1. VOTUM 
Ons het die Here altyd by ons: omdat Hy met ons is, sal ons nie struikel nie. 
Gemeente, genade en vrede vir u van God, ons Vader, van Jesus Christus, die Here, en van die Heilige Gees. Amen.

2. LOFSANG Ges 87:1; 2; 4 en 5

3. DOOPFORMULIER

Ges 321:1 en 3

Ps 134:4

4. SKRIFLESING

5. PREDIKING 
Teks: Vers 9: ”In Hom is die volle wese van God beliggaam, en in verbondenheid met Hom, deel julle in Sy volheid.” 
Geliefdes van Christus, ons glo en bely dat God na die wêreld gekom het. Hy is met ons, in en deur Jesus Christus. Dit is juis die boodskap van Kersfees. Die Kersboodskap moet vir ons ‘n boodskap wees wat in groot blydskap en dankbaarheid aanvaar moet word. Tog verkeer ons in groot nood. Ons wonder hoe sterk die mag van Satan is. Daarom is daar soveel onsekerheid oor die Harry Potterboeke en die Pokemonspeletjies. Ons bly wonder of hy nie dalk verborge magte het wat hom in staat stel om sy vernietigings­werk voort te sit nie. Daarom wonder ons ook of Christus se koms en sy die kruisiging werklik voldoende is om ons te verlos en teen dié aanslae te beskerm. Hierdie onsekerheid laat ons twyfel aan ons geloof in Christus Jesus.

Dit is ook gedagtes wat daar in die gemoedere van die gemeente in Kolosse geleef het, omdat daar sekere dwaalleraars was wat die gemeente bedreig het. Hierdie dwaalleraars het verkondig dat die Christene nie genoeg sou hê aan die verlossing deur Jesus aan die kruis nie. Om ten volle verlos te kan word en bevry te kon word, het hulle verwag dat die gemeente sekere bose magte moes vereer. Deur hulle aan hierdie wette te onderwerp sou die gelowiges dan deel hê aan die goddelike volheid.

Dit het vrae by die gemeente laat ontstaan. Vroeër toe hulle heidene was, was hulle gebind deur wettiese reëls wat hulle moes nakom. Dus is dit nou vir hulle onverstaanbaar om weer deur hierdie magte gebind te word. Want sou dit die geval wees, dan is hulle as Christene presies in dieselfde situasie as toe hulle heidene was.

Daarom reageer Paulus so heftig op hierdie dwaalleringe. Hy laat die gemeente daarop let dat hierdie aansprake van die dwaalleraars leë bedrog is. In vers 8 bevestig Paulus dat hierdie uitsprake op blote wettiese reëls en menslike oorleweringe berus. Hierdie dwaalleringe bring dus onsekerheid by die mense wat in diens van God wil staan.

Hierteenoor stel Paulus dat die volle geloofsekerheid slegs in Christus te vinde is. Jesus Christus is die enigste draer van die Goddelike lewe wat vir die Christen gelowige bedoel is. Hierdie volheid van Christus, is volgens Paulus, in elke gelowige, sodat daar niks aan hulle saligheid ontbreek nie. Buite Christus om hoef gelowiges nie te soek na nóg iets wat hulle saligheid sal verseker nie. Dink net daaraan: ons oupas het met dolosse gespeel en hulle het nie toordokters geword nie. Ons moet nie deur ‘n fantasiewêreld en speletjies in ongeloof begin verval nie. Want deur aan dié dinge meer aandag te gee as wat nodig is, verval ons in ongeloof.

Vir meer sekerheid betrek Paulus die saak van die besnydenis hier om die gelowiges te laat verstaan hoe hulle ten volle deel het aan die liggaam van Jesus Christus. Die besnydenis van Christus verander dus mense se harte sodat hulle volledig aan Christus behoort. Hierdie besnydenis van Christus dui dus op die wegneem van die sondige natuur van die mens. Netso dui die doop daarop dat ‘n radikale breuk met die ou lewe gekom het.

Deur die doop word die gelowige se ou lewe so aan die sterwe van Christus verbind, dat Paulus inderdaad kan bely dat ons saam met Hom begrawe is, sodat dit juis vir ons wil aandui hoe volkome Christus se verlossingwerk vir ons is. Want met die doop in die naam van die Heilige Gees word ons verseker van die volheid van Christus se inwoning in ons.

Maar Paulus gaan ook verder: Ons het nie net saam met Christus gesterwe nie, ons is ook saam met Hom opgewek. Daarom mag gelowiges dié volle versekering hê: Ons is nie net dood vir die sonde nie, maar deur die genade van Christus deel ons ten volle in die ewige lewe. Die doop is die teken en die seël van die feit dat gelowiges in die werklikheid van Christus se oorwinning oor die dood en oor satan leef.

Daarom kan ons ook glo dat die doop ons bevry het van alle menslike redenasies en van die mag van Satan. Die doop plaas die verlossingswerk terug in die hande van Jesus Christus self. Die doop wil die werk van Satan ontbloot en ons verseker dat Jesus in sy volheid daaroor triomfeer.

U weet, Paulus wil ons dus van God se genade verseker. Hy verseker ons dat Christus waarlik getriomfeer het oor alle bose magte en dat God, die Almagtige, ons deur sy Gees met die volheid van sy genade vul. Deur die doop ontvang ons dus God se troos en sekerheid van die oorwinning van Jesus Christus. Verder verseker die doop ons van die feit dat God aan die werk is, dat Hy in beheer is en dat Hy triomfeer.

Wanneer ons begin wonder oor die almag van God en die volheid van Christus moet ons onthou, ons is nie alleen in die stryd hier op aarde nie. Ons verlossing is juis verseker in die geboorte, lyding, sterwe en opstanding van Jesus Christus, die Here. Daarvan het God ons vanoggend opnuut weer van verseker met die teken van die doop wat Hy aan ons en ons kinders gegee het. Daardeur het Hy sy genade aan ons herbevestig. Onthou! Advent is ‘n geleentheid om om te keer na die wonder van God se koms in die verlede, die hede en die toekoms. Dit is ‘n geleentheid om om te keer en die Lewe te ontvang wat Christus Jesus vir ons kom bewerk het. Ons sekerheid en oorwinning lê in Jesus Christus. 
Amen

6. GEBED

7. SLOTSANG Gesang 158:1 en 3

8. SEëN 
Die Here sal ons seën en ons beskerm, die Here sal tot ons redding verskyn en ons genadig wees, die Here sal ons gebede verhoor en aan ons sy vrede gee.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap