Daar is mense in die wêreld wat die idee het dat God die een of ander tiran is wat daarop uit is om enigiemand wat nie voldoen aan sy verwagtinge nie, te kasty en te straf. Kersfees vee al sulke idees van die tafel af.

Die beeld van ’n harde God wat net daarop uit is om te straf, word weerlê wanneer ons ontdek dat ons God sy Godheid neergelê het en sy hemelse blyplek prysgegee het om as ’n Babatjie in Betlehem gebore te word. Wat ons besef met die geboorte van Jesus, is dat God ’n liefdevolle Persoon is, wat gewillig was om sy mag op te gee ten einde uitdrukking te gee aan sy liefde vir ons.

Søren Kierkegaard, die 19de-eeuse teoloog en filosoof, het vertel van ’n prins wat verlief geraak het op ’n doodgewone, vaal meisietjie. Die prins het geweet dat as hy hom aan haar sou voorstel met al sy koninklike draperings, sy te oorweldig sou wees deur hom. Sy mag en majesteit sou haar te magteloos laat voel het om vrylik te kies om hom lief te hê. Omdat hy dit besef het, het die koning sy koninklike klere uitgetrek en sy kroon opsy gesit en aangetrek om by haar te pas. Hy het geword soos sy, sodat sy meer vrymoedigheid sou hê om te kies om hom lief te hê of nie.

Net so was dit met God daardie eerste Kersfees. As Hy nie gewillig was om sy mag as’t ware opsy te sit nie, sou dit onmoontlik gewees het om Hom lief te hê. Ons sou nie die vryheid gehad het wat ons nodig het om liefde te kies, as God met mag alles beheer het nie. As alles wat ons gedink en gedoen het onder sy beheer was, sou liefde, vrylik gegee, nie moontlik wees nie.

Sosioloë wat reeds vir ’n lang tyd persoonlike verhoudings bestudeer, het gevind dat mag en liefde nie tegelykertyd uitgedruk kan word nie. In enige verhouding, wys hulle, is die persoon met die meeste mag die een wat die minste liefde wys. Dink aan ’n getroude paartjie waar die vrou die man intens lief het, maar hy stel nie belang om verder getroud te wees nie. Wie van hulle het die meeste mag? Hy het, natuurlik. Haar liefde het haar kwesbaar gemaak om uitgebuit te word. Liefde doen dit! Daarom het Friederich Nietzsche, die vader van moderne ateïstiese eksistensialisme, gespot met liefde toe hy gesê het: Die wil na mag!

Die goeie nuus is dat God meer as 2 000 jaar gelede sy liefde gewys het deur Homself te ledig van alle mag en na die wêreld te kom as ’n kwesbare, brose Babatjie. Die Betlehem-kind is niemand anders nie as die Skepper-God, wat een van ons geword het. Daar is geen groter liefde as dit nie! Daardie liefde het Hom kwesbaar gemaak. Ons sien dit in die lewe van Jesus. Daardie kwesbaarheid is duidelik gemaak op Golgota. Die Bybel sê aan die kruis het God deur Christus die wêreld met Homself versoen (2 Kor 5: 19). Aan die kruis sien ons hoe ver God se liefde sal gaan. Hy was gewillig om ’n pynlike dood te sterf, eerder as dat ons vir wie Hy onuitspreeklik lief is, ’n vreeslike dood moes sterf en vir ewig verlore moes wees.

Van Betlehem tot Golgota leer ons dat God nie ’n veroordelende God is nie, maar ’n vriend vir sondaars. Ons lees in Romeine 8: 1: Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Wees dankbaar teenoor die God wat bereid was om so kwesbaar te word, om as ’n Babatjie na ons toe te kom, omdat Hy ons lief het. Ons God het enige gedagte dat Hy wreed en ongenaakbaar is, met sy geboorte uitgewis. Sy koms na ons in Jesus is al bewys wat ons nodig het dat ’n verhouding met ons elkeen sy diepste begeerte is. Dat Hy wil hê dat elkeen van ons Hom sal ken as Vader.

Geseënde Christusfees!

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link