Die Apollo-maanlanding in 1969 het nie regtig plaasgevind nie – dit is deur NASA en die Amerikaanse regering vervals ten einde mededingers in die ruimtewedloop uit te stof. HIV veroorsaak nie VIGS nie en antiretrovirale middels is gevaarlik. Die Illuminati is ’n geheime vereniging wat alle wêreldmagte en regerings beheer. Die aarde is nie rond nie, maar plat.
Samesweringsteorieë is al vir baie lank deel van populêre kultuur. Een van die jongstes en gevaarlikstes is: Klimaatsverandering is ’n fiktiewe probleem wat deur duistere magte met hul eie agendas geskep is.
Terwyl ontkenning in sekere kringe toeneem, word die hoogste gemiddelde wêreldwye daaglikse temperatuur in die geskiedenis op 22 Julie vanjaar aangeteken – en breek sodoende die rekord wat die vorige dag opgestel is. Hierdie twee rekorddae volg op 13 maande van ongekende warm temperature en die warmste jaar sedert wetenskaplikes rekord hou. Volgens berigte sal vorige gasheerstede van die Olimpiese Spele soos Athene, Rome, Atlanta, Tokio, Barcelona en Seoel nie weer in die toekoms oorweeg word nie weens stygende somertemperature – wat binnekort vlakke gaan bereik wat gevaarlik is vir atlete in aksie.
Wetenskaplikes is dit eens dat klimaatsverandering grootliks te wyte is aan menslike aktiwiteite soos die verbranding van fossielbrandstowwe, boerdery-aktiwiteite, ontbossing en industriële prosesse wat kweekhuisgasse soos koolstofdioksied vrystel. Hierdie gasse vang hitte in die atmosfeer vas, wat lei tot ’n geleidelike verhoging van die aarde se gemiddelde temperatuur – algemeen bekend as aardverwarming.
Daar is verskeie redes waarom sommige kies om die realiteit van klimaatsverandering te ontken. Daar is rolspelers in veral die fossielbrandstofbedryf wat klaarblyklik ’n finansiële belang daarby het om die verskynsel te ontken of te minimaliseer. Party van hulle loop jare lank al onder kritiek deur omdat daar aanduidings is dat hulle wetenskaplike navorsing ondermyn en misleidende inligting versprei in pogings om die publiek se persepsie in hierdie verband te beïnvloed. Volgens sekere bronne was party reeds in die 1970’s bewus van die potensiële risiko’s van klimaatsverandering, maar hulle het hierdie inligting doelbewus onderdruk en twyfel gesaai oor die wetenskaplike bevindings.
Vir ander strook die aanvaarding van klimaatsverandering nie met hul politieke of ideologiese oortuigings nie. Hulle glo dalk in minimale regeringsinmenging in die ekonomie en vrees dat ’n erkenning van die probleem tot streng regulasies sal lei wat hul vryheid en lewenstyl sal beperk. En hoe minder gesê word oor ontkenning weens obskure religieuse redes, hoe beter.
Klimaatsverandering is ’n skrikwekkende en ingewikkelde probleem (en, soos dit die geval is met menige wetenskaplike diskoers, is die rapportering van studieresultate dikwels oormatig kompleks) wat kan lei tot gevoelens van hulpeloosheid en selfs angs. Sommige mense mag dus kies om die probleem te ontken eerder as om te probeer om die ongemaklike waarheid te hanteer. En dan is daar natuurlik diegene wat bloot onkundig is. Daar is steeds baie mense wat nie toegang het tot betroubare inligting oor klimaatsverandering nie, of wat bloot nie die wetenskaplike bewyse verstaan nie – of wíl verstaan nie.
Wat ook al die redes, die ontkenning het ernstige gevolge. Dit vertraag die beleidmaking en dringende aksies wat nodig is om die impak te verminder. Hoe langer ons wag om op te tree, hoe groter en duurder gaan die gevolge wees. Hierdie gevolge sluit in: ekstreme weerpatrone (orkane, hittegolwe, droogtes en oorstromings wat meer algemeen raak); stygende seevlakke (die gevolg van die smelting van ysberge en gletsers); veranderings in ekosisteme (sommige spesies is nie in staat om by die vinnige veranderinge aan te pas nie); en gesondheidsrisiko’s (die verspreiding van siektes kan beïnvloed word, asook luggehalte en toegang tot skoon water en voedsel).
Die probleem vereis doelgerigte optrede. Die kerk het ’n unieke rol te speel in hierdie verband – veral deur bewusmaking en die verkondiging van die waarheid. Ons durf nie meedoen aan die disinformasie en vernietiging nie, maar behoort die versorgers van die aarde te wees, en ’n helder stem te wees vir dié wat nie kan praat nie – die lug, bome, blomme, bosse, berge, riviere, see en diere. Die uiteindelike doel van bewusmaking sluit in die vermindering van vrystelling van kweekhuisgasse deur middel van die oorgang na hernubare energiebronne, die verbetering van energie-effektiwiteit, die voorkoming van ontbossing, en ander inisiatiewe.
Ons behoort ook eerlik te besin oor die manier waarop ons leef en voortdurend bewus te wees van ons energieverbruik, afvalproduksie en persoonlike impak op die omgewing. Verder moet die kerk omsien na diegene wat die meeste deur die krisis geraak word – kwesbares wat deur natuurrampe in armoede en ellende gedompel word. Daar is ook ander uitdagings soos die aanpassing by die onomkeerbare veranderings wat reeds plaasgevind het. Oplossings kan slegs gevind word indien die probleem erken word.
Klimaatsverandering is tegelyk ’n wetenskaplike en ’n morele kwessie. Dit lê op die kerk se weg om wetenskaplike integriteit te handhaaf en morele verantwoordbaarheid te verseker. Dit is ons plig om op te tree en die skepping te bewaar vir ons kinders en kleinkinders. Die kerk durf nie swyg nie – nie weer nie…