’n Kort verhaaltjie. ’n Skooljuffrou vra haar multikulturele klassie om die volgende dag iets skool toe te bring wat hulle herinner aan hul godsdiens. ’n Katolieke dogtertjie bring toe haar gebedsnoertjie en sê dit is vir haar ’n simbool van “ek hoort iewers”. ’n Joodse seuntjie bring sy yarmulka, die petjie wat Joodse mans dra, en sê iets soortgelyks. ’n Moslem-seuntjie bring sy gebedsmatjie, en sê dit is wat hom aan sy geloof herinner. ’n Dogtertjie van die Hervormde Kerk bring ’n pan en sê: Juffrou, dis die pan waarmee ons pannekoeke vir die basaar bak.

Miskien lê daar meer waarheid in hierdie kort verhaaltjie as wat ons graag sou wou toegee. Dit bevestig die armoede aan ryk en betekenisvolle simbole in ons eie Kerk. Meer nog, dit bevestig iets van ons kinders se belewenis van kerkwees.

Kinders se uitsluiting van die Nagmaal, een van ons twee sakramente of heilige simbole in die Kerk, word al baie lank gedebatteer. Sommige argumente haal tekste aan vanuit die Ou Testament om te bevestig dat kinders altyd deel was van die pasga en daarom deel moet hê aan die Nagmaal. Hierdie argumente word deur die teenpartye weerlê deur daarop te wys dat die pasgamaaltyd en die Nagmaal darem nie dieselfde is nie!

Uit die Nuwe Testament is daar argumente wat veral fokus op 1 Korintiërs 11: 23-30 waar verwys word na die instelling van die Nagmaal. Die fokus is nie op die woorde wat verwys na die oorsprong van die Nagmaal nie (23-25), maar op verse 27-30 wat verwys na die “ongepaste gebruik van die nagmaal” en die “selfondersoek” voordat die Nagmaal gebruik word. Die aanname word sonder meer gemaak dat kinders nie die vermoë het om te besef dat die simbole van brood en wyn na die bloed en liggaam van Christus verwys nie. Onderrig eers kinders, leer hulle al die feite totdat hulle 17 jaar oud is, sodat hulle tog nie “’n oordeel oor hulself” drink en eet nie.

Dus, om kinders te weerhou van deelname aan die Nagmaal, is eintlik die Kerk se manier om kinders sowel as die sakrament te beskerm. Ons lees hierdie gedeelte nie verder nie – vers 35 vermaan dat “die broers” (let wel, net die Broers!) eers vir mekaar moet wag voordat hulle sommer net wegval aan die brood en wyn. Hulle moet sorg dat hulle nie honger is wanneer hulle hulle aan die Nagmaaltafel bevind en sodoende vrate van hulself maak nie. Paulus waarsku teen faksievorming en dronkenskap in die gemeenskap, nie teen onkunde nie. Die inwoners van die Korinte-gemeenskap het die Nagmaal gebruik as ’n geleentheid om hul rykdom en status ten toon te stel. Die oproep tot selfondersoek is dus ’n morele opdrag – “Broers, gedra julle!” Geen verwysing na kinders of onvolwassenes wat moontlik die Nagmaal mag ontheilig omdat hulle nie alles verstaan nie.

Inderdaad gee hierdie gedeelte, en weliswaar geen gedeelte in die Skrif, duidelike riglyne oor kinders se deelname aan of uitsluiting van die Nagmaal nie. Ander argumente neem ons weer op ’n pad terug in die geskiedenis – kinders was aanvanklik deel van die gebruik van die Nagmaal en is later uitgesluit.

Dalk moet ons by ’n ander plek begin. Ons begin by die Evangelie. Nie by Matteus, Markus, Lukas en Johannes nie, maar by die Evangelie. By Jesus. Jesus is die Evangelie. Wat sê die Evangelie oor kinders? Die Evangelie ontvang kinders. Die Evangelie sê: Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die Koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Afhanklike mense. Mense wat nie alles met hul rasionele denke en logiese redenasies probeer uitpluis nie. Die Evangelie het sy arms om hulle gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën (Mark 10: 13-16; Matt 18: 1-5; Luk 18: 15-17). Die Evangelie se houding teenoor kinders, soos vertel deur die evangelies, was radikaal nuut. Kinders kom om die bekende Leermeester se seën te ontvang. In die Joodse kultuur was kinders die leerlinge wat gevorm moes word om volwaardige mense te word. Die Evangelie draai alles om. Die Leermeester identifiseer Homself met kinders, en die grootmense word die leerlinge.

Hierdie openheid van die Evangelie teenoor kinders was nog altyd deur ons Kerk gebruik om die kinderdoop te ondersteun. Kinders kan gedoop word en geen begrip toon van die inhoud van die Doop nie. Ons formulier vir die Doop vra vir ouers om hul kinders te leer wat die Doop beteken, en ons kinders moet in die lewe van die geloofsgemeenskap ervaar wat dit beteken om aan God te behoort. Die Doop sê vir kinders dat hulle behoort. Vreemd dan dat die Nagmaal in ’n ander kategorie val – kinders kan nie die Nagmaal gebruik nie, omdat die aanname gemaak word dat hulle nie begrip het van die inhoud van die Nagmaal nie. Begrip word blykbaar gevorm deur kategese of onderrig deur baie woorde! Begrip word die voorwaarde vir behoort.

