Iets waaroor ons almal redelik liries kan raak, is kos. As iemand ’n lekker dis beskryf, is dit nie moeilik vir ons om dit te visualiseer nie. Ons monde begin spontaan water. Ons hou van lekker eet. Ons sê ook mos soms grappenderwys: Ons lyk so lekker, want ons eet so lekker!
Kuier en vriende is ook sinoniem met: Wat gaan ons eet? Kos maak ons nou eenmaal opgewonde.
Maar raak ek en jy so opgewonde wanneer ons praat oor God se Woord? God se Woord is mos eintlik ons sielekos. En tog, hoeveel van ons raak so opgewonde oor die Woord van die Here as wat ons raak oor lekker varsgebakte brood of braaivleis? Is daar ’n verlange in ons oë en ’n honger in ons harte?
Jeremia 15: 16 sê: Ek het u woorde verslind toe hulle gekom het, hulle was vir my ’n vreugde; ek was bly daaroor dat u Naam oor my uitgeroep is, Here, almagtige God.
God se Woord kan die grootste honger in ons harte stil. Dink net aan al die wonderlike dinge in God se Woord waarin ons ons kan verlustig. Daar is beloftes, vertroosting, leiding en onderrig, redding en liefde, vreugde en wysheid. Die lys is eindeloos. Die spyskaart is vol.
Die Here wil as’t ware hê ons moet sy Woord verslind. Ten einde dit te doen, moet ons die Woord ons eie maak. Ons kan die lekkerste kos voor ons op die tafel hê. Die tafel kan gedek wees met die allermooiste tafeldoek, servette, silwer eetware en pragtige tafelversiering. Die kos kan heerlik lyk en ruik, maar as ons nooit van die kos éét nie, sal dit ons nie kan versadig nie. Ons moet éét.
Deur die Bybel te lees, te bestudeer, te memoriseer en daaroor te mediteer, is die enigste manier waarop ons die Woord deel van ons lewens kan maak en dit kan “proe”. Ons moet dit ook dáágliks doen.
As ons fisies slegs een maal ’n week geëet het, sou ons doodgegaan het van die honger. Ons sou nie krag gehad het om ons dagtaak te verrig nie. Dieselfde is waar van die Woord van die Here. As ons slegs een maal ’n week, dalk in ’n erediens, die Woord van die Here hoor, sal ons geestelik “anoreksies” word. Ons moet aanhoudend na God se Woord teruggaan vir meer.
1 Petrus 2: 2 sê dat soos pasgebore kindertjies smag na melk, so moet ons smag na die Woord van die Here sodat ons kan groei in ons geestelike lewe.
Ons moet God se Woord ons eie maak deur dit te memoriseer, want sodoende kan ons dit tydig en ontydig herroep en kan dit ons versterk en help in alle tye.
Om oor God se Woord te mediteer, is ook ’n opdrag. Josua 1: 8 sê ons moet die Woord dag en nag oordink; die Ou Vertaling sê bepeins. God se Woord moet as’t ware in ons gedagtes maal. Kom, laat ons ons verlustig in die sielekos wat die Here daagliks in sy Woord vir ons voorsit!
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)