Suid-Afrika is, in die woorde van Charles Dickens, ’n Tale of Two Cities. Dit is ’n land waarin die heel beste dinge maar ook die heel slegste dinge ervaar word. Enersyds is Suid-Afrika ’n uiters mooi land met vrygewige en hartlike mense; terselfdertyd is Suid-Afrika ’n uiters getraumatiseerde samelewing. Brutale konflik was en is deel van die Suid-Afrikaanse samelewing. Die konflik en trauma manifesteer in gedrag wat simptomaties van posttraumatiese stres is. Mense ervaar angs, woede, depressie, hartseer en moedeloosheid.

Dit is nie net individue wat trauma sowel as posttraumatiese stresversteuring (PTSV) kan ervaar nie. Baie navorsing is al oor “kollektiewe” trauma gedoen. Daar is baie voorbeelde van hoe traumatiese gebeure en gruweldade die kollektiewe identiteit van ’n gemeenskap bepalend beïnvloed het. Kollektiewe trauma kan gedefinieer word as herhaaldelike traumatiese gebeure wat ’n gemeenskap oor ’n lang tydperk ervaar, wat op verskillende maniere manifesteer, insluitend gewelddadige gedrag. Dit word vererger deur die betekenis wat ’n spesifieke gemeenskap aan sekere gebeure geheg het, in so ’n mate dat die interpretasie of betekenis of ervaring van die traumatiese gebeurtenis nie afhanklik is van historiese feite of in ooreenstemming is met die oorspronklike gebeure nie.

As gevolg hiervan kan traumatiese gebeure die gebied van mitologie en die sakrale betree. ’n Narratief word geskep wat die trauma laat voortbestaan en reageer op enige alternatiewe verhaal wat die oorspronklike trauma ontken. Dit word ingebed in die kollektiewe geheue en psige.

Trauma kan mettertyd vervaag, maar kom altyd weer terug, dikwels as gevolg van ’n volgende traumatiese ervaring. Trauma (persoonlik of kollektief) verdwyn nooit nie, maar as dit erken en hanteer word, kan ’n mate van gemoedsrus herstel word. ’n Abnormale samelewing kan verander in ’n samelewing waar vreedsame naasbestaan moontlik is.

Kollektiewe trauma stel besondere eise aan die kerk en teologie. Die vraag is: Hoe reageer die kerk en predikante op die kollektiewe trauma wat klaarblyklik in die Suid-Afrikaanse samelewing voorkom? Die gebrek aan profetiese getuienis in die verlede is vergelykbaar met die oorverdowende stilte van teoloë en kerke oor staatskorrupsie, onbevoegdheid in plaaslike regerings, wanbestuur van die ekonomie, die ineenstorting van mediese fasiliteite, slegte bestuur van die Covid-19-epidemie, gebrek aan behoorlike polisiewerk en ’n oneffektiewe regstelsel. Die kerk kyk stilswyend toe, en teoloë hou hulle besig met allerlei irrelevante gesprekke. Dit doen niks om die individuele en kollektiewe trauma te verlig nie.

Hoe moet ons as kerk oor trauma dink?

Eerstens deur realisties te wees. Ons moet met die werklikhede van Suid-Afrika rekening hou, en besef dat die reënboog bo Suid-Afrika nie na ’n pot goud lei nie, maar eerder na ’n onheilige brousel van opgekropte woede, frustrasie, vrees en trauma. Daar is niemand in Suid-Afrika – ongeag ras, ouderdom of geslag – wat nie geraak is deur die kollektiewe trauma wat die samelewing deurdrenk nie. Dit is relatief maklik om terug te kyk in die geskiedenis en kritiek te lewer, dit is baie moeiliker om krities te wees oor die huidige situasie.

Tweedens deur die verantwoordelikheid te aanvaar om oor individuele en kollektiewe trauma te praat. Regdeur die laaste tweeduisend jaar, van die heel begin af, het die bekendste en invloedrykste teoloë en kerkleiers die fundamentele verantwoordelikheid aanvaar om aandag te gee aan die nood en trauma van ’n betrokke gemeenskap. Hulle het dit gedoen vanuit die oortuiging dat die Bybel baie sê oor mense se lyding en trauma. As ons glo dat Christus die toonbeeld van menslike lyding is en dat Hy ons lyding op Hom geneem het, dan is die evangelie relevant in ’n konteks van trauma. Hoe reageer ons as kerk op die uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar, en meer spesifiek, kollektiewe trauma?

Derdens vereis persoonlike en kollektiewe trauma toepaslike optrede, onder andere pastorale sorg wat die bestaan van kollektiewe trauma veronderstel. Mense worstel met gevoelens van woede, skuld en skaamte. Dit vra dat teologiese opleiding modules oor trauma en die versorging van mense wat aan individuele en kollektiewe trauma ly, moet insluit.

Vierdens is dit die roeping van teoloë en kerke om nie net te praat oor die teenwoordigheid van God te midde van trauma nie, maar om God ook teenwoordig te maak. As die kerk die liggaam van die lydende en opgestane Christus is, moet die kerk en die teologie met lyding besig wees, nie in wanhoop en sonder hoop nie, maar met geloof in die opstanding en ’n nuwe lewe in Christus. Ons moet oor God se liefde praat, maar nie liefde sonder geregtigheid nie, wat bloot sentimentaliteit is. Ons moet oor geregtigheid praat, maar nie sonder liefde nie.

Ten slotte, Karl Barth het eenkeer geskryf dat die kerk altyd “dertig jaar te laat dapper word”. Dit herinner aan die beroemde Kerkhervormer van Zürich, Huldreich Zwingli, wat ’n bordjie in die konsistorie van sy kerk laat opsit het, waarop hy vir sy kerkraad geskryf het: Tut um Gott‘s Willen etwas Tapferes (Om Gods wil, doen net iets dappers). In ’n tyd van trauma, politieke spanning, pandemies, moord en geweld, moet kerke en teoloë moedig wees en dapper genoeg wees om kerk te wees soos Jesus ons geleer het.

(Prof Wim Dreyer is medeprofessor aan UP se Departement Historiese en Sistematiese Teologie)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap