Die Munga-wedren het van 26 November tot 1 Desember plaasgevind. Sewe ryers het hul kragte saamgesnoer om fondse vir Rata in te samel. Ons deelnemers was: Annatjie van Wyk, Riaan Loots, ds Martin Meyer, Alphonso Theron, Chris Reyneke, dr Wouter van Wyk en ds Schalk Zastron. Conrad Blything het opgetree as hul bestuurder.
Ds Schalk Zastron het ’n daaglikse verslag van hul wedervaringe op hul WhatsApp-groep gedeel en het ingestem dat dit ook op die webblad kan verskyn. Sodoende kan meer lesers die Munga deur hul oë ervaar en besef watter monsteruitdaging dit werklik was.
Ons bedank die spanlede vir hul onbaatsugtige opoffering vir Rata. Donasies kan steeds gemaak word deur hier te klik.
Hier volg ds Schalk se vertelling:
So ’n paar stories van Dag 1
Ek het so 23:30 weggespring, maar daar was baie plaaspaaie wat toegegroei is onder karoobosse en erdvarkgate. Almal se GPS’e het toe saans deurmekaar geraak en so het ons toe oor heinings gespring en genagmars soos in ons Voortrekkerdae om weer op die pad te kom.
Op die ooppad kon ons darem weer makliker ry en ek het ’n maatjie gemaak met ’n soutie van Jo’burg wat saam met my die pad gesoek het nadat ons dit byster geraak het.
Ek het wel baie amper ’n springhaas vir aandete gevang. Net toe ek by hom kom en sy ore wou gryp, toe split die pad en ek het amper wortels geëet!
Maar dit was verder ’n goeie roete. Ek het so 02:00 by die Race Village ingeteken en toe kon Wouter weer wegspring. Vir so paar uur kon ons toe bietjie transformasie bring van Race Village na Rus-Village.
Ons is nou op pad Britstown toe – al krampend en skuddend oor die sinkplaat!
Ek het ’n ander foutjie gemaak wat my wel bietjie teruggesit het. Terwyl ons rustig om die vuur in die eerste Rus-Village sit en braai, groet en gesels ons maar soos wat die ryers in kom. En so hou ek maar my maniere toe Bakkies Botha ook in kom. Benewens die angsaanval toe ek in sy naeltjie vaskyk, moes ek my regterhand gaan stut toe hy sy vingers dubbel om my hand vou en my kneukels in ’n 9-karaat-diamant in druk! Gelukkig kon ek darem betyds my handskoene weer aantrek vir die noodrit!
Annatjie vertel my by Waterpunt 2 dat die aarde op ’n stadium so effe gebewe het. Dit was toe Jannie du Plessis op die eerste skof geval het.
Maar ek vind toe eers later uit dat daar ’n baie logiese rede is vir ons spanmaat, Alphonso, se dehidrasie. Terwyl hy ry, loer hy na die natuur en neem foto’s van die skilpaaie en diere. Maar daar is toe skielik ’n geelslang wat voor hom oor die pad seil. Ek besef toe dat meeste van ons sou net daar ’n nuwe groot gat in die Noord-Kaap geskiet het! So ons vergewe Alphonso volledig met groot empatie en begrip!
Die stories van Dag 2
Dit het eintlik reeds begin toe ek na my skof by oom Wouter instap en hy penorent opspring met sy jalies, want NOU gaan ons fietsry. Hy het amper soos die Swartkat die Karoo aangedurf. Gelukkig het hy spoedig in sy fietsryklere gespring en soos net hy kan vinnig-vinnig maatjies gemaak waarmee hy die dag se werk kon uitsien.
Intussen het ons solank toontjie vir toontjie in die 5-ster tronk van Britstown weggesmelt van die hitte. Om vir Wouter te wag was soos om koffie uit ’n warmfles te drink. Jy weet daai brand kom, maar jy weet nie wanneer nie!
Nadat ek toe 17:00 my bene deur daardie fietsrybroek soos ’n worsmasjien gekry het, hoor ek toe die ontstellende nuus: Volgens ons berekeninge vermoed ons Wouter gaan eers 19:00 hier wees.
Soos ’n kroegvlieg op ’n Vrydagaand sak ek toe daar saam met Martin en Alphonso voor ’n beker filterkoffie neer. Drink en bespreek my sorge en vra Conrad om my Soekie in te stel vir die rit wat voorlê.
Die volgende wat ons hoor, is dat Wouter skielik vir Bianchi terpentyn gesmeer het, want hy staan toe 18:00 voor die hek! Vol brawade gooi ek my helm op my kop en ek vat toe Smeagle se ring by hom en vertrek op my reis na Mordor!
Dit was ongelukkig nie lank voordat ek ontdek dat my Soekie willie soekie! Soos ’n honger Nimrod moes ek toe met my neus teen die grond spoorsny om te probeer agterkom waarheen my voorgangers gedraai het.
Gelukkig het ek reg geraai en besef ek sal so bietjie petrol op hierdie vuur moet gooi want dit word donker en dit begin reën – dit gaan moeiliker en moeiliker word om spoor te sny! Gelukkig sien ek darem twee soloryers wat my gemoedsrus gee, maar net vir ’n oomblik want ek het so entjie weg van hulle ’n geritsel en geraas links van my in die bosse in die skemerdonker gewaar.
Skielik spring daar ’n ding in die pad wat lyk soos ‘n monster uit die kinders se Disney-movies! Dis hare, neus, ore en pote! Die monster hardloop soos ’n olifant met sy té groot pote wat plof en stof daar in die pad. Net voordat ek toe my baskoorstem in ’n falsetto deur die Karoo laat weerklink, besef ek dit is ’n miervreter! Hy is so groot soos ’n hiëna, met breë voete en ’n harige lyf en stert. Eers het ek gedink dit was ’n bruinhiëna of aardwolf maar ek is vas oortuig dit was die eerste miervreter wat ek in lewende lywe met bewende lywe aanskou het!
Op my tog het ek geen manier om afstand te sien of merk nie, maar die twee ryers het aan my genoem dat die waterpunt net ’n paar kilo’s weg is. So ry ek toe en soek en hoop soos iemand wat gehoor het hulle gaan ons straatligte regmaak.
Ek sien toe groot ligte in die pad. Dit wen my opgewondenheid op soos klein Ferrari-karretjie, maar sien toe dit is net ’n kar. Soos wat my moed in duie stort, groet ’n bekende stem uit die kar. Dit is toe my skoonpa en skoonma wat op pad was na Victoria-Wes toe uit die Kaap uit. As my skoene nie aan my fiets vas was nie, het ek amper my skoonpa ’n oopbeksoen gegee! Hulle bevestig toe ek is op die regte roete en dit is nie meer ver nie.
Daar gekom, kon ons gou aandag aan Soekie en my horlosie gee. En na ’n lang gesukkel, heerlike kos en koffie, het albei gewys hulle is weer gereed vir die slag. Die opsigter daar was baie in sy noppies met my bereidwilligheid om ’n roete soos hierdie met ’n hardestertfiets wat meer as tien jaar oud is, aan te pak. Maar moenie gebluf wees nie, daardie lojaliteit kom teen ’n prys!
Gegroet en gekoffie spring ek na baie verlore tyd weg in die duisternis in, maar Soekie wil weer nie soekie!
Ek kom toe by ’n T-aansluiting waar ek glad nie spore kan sien nie, maar gelukkig stuur die Here vir my weer iemand wat die pad vir my kan wys.
Waaragtig weer ’n Engelsman uit Johannesburg. Een van dáárdie wat praat of hulle vergeet het dat ons reeds gegroet het, want elke sin word afgesluit met hey!
Ons het 80 km saam afgelê waar ek hom soos ’n baba in die kar probeer wakker hou sodat hy later kan gaan slaap. Hy vertel my heelwat later dat elke keer wat ek hom gevra het: Hoe ver nog?, het hy maar geraai, want hy was so vaak en deur die slaap op sy fiets dat hy nie meer op sy Soekie kon lees nie. Na diep gesprekke, brandende bene en seer boude is ons toe by die waterpunt en ek besef daar ek het pas een van my hoogste prestasies behaal! Ek het vir meer as drie ure in vlot Brits gepraat (ek vermoed sy bewoording sou eerder vrot Brits gewees het).
Hy het gaan slaap, en ek het begin skimp en soek na iemand wat verder ry want my Soekie willie soekie en ek het ’n flits nodig om te sien of my fietslig werk.
So paar vriendelike mediese manne praat my toe gou bang oor hoe hulle vorige jare mense moes gaan soek het, en stel my toe later gerus dat die laaste 60 km darem nie moeilik is nie.
Met die selfvertroue van Chuck Norris maak ek toe soos beesmis en val toe in die pad. Ek geniet die wind van agter wat my oor die bultjies en deur die dale aanspoor. Ek sien op die pad ’n miskuljaatkat, klomp skerpioene en muise wat my duidelik laat verstaan hierdie is ’n plek om te los anders word jy kos!
Die aardigste gevoel was om die oppe en affe van die bulte in my gebrekkige lig te ry. Ek kan die pad sien, maar ek kan nie die helling sien nie. Soms voel dit of daar skielik ’n mieliesak op jou rug gegooi word en ander kere brand jou engine skielik soos wanneer jy dink jy sit oor na vyfde maar dis eintlik derde rat!
Die son begin gelukkig toe sy kinders vroegoggend uit die huis jaag, want ek kon die lig sien maar nog nie sy kop nie en dit het baie gehelp.
Ek was egter nie gereed vir die 20 km-lesse wat ek volgende moes leer nie. Hulle noem dit die Razzle Dazzle en dit is basies ’n klomp tweespoorpaaie wat heen en weer oor die plaas loop.
Hulle het Karoobosse langs die kante met heerlike dorings wat my soos ’n ballerina laat rond spring het op my fiets soos ek vir die dorings oor die pad probeer koes sonder om die pad byster te raak. Daarmee saam het ek my kursus van plaashekke ook voltooi waar nie een hek op dieselfde manier toegemaak word nie. Dit was soos graad 6-wiskunde waar ek twintig somme moes oplos wat nie een die dieselfde is nie. Gelukkig het ek hulle bemeester alhoewel my gemoed soms werklik hulle wou bemester. Die verdere moeilikheid was natuurlik my skynbaar-vintage-fiets met sy harde stert wat my oor die klippe en rotse in die pad laat hop en spring het dat dit gevoel het of ek ’n ordentlike tienerpakslae kry.
Einde te laaste is ek met my M in Hekkunde, my ballerinasertifikaat en my blou bobbejaanboude by die Race Village. 190 km en 12 ure vol eindelose herinneringe.
Tans sit ek en die span in ons bussie en my spanmaats giggel heerlik vir my bene wat soos springmielies elke paar sekondes in verskillende rigtings van die krampe skop.
Ons sien uit om te hoor hoe Martin vorder. Tans lyk dit vir my die uithouvermoë en vasbyt strek wyer en wyer vir Martin Meyer!
Ek los u met die bemoedigende woorde waarmee ek ’n paar keer aangemoedig is toe ek soos Tant Stienie begin vuil wasgoed was het:
Reël vyf van die MUNGA (amptelik): Harden the **** up! My vertaling… Byt vas!
Hier volg die stories van Vrydag en Saterdag
Die arme broers het mekaar amper uit skok met koffie gegooi toe oom Schallie soos ‘n 4-jarige op ’n Saterdagoggend hulle baie vroeër uit die bed jaag as wat hulle beplan het. Maar so is Martin spoedig en vol vertroue weg! Hy is so ordentlik, hy was die enigste van ons wat met ’n langbroek gaan fietsry het.
Na ’n klomp krampe, storms en stories het ons vir Annatjie gaan haal en ons weg terug na Sutherland gevind. Dit het egter nie gebeur sonder oom Wouter se verhale van sy liefde vir Beaufort-Wes nie!
Ongelukkig was die selfoonseine hier so sterk en effektief soos ’n stopstraat vir ’n taxi. Ons was die heeltemal afgesny en het geen idee gehad hoe die langbroekryer vorder nie. Ons het solank geskrop en voorberei en koffie gedrink, net voordat ons gaan koffie drink het om te kon koffie drink sodat ons gereed kan wees vir ’n lekker koffie voor Martin later daar aangekom het…. en saam met ons om 00:20 die oggend koffie gedrink.
Dit was wel interessant om die ryers te hoor wat stuk vir stuk daar aankom en klink soos klomp tieners wat eksamen geskryf het. Almal kerm, kla en swets oor hoe swaar, rof en moeilik die dag se ry was. So ons was baie bekommerd oor ons langbroekryer, en na elke persoon wat met ’n koffie kom monduitspoel het, word ons net meer en meer besorg.
Uiteindelik het ons wel by een van die dames wat verby hom gery het, gehoor dat hy lankal sy broek verloor het en nou met sy kortbroek heerlik by die Fraserburg se skool gekuier het. Ons sit wel met mussies, langbroeke en baadjies by die Race Village vir hom en wag terwyl die koue wind ons soos ’n jellykoek op ’n skinkbord laat bewe.
Gelukkig het hy net na middernag veilig by ons aangesluit. En ons kan met groot vrymoedigheid getuig, Martin het nie soos die ryers voor ons die belewenis in ’n F-sleutel vertel nie. Hy was hoflik en ordentlik soos iemand wat met ’n langbroek fietsry.
Dis jammer dat Martin besluit het om te emeriteer want ons hoor toe dat hy vir hom ’n taamlike surplus van preekidees op die fiets saamgestel het. Ons verwag maar ’n taamlike duidelike goue draad in sy preke oor die volgende paar weke.
Oom Chris het weggespring toe die lig oor die berge rondom 04:30 kom en het soos ’n haas voor ’n dominee verby die ryers voor hom gejaag. Hul verslae gaan waarskynlik die verhaal vertel van die stilte voor die Snorre.
Tans probeer ons ons skuld onderdruk waar ons rustig sit en Springbokrugby kyk terwyl oom Chris deur die Tankwa worstel. Maar ons is vol vertroue dat die Snorre binnekort ons stilte ook gaan kom breek! Hierdie oom van ons het staal in sy are!
Die eindstreep
Gisteraand het ons na groot kommer weens die alternatiewe roetes van oom Chris uiteindelik gaan lê. Met ’n breë bors kan ons wel noem dat ons oompie byna vier ure vinniger was as die ander span se oompie en dít terwyl hy byna vier jaar ouer is ook.
Vanoggend is almal na min slaap lekker happerig en byterig in hul RATA-klere met hul koeksisterkouse. Hierdie rondte is daar vyf werkende Soekies so ons was nogal seker dat niemand sou verdwaal nie.
Die 45 km het onmiddellik begin met ’n stywe klim waar Martin ons verstom het met ’n vroeë oggendlewensles: Jy kan nie so stadig ry nie, anders val jy om. Asof hy vir ons wil sê dat die lewe vir ons bulte, gate en draaie gooi wat ons spoed drasties inperk, maar as ons nie bly trap nie gaan ons omval.
Alphonso en Annatjie het dit so ter harte geneem dat ek met die volgende bult net bande hoor brand het soos wat hulle afgesuiker kom soos skoothonde wat hoor dat die yskas oopgaan!
Dit was ’n rustige, stil oggend op die pad behalwe vir so baardbek dominee wat die heeltyd sing en raas. Gelukkig was daar toe ’n stewige wind wat sy stembande bietjie afgeblaas het!
Dit was ook maar goed so, want Bainskloof het toe met groot oortuiging ons almal se asems weggeslaan, of so het dit geklink soos wat ons die bulte probeer uittrap het. Tante Annatjie het soos ’n wyse moeder ons almal goed beruspe dat ons nie nou moet jaag en die ervaring mis soos vandag se pappas en mammas wat hulle kinders agter kameraskerms miskyk nie. Ons het daarom stadig, bewus en rustig die kloof uitgery. Nie hygend, blasend, krampend en swetend soos wat die foto’s en videos voorstel nie.
Dit wil tog lyk of alles in die lewe maar gebalanseerd na vore kom. Ons sien oppe en affe, hitte en koue, Bloubulle en nie-Bloubulle. Maar so het ons ook vandag tussen die prysenswaardighede en die lofsange van die natuurskoon ook ampertjies teruggeval in die F-sleutel in. Dit het gebeur toe ’n klomp narre in hul plat karre amper onder ons deurgejaag het. Die spoedlimiet is baie duidelik, so hoe moet ons nou teen 70km/h gejaag kry met ons fietse almal mooi langs mekaar as die Ferrari- en Porsche-narre by ons verby brul?
Gelukkig kon hulle nie al ons vreugde steel nie, want na die dae se harde werk lê daar net ’n kilometer se grondpad tussen ons en ’n pragtige bottel wyn. Dit is ’n mooi pinotage, ’n kultivar wat hierdie jaar al 100-jaar lank deur die Suid-Afrikaners gedrink word.
Teen die styl grondpad af hoor jy net brieke raas, ratte skree en stofwolke blaas! My arme ou baiesukkel klink al soos ’n 1970-Cressida met drie verskillende kleure deure wat deur die middestad skree en fluit!
In die agtergrond hoor ons wel die motiverende klanke van hande wat klap, mense wat juig, die doef-doef van moderne kermkunstenaars en toe die aankondiging: André en sy Carebears… of iets in die voege. Hulle het net voor ons daar aangekom, die geraas was vir hulle en nie vir ons nie. Maar tog het ons ’n groot stuk bevrediging geniet toe ons later verneem dat die harde werk van oom Chris-blits het ons tyd so gunstig gelos dat ons hulle op die telbord gewen het.
Maar daar staan ons! Bly, opgewonde, dankbaar, verlig en so vol emosies dat ek skielik net oor een ding kon wonder: Gaan iemand sien as ek met hierdie fietsrybroek my boud krap?
Soos wat die emosies verwerk word, is daar by elkeen van ons verskeie gedagtes oor die eindstreep. Wat het nou net gebeur? Wat het deur die week gebeur? Wat het hierdie jaar gebeur? Wat sou ek anders doen? Sou ek hierdie weer doen? Hoekom het ek hierdie voorreg en geleentheid ontvang? Wat moet ek met hierdie belewenis en ervaring gaan maak?
Dan die groot vrae: Beleef ons kinders onder die sorg van Rata ooit verligting na die storm en die worsteling? Beleef ons maatskaplike werkers ooit die bevrediging dat dit alles die moeite werd was? Word ons kinders ook vir die Munga in hul lewe darem goeie fietse en ligte gegee, of word hulle verwyt, veroordeel en verwerp omdat die GPS wat hulle het, hulle die verkeerde besluite of afritte laat neem het? Word ons maatskaplike werkers ook deur menigte WhatsApp-groepe, vriende, familie en mense aangemoedig en aangespoor om te volhard as die omstandighede skielik moeilik, ongunstig en onverwags aaklig gedraai het?
Hierdie jaar het Munga besluit om hul slagspreuk te verander van: The toughest race on earth na Your journey, your story. Wat ek nie daarvan hou nie is dat dit die fokus op die individu plaas. Ons het elkeen ons eie pad en verhaal, maar ons oorleef en beleef dit in gemeenskap met mekaar. Dit is nie net ons storie nie.
Wat ek wel daarvan hou, is dat ’n resies ’n baie besliste begin en einde het. Maar deur die Munga het ons besef dat ons nie die lewe so kan sien nie. Daar is dae, hoofstukke, oomblikke en geleenthede. Die doelwit is nie om alles so vinnig as moontlik af te handel nie, want al wat daar wag is ’n bottel wyn wat mense reeds vir dekades drink. Die sin lê eerder in die daar wees. Die sin lê in die praat met die ryer wat langs jou sweet of dalk op die vloer langs jou lê. Die sin lê in die ondersteuning wat jy gee en wat jy ontvang. In die twee woordjies ek ook voel en beleef jy weer die wonder van God wat gekies het om ons verhoudingswesens te maak wat hierdie lewe in verhouding met mekaar en met ons Skepper, Verlosser en Trooster kan leef.
Wanneer ons dit doen, glo ek ons ry nie vir die bottel wyn nie, maar vir die foto op die bottel. Die foto wat nie wys hoe jy gely, gevloek, gejuig of gekla het nie. Nee, hierdie foto (ten minste vir die Équipe-spanne) wys dat jy ten spyte van hoe jy op die fiets alleen gery het, eintlik die hele tyd gesaam het.
Die eindstreep is dan nie ’n verligting nie, dit is ’n geleentheid om te sien wat kan ons vermag wanneer ons kies om te saam.
Soos die Munga verander het van The toughest race na Your journey, your story glo ek het ons almal so bietjie verander hierdie week. Daarom praat ek nou net namens myself wanneer ek sê: Dankie Here vir die besondere gemeenskap van broers en susters waarin ons kan stories bou. En dankie Here dat ons geleenthede ontvang om te sien hoe waardevol gemeenskap is. Mag hierdie eindstreep vir elkeen van ons ’n beginstreep wees om te gaan aanmoedig, vasbyt en ondersteun!
Rata, Équipe-manne en maninne…
Dankie vir julle!
Here be dragons!
Wanneer jy die Munga vir die eerste keer ry, gee hulle vir jou ’n plakker en titel van Here be dragons met ’n interessante rede. Tydens die era van die ontdekkingsreisigers was daar op die rante van wêreldkaarte waar mense nog nie was nie, die beskrywing van Here be dragons omrede jy hier heel waarskynlik drake gaan raakloop. En dit is ook die verwagting van die Munga: jy gaan beslis goed ontdek wat jy nie geken het nie.
Dít het ons almal oor hierdie laaste dag beleef. Dit was Riaan en Sylvia wat op die fietse was, maar ’n hele gemeenskap van ons het met drake van spanning, kommer, twyfel en onsekerheid ontdek en gestoei. Vanoggend is daar beslis vele stoele wat opgevreet is, washers wat geknip is, naels wat gedoen moet word en nuwe data wat aangekoop moet word soos wat ons almal deelgeneem het aan die praktyk van dot watching.
Ons dot watching het begin met ’n vroeë-oggendkoffie en gesprekke wat alreeds beweeg het tussen hulle kan dit maak en hulle kan dit nie meer maak nie. So was die groot armdruk tussen die prentjie wat statistieke skets en die prentjie wat hoop en vertroue skets.
By die eindpunt het ons vir Riaan en Sylvia gewag soos laerskoolmammas wat vir hul kinders wag wat eksamen skryf. Ons gesels oor hul voorbereiding, in die hoop en vertroue dat hulle dit gaan maak terwyl daar ’n diepe vrees lê in die statistieke wat wys hulle gaan dit nie maak nie.
Die vieslike deel van hierdie Munga is dat hulle ons op ’n fancy wynplaas laat wag en hoop waar daar geen sein is nie. So ons kon niemand op hoogte hou nie, en niemand kon ons op hoogte hou nie. Ons kon nie hul trackers volg nie en ook nie met enige geliefdes en besorgdes praat nie. Maar terwyl Sonja ons daar op die eindstreep goed pakslae gee en ons soos goeie Suid-Afrikaners van koelte tot koelte migreer, hoor ons toe die opwinding van iemand wat op pad is. Die mikrofone bulder en dit lyk soos ’n Samsung-advertensie soos wat almal hul selfone omhoog hou! Soos ’n klomp rubbernekkers by ’n ongelukstoneel op die hoofweg soek almal se oë nuuskierig om te sien wie verskyn op die grondpad uit die bosse! Dankbaar vir nog ’n broer wat die die eindstreep maak, is ons tog ook teleurgesteld want dit is nie ons broer Riaan soos ons gehoop het nie.
Net soos wat ons gemoedere begin sak kom daardie koeksisters toe wraggies deur die bosse aangejaag. Hy was so vinnig op ons dat ons hom amper nie afgeneem kon kry nie. Tussen die stof en vuil van vyf dae se fietsry, sien jy net hierdie helderblou oë wat verligting, blydskap en dankbaarheid uitstraal! Stoele, kussings, gras en sitplekke gaan sy boude weer sien, maar nie weer ’n vervlakste fietssaal nie!
Die vreugde en vrolikheid kan egter nie lank duur nie, want ons ander maat is nog in ’n geveg met haar monster. Sylvia het nog nie haar verskyning gemaak nie, en haar tracker is pap so niemand kan haar dot sien en volg nie.
Terwyl sy stoei en veg is ons besig om blind te hoop en wag. Dalk, miskien, hopelik is die woorde in almal se sinne en gedagtes.
Toe begin die aankondiger: 30 minute oor. Gaan Sylvia dit maak?
15 minute oor voor die sneller getrek word. Gaan Sylvia dit maak?
10 minute oor vir Sylvia om haar medalje te kan kry!
Op 8 minute storm twee laaities die voetpaadjie op om te gaan kyk of sy nie dalk geval het nie?
Gespanne en bekommerd juig ons almal toe ons wel beweging in die bosse sien, maar dit is nie Sylvia nie. Dit is die twee visplakkiemanne wat teruggestrompel uit die bosse kom. Toe hulle op die gras kom kon ons wel die verligting en goeie nuus in hulle gesigte sien wat hulle toe beaam met twee duime wat bevestig: Sylvia is oppad!
