beklemtoon dat die Kerk nooit in die burgerlike gemeenskap geabsorbeer mag word of bloot daaraan diensbaar mag word nie.  Die kerk mag geen politieke orde met die koninkryk van Christus verwar nie.

Verder het prof Wim Dreyer gepraat oor Barth en die sending, en dr Elritia Le Roux oor die sondeleer by Barth.  Die simposium was ’n baie leersame geleentheid, en predikante wat dit bygewoon het (daar was ook ’n aantal ander ampsdraers en lidmate), het hiervoor VBO-punte verdien.

Die THT bied met die jaarlikse simposium ’n leergeleentheid wat vir die Kerk in die toekoms net al belangriker gaan word.  Miskien kan plaaslike studiebyeenkomste van predikante hierby aansluit.  Bydraes wat uit sulke gesprekke voortspruit, kan aan dr Elritia le Roux, nuwe redakteur van die THT, gestuur word.

Foto: Prof Natie van Wyk oorhandig ’n boek (Otto Weber, Karl Barths Kirchliche Dogmatik – Ein einführender Bericht) aan dr Le Roux uit waardering vir die rol wat sy by hom oorneem.

af
af
Deel met behulp van
Copy link