My kunsverhaal het begin toe ek nog maar ’n klein dogtertjie was, met ’n ma wat gedurig vir ons sewe kinders die mooi dinge van die lewe uitgewys het. As ons in die veld gestap het, sou sy ons die blommetjies tussen die graspolle laat raaksien, of ons bewus maak van die warm kleure in die winterlandskap.

Wanneer ons deur die Karoo-dorpies gery het, het sy liries die ou huisies en statige kerkgeboue besing. Sy het ons geleer om oudhede te waardeer en ons lief gemaak vir klassieke musiek. In die kombi op pad iewers heen, het ons altyd FAK-liedere gesing. Ek was seker vyf jaar oud toe my ma my die eerste keer na ’n balletkonsert geneem het, en van toe af wou ek net dans.

My ma het geskilder. Ek kon vir ure na haar kyk terwyl sy ’n werker op die plaas geskilder het, of sketse van my, of my broers of susters gemaak het. Al het ek destyds haar invloed op my vorming as vanselfsprekend ervaar, weet ek in terugskoue dat die saadjie reeds gesaai was. Ek weet waar my liefde vir mooi dinge vandaan kom. Watter voorreg om my elke dag daarmee te kan omring!

Op Stella, waar ek grootgeword het, was kuns as vak nie ’n opsie op skool nie, en toe my ouers my vir aanlegtoetse geneem het, het die sielkundige my net een kyk gegee en geweet dat hierdie naïewe plaaskind dit heel waarskynlik nie gaan maak tussen die meer liberale kunsstudente op kampus nie. So, om aanvanklik kuns te gaan studeer, was nie ’n opsie of ’n aanbeveling nie.

Ek het veel later toe wel ’n kunsgraad deur UNISA verwerf. Na my studies het ek een ding vir seker geweet, en dit is dat ek nie filosofie, protes of politieke kommentaar deur my kuns gaan kommunikeer nie, maar dat ek studies sal maak van dinge wat vir my mooi is, soos mense, diere en landskappe. Vandag is dit steeds my missie om onderwerpe te skilder wat my hart roer.

Die beste raad wat ek ooit met betrekking tot my kunsloopbaan gekry het, was dat ’n mens onophoudelik moet werk! ’n Mens moet nie sit en wag vir inspirasie nie. Dit is soos enige ander beroep, ’n daaglikse werk, waar jy moet gaan sit en jou dagtaak aanpak. Gedissiplineerd! Gelukkig is dit vir my geen probleem nie, want dit bly vir my ’n voorreg en ’n groot lekkerte om my passie so te kan uitleef.

Malcolm Gladwell verduidelik in sy boek Outliers: The story of success, dat die meeste mense wat sukses bereik en uitblink, ten minste 10 000 ure daaraan geoefen het. Na 10 000 ure se oefen, voel dit vir my asof ek steeds so baie het om te leer. Ek is gedurig besig om met nuwe metodes te eksperimenteer. So het ek gedurende die laaste jaar begin om op koeke te skilder. Verder het ek ook deesdae die behoefte om myself meer abstrak uit te druk. Ek is tans besig met ’n aanlyn kursus oor abstrakte skilderwerk.

Ek bied slegs drie keer per week kunslesse aan sodat ek steeds genoeg tyd beskikbaar het om my eie skilderwerk te kan doen. Watter wonderlike ervaring is hierdie klasse nie! Ek is seker daarvan dat ek meer uit my kunsstudente kry, as wat hulle by my kry! Tydens die klasse het ek ontdek watter terapeutiese waarde daar in kuns is. Baie studente ervaar hoe helend dit is om kreatief tydens die sessies besig te wees. Ek is dankbaar dat ek deur my kuns in ander mense se lewens ’n verskil kan maak.

Ek bied ook skilderaande en oggendtees aan waar ek groepe van tot 20 mense kry wat ’n kunswerk maak binne die bestek van drie ure. Gewoonlik het hierdie mense nog nooit tevore geskilder of geteken nie. Dis vir my die grootste bevrediging om te sien hoe verbaas mense kan wees oor hul eie vermoëns. Die meeste deelnemers het nooit kon dink dat hulle tot so iets in staat is nie.

Ek het tot dusver my lewe gewy aan kuns, maar al my pogings sou tot niks gekom het nie as dit nie was vir my man, Colin, se ondersteuning van die begin af nie. Nog nooit het hy my gevra of ek nie eerder iets anders wil doen wat ’n meer stabiele inkomste kan bied nie. By die kunsfeeste sou hy Potchefstroom of Nelspruit toe ry om my stalletjies te bou, dan terugry om voort te gaan met sy gemeentewerk en om die kinders te versorg. Later sou hy weer terugry om my stalletjie af te breek. Hy was my vangnet in tye wanneer ek nie baie inkomste verdien het nie, iets wat elke kunstenaar met tye beleef.

My kunspad was ook my groeipad as mens. Elke kunstenaar het seker iewers die droom om bekendheid te verwerf vir haar werk. Maar die Here het my soveel keer gewys dat wat belangrik is, is dat ek my gawe wat ek van God gekry het, sal ontwikkel om mense se lewens aan te raak. Die Here het my ook al so baie kere gewys dat elke mens se pad uniek is en dat ’n mens jouself nooit met ander moet vergelyk nie. Wanneer ek op sy pad stap, is ek elke keer so uit die veld geslaan oor wat Hy volgende vir my beplan. Ek dank die Here vir hierdie verstommende lekker en vervullende pad wat ek saam met Hom mag stap.

(Annelie Hertzog is predikantsvrou in Gemeente Middelburg-Noord)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap