Johannes begin sy Evangelie met die belydenismatige woorde van Genesis 1:1: In die begin… Ons prewel vanselfsprekend saam: … het God die hemel en die aarde geskep.

Maar Johannes verras met:  …. was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie. In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie (AFR2020).

 Lewe

Johannes kon die Griekse woord βίος (bios) gebruik het. Hy kon praat van ψυχή (psuche). Maar Johannes praat van ’n ander soort lewe, lewe wat hy as ζω (zoe) beskryf. Om te verstaan wat hierdie lewe behels, moet jy die leidrade deur die res van die Evangelie volg. ζω -lewe is: 

  • ewige lewe (3: 16);
  • geloof in die unieke Seun van God (3: 18);
  • ’n lewe in waarheid, gevul met dade wat in die lig en in God gedoen is (3: 21);
  • ’n fontein van lewende water wat opborrel tot die ewige lewe (4: 14);
  • ’n oorgang vanuit die dood na die lewe waar daar geen veroordeling meer is nie (5: 24);
  • die opstanding van die lewe (5: 29);
  • om te werk vir die voedsel wat nie vergaan nie, maar hou tot in die ewige lewe (6: 27);
  • om die Seun te sien en in Hom te glo (6: 40);
  • om die liggaam van Christus te eet en sy bloed te drink, wat in Hom bly en Hy in hom (6: 51, 56);
  • om te weet daar is niemand anders by wie ons die lewe kry nie (6: 68);
  • wie Jesus Christus volg en die lig van die lewe het (8: 12);
  • om lewe te hê, en dit in oorvloed (10: 10);
  • opstanding en lewe; waar elkeen wat in Christus glo, sal leef, al sterwe hy ook (11: 25-26); en
  • om in Jesus Christus te glo en Hom te volg as die enigste weg en waarheid en lewe; want daardeur sal ons die Vader ken (14: 6-7).

Na die einde van die Evangelie verstaan ’n mens dit só: En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het – Jesus Christus (17: 3).

Sien, hoor, volg, vind

In Johannes 1: 35-51 lees ons van die roeping van die eerste dissipels. “Kyk, die Lam van God!”, sê Johannes die Doper, en twee van sy dissipels het vir Jesus gevolg. Ons vind die woorde kyk, hoor, volg, sien en vind in die beskrywing van hul optrede. Diegene wat bereid is om te sien en te hoor en te volg, is diegene wat die lewe vind. Hou deurentyd in gedagte dat Jesus die weg, die waarheid en die lewe is (Joh 14: 6).

Een van diegene wat die lewe gekies het, is Andreas, die broer van Simon Petrus (1: 40). Toe hy sy broer teëkom, bely hy eenvoudig: Ons het die Messias gevind. Wat vertaal word as teëkom, is in die Griekse vertaling vind. Dit is dus nie maar ’n toevallige raakloop nie; dit is ’n geloofsgebeure.

Kom ek gaan wys jou

Andreas vertel vir Petrus: Ons het die Messias gevind. Dan lees ons: Andreas het hom na Jesus geneem. Hy getuig nie maar net nie, hy neem hom aan die hand om daarmee te sê: Kom ek gaan wys jou.

Hierna het Jesus vir Filippus teëgekom. In Grieks is dit weer die woord vind. Geloofstaal. Vir Filippus sê Jesus: Volg My! Filippus vind weer vir Natanael en getuig net soos Andreas, dat hulle die Messias gevind het. Ook vir hom sê Filippus: Kom kyk!

Om gesien en gevind te wees

Wanneer Petrus en Natanael uiteindelik na Jesus gelei word om te gaan “sien” en “kyk” en “vind”, kom hulle met verbasing agter dat hulle reeds gesien en gevind is. Vir Simon Petrus sê Jesus: “Jy is Simon, die seun van Johannes. Jy sal ‘Sefas’ genoem word,” wat vertaal word Petrus (1: 42). Vir Natanael sê Jesus: “Kyk, hy is waarlik ’n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie”. Verbaas vra hy hoe die Here hom ken. Hierop antwoord Jesus: “Nog voordat Filippus jou geroep het, toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien.” Dié wat na Jesus op soek is om te hoor en te sien en te vind, is dié wat besef dat hulle reeds deur die Here gesien en gevind is.

Leuse van die HTK

Dissipelskap, soos Johannes dit verstaan, gebeur waar mense mekaar ken en vertrou, waar mense vir mekaar sê: Kom ek gaan wys jou. Jy kan nie vir iemand gaan wys, as jy nie self gesien het nie. Jy kan nie iemand lei, as jy nie self gevind het nie. En jy kan nie een van die twee doen, as die Here jóú nie heel eerste gesien en geken en gevind het nie. 

Mag die leuse van die Hervormde Teologiese Kollege wees: ζω. Mag dit ’n plek wees waar ons besef dat ons eerste gesien en gevind is. Mag ons dan voortdurend sê: Kom, kom ek gaan wys jou.

(Dr Thinus van Staden is voorsitter van die Kuratorium en leraar in Gemeente Montana;
hierdie teks was die boodskap van sy preek tydens die opening van die HTK op 14 Februarie 2024)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap