Daar is soveel persepsies oor die ouderdom, positief en negatief. Die vrese oor bejaardheid het ’n invloed op ons sinvolle aftrede en die laaste lewensfase. Ouer persone is van die kosbaarste bronne van kennis, kundigheid en deurleefde lewenservaring.
’n Sinvolle lewe na aftrede is elke persoon se eie verantwoordelikheid. Die Russiese skrywer Aleksander Solzjenitsin het gesê: ’n Mens is gelukkig solank hy/sy besluit om gelukkig te wees. Daar is geen rede hoekom ouer persone nie meer met vreugde kan leef nie. Ons lewe se sin en betekenis moet ons nie in ander soek nie. Die feit dat ek ’n kind van God is en dat Hy ’n doel met my lewe het, gee betekenis aan my lewe. Richard Stim en Ralph Warner meen dat ’n ouer persoon die volgende vier dinge nodig het: Geld; goeie gesondheid; ’n netwerk van familie en vriende; en betrokkenheid by aktiwiteite wat genot kan verskaf.
Jonger persone het ’n rol te speel in die betekenisvolle lewe van ouer persone. Ons kan ouer mense koester en vertroetel. Hulle het die behoefte om as mens aanvaar te word; met eerbied en respek behandel te word; erkenning te kry; aan iets of iemand te kan behoort; en om selfbeskikkingsreg te mag hê.
Om in die behoeftes van ouer persone te voorsien en hulle prakties te koester, beteken dat ons die volgende kan doen:
- Aanvaar ouer persone as individue en kyk verby die fisiese beperkinge.
- Kennis van mekaar is nodig ten einde ’n verhouding tussen mense te kan bewerkstellig. Dit kan verkry word deur gereelde gesprek. Praat met ouer persone oor hoe hulle voel, wat hulle dink en hul belewenisse in bepaalde omstandighede.
- Kinders en familie moet daarop ingestel wees om te alle tye in alle omstandighede op die ouer persoon ingestel te wees en erkenning en waardering uit te spreek vir klein goedjies. Dit laat ouer persone menswaardig voel.
- As ons ouer persone ingelig hou oor gesins- en familiesake, hul menings vra en hulle deel van gesins- en familiebyeenkomste hou, sal hulle voel dat hulle behoort.
- Moet nooit die selfbeskikkingsmag van ouer persone uit die oog verloor nie. Laat die persoon toe om so ver moontlik besluite te neem oor wat hulle graag wil doen en wanneer.
- Maak seker ouer persone is ingelig waar hulle korting kan kry op byvoorbeeld TV-lisensies en van verskaffers wat afslag vir pensioenarisse gee. Op dié manier hou die geld van die ouer persoon langer.
- Goeie gesondheid is vir seker die kosbaarste en belangrikste waaroor enige persoon kan beskik. Gereelde gesondheidsiftings waar bloeddruk, suiker, cholesterol en hemoglobien getoets word, is van kardinale belang.
- Die behoefte aan ’n netwerk van familie en vriende kan bevredig word deur die kerk, ’n dienssentrum vir bejaardes, ’n stapgroep, ’n voëlkykvereniging, ’n boekklub, ’n skaakgroep, ensovoorts. Nuwe vriendskappe word so gesmee.
- Help om aktiwiteite te vind wat baie genot en groot pret verskaf. Dan word daar emosioneel belê in ons ouer persone.
Ouer persone is goud werd! Koester hulle.
Adjunk-direkteur: Potchefstroom Dienssentrum vir Bejaardes en ouderling in Gemeente Potchefstroom
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)