Soos ’n Mexican wave op Loftus hoor jy die gejuig van die voorstes na die agterstes in die skare, want Sylvia kom deur die bosse.
Sy stoot haar draadkameel teen die grondbulte af om ’n moontlike val te verhoed, maar knieë, enkels en die groot geveg teen tyd dryf haar spanning die hoogtes in. Sy kon nie sover geveg het en 100 m voor die einde val en die die afsnypunt mis nie!
Dapper, tog strompelend, klim sy op die gelyker grond terug op haar gatsaag, maar soos ’n halstarrige hings gooi dié haar weer af dat sy duur Munga-grond voor die skare koop. Meteens storm mense wat haar van geen kind of kraai ken nie om haar op te help, en sy staan toe op.
Waar mens sou verwag dat net daar stop, kies sy om klaar te maak. Waar mens sou verwag sy los haar martelpyp net daar en stap die wedren klaar kies sy weer anders. Hierdie fiets het haar gedra en haar gebring tot hier, sy gaan hom nie hier versaak nie. Terug op die fiets trap sy vir ’n finale keer weer en worstelend stop sy op die wenstreep met 100 sekondes oor.
Vyf dae se brand, bibber, sweet en storm het neergekom op 100 sekondes. Elkeen kosbaar en vol herinneringe, elkeen ’n oomblik nader na die slagting van haar monster. Sy is sterk genoeg, sy het wat nodig is, en so groot en taai as wat die lewe se monsters haar teister, het sy nou vir ewig aan haarself bewys sy sal nie gebreek word nie, selfs al val sy.
Die oomblik van emosies, trane en drukkies was daarom nie ’n uitdrukking van verligting nie, maar ’n ontdekking van die ontsettende krag en gees wat die Here in haar geplant het.
Nie sy, of enige van die ryers het gery vir ’n bottel wyn of ’n oulike medalje nie. Dit is maar bloot tasbare herinneringe aan die dag toe daar weer bevestig is: Jy kan meer doen as wat jy dink, want jy is nie alleen nie. En selfs al het jy nie die Munga klaargemaak nie, beteken dit nie dat jy verloor het nie, dit beteken nie dat die geveg is verby nie, dit beteken slegs dat jou journey en story nog ’n paar kinkels en draaie het wat jy moet baasraak.
Ons sit nou in Laingsburg en ek sien die bordjie wat die 1981-vloed se hoogte wys. ’n Mens kan dit nie dink nie.
Foto’s en medaljes van die Munga is nou so: ’n Bewys van iets wat in jou storie lê wat jy van buite af nie kan glo waar is en ooit kon gebeur het nie. Soos wat jy terugdink, besef jy wel dit was eintlik nie net veg nie. Ja, Riaan het aan die slaap op sy fiets geraak en vir Sylvia van die pad afgery. Ja, die baardbek-dominee het die hasepad gekies. Ja, oom Chris het sy eie roete uitgedink. Ja, Martin het sy broek verloor. Ja, oom Wouter het in sy jalies weggespring. Ja, Alphonso het sy helm vir ’n skilpad gegee. Ja, Annatjie het olifante op haar fiets gelaai. Maar ons almal gaan vertel dat die Munga meer is as grondpad en son. Soos wat die lewe meer is as asemhaal en eet.
Ons ry nou huis toe, vier mans saam met ’n stokmannetjie, maar elkeen kan getuig dat ons nie dieselfde mense is wat ’n paar dae gelede afgery het nie. Die interessante daarvan is dat ons ook nie hoogmoedig, selfvoldaan of arrogant kan wees nie, want elkeen van ons weet dat hierdie avontuur en ervaring slegs moontlik was weens die Here se genade en die omgee en ondersteuning van die Here se kinders.
Dit is wat ons geroep het om ook vir Rata se kinders te gee. Die genade, omgee, ondersteuning en erkenning wat ons het om te gee, omdat ons dit kan gee.
Vir nou stop die skrywes van ons Munga-span sodat elkeen van ons kan fokus op die verslae wat in ons eie stories geskryf moet word. Maar ons sien uit, as die Here wil, om almal binnekort weer saam te ry, saam te veg, saam te ontdek!
Stel maar solank jou Groot-Probleemskeppende-Soekie (GPS) in want die kaarte van die lewe lê voor ons met die uitnodiging, nie die waarskuwing nie: Here be dragons!