Daar is min dinge wat my hart so diep raak as kinders wat lekker speel. Ek verwonder my altyd aan hoe kinders met alles en van alles ’n speletjie kan maak. Die gelag wat diep vanuit hul binneste kom. Die gefokusde frons van ’n ernstige taak wat onderneem word. Die senuweeagtige glimlag van ’n groot risiko wat oorweeg word. Speel is voordelig en goed. Speel is wonderlik, lekker en belangrik, maar presies hoe belangrik? Ek wil vir jou sê, meer belangrik as wat ons ooit sou kon dink!
Alhoewel ons uit verskillende oorde al jare lank bewus is van die waarde van speel, word dit dikwels steeds as ’n bysaak gehanteer. Iets wat gedoen word wanneer daar tyd is, of as ’n tydverdryf om kinders besig te hou. Speel is steeds vir ons slegs ’n bysaak. Dit begin egter al hoe meer duidelik raak dat speel eerder vir ons die hoofsaak behoort te word.
In 2021 het ek die voorreg gehad om betrokke te raak by ’n navorsingstudie oor die impak van intensionele spel op die ontwikkelingsuitkomste van kinders. Die Masidlale-studie is oor ’n tydperk van twee jaar gedoen onder kinders tussen die ouderdomme van agt en 12 jaar (29 meisies en 30 seuns), woonagtig in twee kinder- en jeug- residensiële sorgsentrums in Gqeberha.
Een van die sorgsentrums het reeds vir ’n aantal jare ’n intensionele speelprogram gevolg. Dit het die voorafbeplanning en skedulering van ten minste een uur se speel per kind per dag behels, hetsy binnenshuis of buite. Die ander sorgsentrum het nie so ’n intensionele speelprogram gevolg nie en het gespeel soos en wanneer dit geleë was.
Die Masidlale-studie het verskeie navorsingsmetodes gebruik om data te versamel, te analiseer en te vergelyk. Die sorgsentrum wat ’n intensionele speelprogram toegepas het, het in elke aspek van kinderontwikkeling beter uitkomste gelewer. Die kinders wat doelbewus elke dag gespeel het, het merkbare verbeterings in hul fisiese gesondheid, sosiale vaardighede, emosionele welstand en akademiese prestasies getoon.
Die kinders wat daagliks gespeel het, het in terme van hul fisiese ontwikkelingsuitkomste gesonder getoets ten opsigte van hul lengte en gewig. Die kinders wat nie daagliks gespeel het nie, het ’n ongesonde gewigstoename getoon.
Die kinders wat daagliks gespeel het, kon beter sosialiseer, sterker sosiale bande vorm, en hulle het gevoel dat hulle deel van hul gemeenskap is. Die kinders wat nie daagliks gespeel het nie, het gesukkel om maats te maak en het dikwels konflik met hul portuurgroep ervaar.
Die kinders wat daagliks gespeel het, het hoër veerkragtigheid, beter emosionele beheer, en ’n groter gevoel van hoop en optimisme vir hul toekoms getoon. Die kinders wat nie daagliks gespeel het nie, het gesukkel om hul emosies te beheer, was meer hiperaktief, en het gesukkel om stres te hanteer.
Die kinders wat daagliks gespeel het, het akademies beter presteer en het ’n groter geloof in hul eie akademiese vermoëns getoon. Die kinders wat nie daagliks gespeel het nie, was pessimisties oor hul eie leervermoë.
Die Masidlale-studie is slegs een van die nuutste studies wat die belang van intensionele speel benadruk. Daar is verskeie navorsingstudies wat die terapeutiese, pastorale en ontwikkelingsvoordele van speel aantoon, veral onder jonger kinders.
Een van die ander uitkomste van die Masidlale-studie is die data wat verkry is uit 26 onderhoude met die verskillende rolspelers (direkteure, maatskaplike werkers, kinder- en jeugwerkers) by die twee kinder- en jeug- residensiële sorgsentrums ten opsigte van speelruimtes. Hulle het aanbevelings gemaak ten opsigte van die speelruimtes van kinders, soos onder andere dat speelruimtes veilig en toeganklik behoort te wees, en dit behoort sensories stimulerend vir kinders te wees. Dit kan ook ’n mate van ’n uitdaging aan die kind bied, terwyl dit steeds inklusief moet wees ten opsigte van die kinders se vermoëns. Daar moet volwasse toesig wees, en speelgoed behoort van herwonne produkte gemaak te word.
Die volgende stap van die Masidlale-studie is om saam met die Departement van Argitektuur by UP ’n laekoste-speelstruktuur te ontwerp wat bogenoemde aspekte insluit, sodat ‘n laekoste- intensionele speelprogram en speelstruktuur aan behoeftige instansies, soos kinder- en jeug- residensiële sorgsentrums, gegee kan word in ’n poging om positiewe ontwikkelingsuitkomste by kinders te bevorder.
So, waarom deel ek hierdie navorsingsresultate met u? Want dit is van uiterste belang vir ons Kerk se kinders. Die potensiaal van hierdie navorsing vir ons kinders is legio. In ons Kerk en die gemeenskappe waarin ons gemeentes dien, is daar kinders van alle ouderdomme, van alle inkomstegroepe, uit alle huislike omstandigheide, in elke dorp en skool. Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor ons kinders om hulle te bedien op die mees effektiewe en mees ingeligte wyse moontlik. Die nuutste navorsing toon aan dat intensionele speel ons hierin kan ondersteun.
Hoe kan ons hierdie inligting in ons gemeentes gebruik? As die nuutste navorsing aandui dat speel ’n groter rol in ons bediening aan ons kinders kan speel, kan ons spel moontlik deel maak van ons kategese of kinderkerk. As die nuutste navorsing die moontlikheid van laekoste-speelstrukture ontsluit, kan dit die moontlikheid ondersoek om kerkterreine beskikbaar te stel aan ons kinders, of dalk aan die gemeenskap se kinders, tot opbou van al God se kinders se welstand.
Wie weet, dalk is intensionele spel die voertuig om ons tot by ’n meer missionale plek te bring. Dalk, as ons ’n spelende kerk word, word ons ’n meer missionale kerk?
(Ds Rue Hopley is leraar in Gemeente Pretoria-Oos)