Daar is ’n gesegde dat diegene wat hul geskiedenis vergeet, gedoem is om dit te herhaal. Dit is een van die redes waarom die Kerkhistoriese Genootskap moeite doen om die Kerk se geskiedenis lewendig te hou. Vanjaar het die Genootskap tydens hul jaarlikse kongres, gehou by Gemeente Wonderboom-Suid op 19 September 2024, weer ’n besonderse mylpaal herdenk – Van der Hoff, die Teologiese Studentevereniging, se 100-jarige bestaansviering. Daarom is daar ook aandag gegee aan die Kuratorium en die Fakulteit se rol in die Studentevereniging se bestaan die afgelope 100 jaar.

Dr Christo Pretorius het ’n deeglike uiteensetting gegee van die mylpale, byeenkomste en vrae waarmee Van der Hoff hulself oor die jare besig gehou het. Klik hier om die skakel met sy aanbieding te volg. Ds Willem Dreyer het aangetoon hoe die Kuratorium en hul keuse van dosente ’n bepalende rol gespeel het in die teologiese opleiding. Sy aanbieding kan hier gevolg word. Prof Jaco Beyers het ’n blik gegee op die teologiese klemtone wat deur die jare na vore gekom het by die Fakulteit en hoe rekontekstualisering ’n rol speel in die beoefening van teologie by die Fakulteit. Volg gerus sy aanbieding hier.

Die Kongres is afgesluit met die jaarlikse vergadering, en die volgende predikante is verkies as bestuurslede: Di Willem Dreyer as voorsitter, Waldo Pretorius as sekretaris, en Stephan Botha as Dagbestuurslid.

(Ds Waldo Pretorius is predikant in Gemeente Ventersdorp en sekretaris van die Kerkhistoriese Genootskap)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap