’n Familiepiekniek onder die sterre met kultuur, geskiedenis en spookstorievertellings as bestanddele… Dit is als wat jy op Saterdag 24 Mei by die SP Engelbrecht-museum in Eloffsdal kan verwag.
Daar was ’n tyd, lank, lank gelede, toe mense nog nie aan TV- of selfoonskerms verslaaf was nie. Dit was ’n tyd toe families en vriende saans in die kuierkamer, op die stoep of langs die kampvuur bymekaargekom het en spannende spookstories uit die verlede met mekaar gedeel het. Hierdie nostalgiese, maar byna vergete, era van spookstorievertellings vorm deel van ons kultuurgeskiedenis verduidelik die historikus ds Carel Johann de Bruin. Hy is emerituspredikant en ook die sekretaris van die Komitee vir die Argief, Museum en Biblioteek van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), sowel as die kurator van die SP Engelbrecht-museum.
Net soos ’n museum items uit die verlede bewaar, laat Spookstorie Produksies die amper vergete era van spookstorievertellings herleef met hul gereelde vertonings en uitstappies hier in Pretoria, sê ds Carel Johann. Vandaar die gedagte om ’n begeleide besigtigingstoer in die SP Engelbrecht-museum te kombineer met ’n familiepiekniek en die vertoning DIE-anner-LEWE (die musical), soos aangebied deur Spookstorie Produksies. Dié produksiehuis is veral bekend vir hul teater-op-wiele-aanbieding, die pta-SPOOKBUS-uitstappie, met Jaco Hough-Coetzee as die storieverteller.
Hierdie uitsonderlike geleentheid vind op Saterdag, 24 Mei 2025, vanaf 16:00 plaas. Gaste word genooi om hul kampstoele, komberse en piekniekmandjies te pak en hul sitplek op die grasperk langs die museum in te neem. Spandeer tyd in die museum waar ds Carel Johann jou sal terugneem in tyd terwyl hy die interessante geskiedenis van die verskillende uitstallings met jou deel.
Sien onder andere die kerkklok wat in die 1850’s by die Hervormde Kerk in die dorpie Schoemansdal in die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek gehang het voordat ’n militante groep van die Vendas die plek afgebrand het. Neem ’n foto van die kansel wat tussen 1871 en 1971 in die Gemeente Zeerust gebruik is. Sit op die kerkbank waar die Rebellieleier, Jopie Fourie, tydens eredienste gesit het voordat hy in 1914 deur ’n vuurpeloton tereggestel is.
Die hoofvertoning, DIE-anner-LEWE (die musical), begin om 18:00 en loop teen 20:00 ten einde. Maak jou reg vir Jaco Hough-Coetzee se vertellings van aangrypende en ware spookstories. Jy sal jou kop in ongeloof skud oor sommige stories, ander sal koue rillings deur jou lyf kan stuur. Op die spyskaart wag stories soos dié van die meisie wat langs die Potchefstroompad vir ’n saamrygeleentheid gebedel het – dít ná sy drie maande tevore daar in ’n motorongeluk gesterf het. Of die plaasvrou in die Noord-Kaap wat skuins na middernag deur ’n verskynsel wakker gemaak is wat haar soebat om saam met haar te kom. Sowat 300 m vanaf die plaashuis beduie die verskynsel na ’n plek in die grond en sê: Dit is waar my man my 30 jaar gelede begrawe het… nadat hy my vermoor het. Ook die storie van die vrou wat tydens haar ma se begrafnisdiens ’n sms vanaf haar oorlede ma se nommer gekry het. Die sms-boodskap het gelui: Dankie, ek het veilig gearriveer.
Die dramatiese storievertellings word ingekleur en vermeng met immergroen musiek soos gesing deur die sangpaar Charl Erasmus en Angelique Greffrath. Luister na tydlose treffers met spookagtige ondertone soos onder andere Skadu’s teen die muur (Koos du Plessis), All I ask of you (Andrew Lloyd Webber) en Kerse teen die donker (Amanda Strydom).
Geen van die stories op die program is fiksie of uit die duim gesuig nie, vertel Jaco. Alle vertellings is gebaseer op ware verhale wat reeds in die media of ander publikasies gepubliseer is of op ervarings wat persoonlik met ons gedeel is.
Sien jy steeds kans hiervoor?
Besoek gerus Spookstorie Produksies se webblad hier vir meer besonderhede en aanlynbesprekings. Enige navrae kan gerig word aan ds Carel Johann de Bruin (082 733 3951, careljohann@gmail.com) of Jaco Hough-Coetzee (082 404 7229, inligting@spookstories.co.za).

