Ons kindwees lê vlak. Eintlik dra ons almal die kind wat ons was met ons saam. Dit is ’n kosbare deel van ons lewe.

Om kind te wees, het iets te doen met ouderdom, maar dit het ook te doen met sorgeloosheid, uitbundigheid, ondersoek, ontdekking. Kinders hardloop rond en ontdek die lewe. Maar dit kan hulle net doen omdat hulle weet dit is veilig – Mamma en Pappa is binne sig of net om die hoek.

Van die begin van die mensdom af was daar kinders, en kinders is deel van huisgesinne. Huisgesinne is die boublokke van gemeenskappe en volke. As die huisgesin gesond is, is die gemeenskap ook gesond.

Juis dit veroorsaak vandag kommer. Daar is te veel kinders wat moet grootword in gesinne wat nie gesond is nie. Daarmee word nie bloot verwys na enkelouergesinne nie; selfs nie kinders wat wees is en by aanneemouers of pleegouers moet grootword nie. Dit is eerder gesinne waar die kernwaardes van liefde en sorgsaamheid ontbreek; wanfunksionele gesinne waar drank en dwelms en fisiese of verbale geweld dit ’n baie ongesonde plek maak. ’n Mens sien dit aan ongemanierdheid, beledigende taal en selfsugtigheid.

Reeds in die tyd van die Bybel was daar kommer oor gesonde gesinsverhoudings. Die brief aan die Efesiërs praat in sy tweede helfte oor hoe gelowiges behoort te lewe, en dan veral oor verhoudings. Hy praat in hoofstuk 5: 21 oor die huisgesin, en begin met die stelling: Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. Dit pas hy toe op die verhouding tussen man en vrou in die huwelik, en hy vergelyk dit met die verhouding tussen Christus en sy kerk. Hy noem daardie verhouding ’n misterie – iets wat ’n mens kan ontleed en beskryf, maar nooit werklik kan raakvat nie, want daar is ’n dimensie daaraan wat buite woorde lê.

Dan praat hy oor ouers en kinders. Hy spreek die kinders van die gemeente direk aan: Julle kinders! trek hy hulle aandag. Julle moet gehoorsaam wees aan julle ouers. Hy gee nie net die opdrag nie – hy gee ook die rede: …as gelowiges moet julle gehoorsaam wees, want dit is soos die Here dit verwag. Gehoorsame kinders is na God se sin. Dit staan al in die tien gebooie: Eer jou vader en jou moeder. Die skrywer haal daardie gebod aan, en voeg die aansporing van God se belofte by: …dit sal met jou goed gaan. ’n Kind wat sy of haar ouers gehoorsaam en eer, sal ’n goeie lewe hê. ’n Kwaliteitlewe. ’n Vervulde lewe. So ’n kind se hart sal gelukkig wees.

Maar dit moet egte eerbied wees. Kinders moenie heeltyd brom as hulle iets moet doen nie; hulle moenie by hul maats lelik praat oor hul ouers nie; hulle mag nie hul ouers vloek of vervloek nie. Dít is geen gehoorsaamheid nie! ’n Kind moet besef dat die liefde en sorg van ouers iets besonders is, iets wat gewaardeer en gekoester moet word.

In die gees waarin hy vir man en vrou gesê het hulle moet aan mekaar diensbaar wees, want dit is wat onderdanig hier beteken, praat hy ook nou met die ouers. Kinders moet gehoorsaam wees, ja, want dit is soos die Here dit van kinders verwag. Gehoorsaamheid is ’n teken van eerbied.

Maar ouers moet ook weet dat die Here van hulle as ouers verwag om reg op te tree teenoor hul kinders. Hulle moet hulle nie opstandig maak nie. Die woord wat hier staan, beteken eintlik “woedend”. Ouers, moenie jul kinders so behandel dat hulle woedend en opstandig word en dat die kosbare verhouding verbrokkel nie. Hoe doen ouers dit? Hoe maak hulle hul kinders opstandig? Daar is ’n hele lys.

AAN DIE KINDERS
Opdrag: Gehoorsaamheid/eerbied
Voorwaarde: In die Here…
Belofte: Kwaliteitlewe en lang lewe
Kompas: Dit is reg…

AAN DIE OUERS
Waarskuwing:

Moenie kinders kwaad maak nie deur –

  • oorbeskerming
  • witbroodjies
  • te hoë verwagtings
  • afbrekende kritiek
  • slegsê
  • liefde gebruik as beloning of straf
  • fisiese of verbale kastyding

Vir ons kinders moet ons sê: Die Here is lief vir julle en het ’n wonderlike plan vir jul lewe. Soos jou lewe ontvou, sal jy daardie plan ontdek, en jy moet oop wees daarvoor. Om ’n goeie lewe te hê, moet jy jou ouers eer. Hulle is lief vir jou en wil net die beste vir jou hê. Soms moet hulle streng wees, juis om jou te beskerm. Soms maak hulle ook foute, want hulle is net mense. Maar eer hulle, want dit is soos die Here dit wil hê.

En vir die ouers: Behandel jou kinders reg. Wees lief vir hulle. Begelei hulle om die lewe veilig te ontdek. Moenie skroom om streng te wees as dit nodig is nie. Maar moet ook nie onmoontlike eise stel sodat hulle opstandig word nie. Dit is jou plig as ouer om jou gesin gesond te hou, want jy is die grootmens. Eer jou kinders – hulle is ’n lewende perkament waarop jy besig is om kosbare geskiedenis te skryf.

So bou ons gesonde en gelukkige gesinne, soos die Here dit wil hê.

(Dr Piet van Staden, emeritus, is predikant in Gemeente Worcester)