Die Kerk se handboek vir graad 11-kategete verduidelik die Nagmaal. Dit is nodig dat ons geloof op die een of ander manier versterk moet word. Ons sê mos: Sien is glo. Jesus leer ons nie net met woorde dat ons verlos is nie, Hy gebruik ook tekens of simbole om ons geloof in Hom te versterk. Hy het sy volgelinge ook beveel om gereeld Nagmaal te gebruik, sodat hulle altyd aan Hom kan dink en hul geloof versterk kan word. Deur brood en wyn te gebruik, verduidelik Jesus dat ons deur sy liggaam en bloed verlos word van ons sondes. Die tekens van die sakramente verlos jou nie. Jesus verlos jou, en nie die sakramente nie. Die brood en wyn is maar net simbole of tekens van die liggaam en bloed van Jesus, tekens wat heenwys na dit wat Jesus vir ons gedoen het. Dit bevestig net op ’n sigbare en tasbare wyse dit wat Jesus gedoen het. Ons hoor nie net van ons verlossing nie; sakramente laat ons met ons oë, hande en monde sien en voel en proe dat ons verlos is.

Begrip van die simboliek van die Nagmaal is soveel meer as net rasionele kennis – dis ’n volledige belewenis. Is kinders dan nie in staat om ook met hul oë, hande en monde te sien, voel en proe dat hulle verlos is nie?

Prof Cas Wepener verduidelik in Kerkbode (22 September 2021) iets van die krag van simbole: Ons kan die betekenis van ’n simbool ook opdam. ’n Sluis van verduidelikende woorde bou, die sluisplanke van uitleg laat sak en so die simbool, vloeiend en kragtig met ’n oorvloed betekenis, vaskeer en van ’n simbool ’n teken maak. ’n Teken het slegs een betekenis. Dan het ons vlakwater. Minder is meer. Hoe minder verduideliking, hoe groter die kans dat deelnemers selfs ook met hulle verstand én sintuie deelneem aan die proses van betekenisgewing. En dalk ook die moontlikheid gebied word vir ’n Godsbelewenis so diep, ryk en geskakeerd soos die verhale van die Bybel wat oor God getuig.

Dalk moet ons inderdaad ons baie (en dikwels onvolledige) woorde van die Nagmaal weerhou en onsself oopmaak vir die ryk betekenis van die simbool van die Nagmaal. Daarby ook kinders toelaat om self met hul sintuie deel te neem aan ’n proses van betekenisgewing. Kinders kan sien, glo en beleef dat hulle aan God behoort, dat hulle verlostes is, dat hulle net so deel is van die geloofsgemeenskap soos volwassenes.

Wanneer ’n geloofsgemeenskap – klein en groot – saam Nagmaal gebruik, deel hulle ’n ervaring wat geloofskeppend en geloofsverrykend is. Die Nagmaal is nie net ’n verklaring van God se verlossende liefde nie, dit is ook ’n bevestiging dat God se selfgewende liefde die kern van die skepping is. Kinders het die ongelooflike vermoë om op hierdie verklaring van liefde te reageer met verwondering, vreugde en waardering. Volwassenes en kinders wat saam brood en wyn/druiwesap deel, kan by mekaar leer om die volheid en rykheid van God se liefde te beleef. Wanneer Christene deelneem aan ’n gebeurtenis, ’n ervaring wat so ryk aan betekenis is, is daar inderdaad ruimte vir mense om op baie verskillende vlakke verstandelik, geestelik en emosioneel te reageer – hoe onvoldoende sommige van hierdie reaksies ook al vir ander mag lyk. Vir kinders spreek dade meer as ons woorde. Deelname van kinders aan hierdie kragtige simbool van die Nagmaal is ’n leerervaring waar al die sintuie teenwoordig is. Dis ’n leergeleentheid waar kinders, soos volwassenes, iets kan beleef van God se liefde, deernis en teenwoordigheid – waar kinders (en grootmense!) tasbaar, sigbaar, God se omgee kan beleef.

’n Herinnering wat by my spook, is ’n geleentheid waar ek aan drie- tot sesjariges eenkant verduidelik het wat in die kerk gebeur terwyl hul ouers besig is om Nagmaal gebruik. Ek het mooi verduidelik wat die betekenis van die brood en wyn is. Ons het ook eenkant, baie plegtig, ’n stukkie broodjie geproe en ’n slukkie druiwesap gedrink. En toe die vraag van Ruben: Dominee, hoekom mag ons dan nie saam met Pappa en Mamma Nagmaal gebruik nie? My antwoord was: Julle verstaan nog nie – julle is te klein. Ruben se antwoord het my uitgeboul: Dominee het vir ons nou mooi verduidelik en gewys. So, wat is dan die issue? Ek wonder nou nog: Wat is die issue?

*** Kyk by www.nhka.org/amptelik/algemene-kerkvergadering-akv/ vir die studiestukke oor Kinder-nagmaal met die oog op die 73ste AKV in Oktober vanjaar.

(Dr Sanrie de Beer is leraar in Gemeente Philadelphia)