My seuntjie is 15 maande oud, en genugtig, hy hou sy mamma en pappa uiters besig tydens hierdie buitengewone grendeltydperk. Hy is beslis nie stout nie – net nuuskierig en ondersoekend met ’n lekker skeppie ondeundheid! En tog sê hy met groot oë Stout! elke keer as hy iewers gevaarliks invaar.

Om ouers van so ’n besige peuter te wees, is veral uitputtend terwyl ’n mens so ingehok is. Ons is gelukkig om steeds elke maand ons salarisse te kry, en slegs hier en daar werkkaarte vir ons skool (waar ons werk) se webblad in te stuur. Ander ouers moet hul kleintjies besig hou, opvoed en dissiplineer terwyl hulle elke dag voldag aanlyn aan die werk is. En ook nie noodwendig ’n volle salaris verdien nie.

Elke keer as ek op sosiale media gaan, voel ek skuldig as ek sien hoe baie van my vriende die wonderlikste aktiwiteite met hul kinders doen. Tuisskool op sy beste. As ek drie formele aktiwiteite met ons ou seunie ingepas het, is dit baie. Dankie tog dat spraak- en taalstimulasie eintlik deurlopend deel van my kommunikasie met hom is. En dis so pragtig om te sien hoe sy pa (wat nie ’n spraakterapeut is nie) ook sy spraak en taal kliphard stimuleer. Hy lag die lekkerste vir sy pappa se streke – so reguit uit sy magie, totdat hy skoon uitasem is.

En ons kan met trots in ons harte rapporteer dat ons seuntjie op 3 Mei 2020 sy eerste paar selfstandige treë gegee het! Let wel, 22:05 in die nag, die begin van ’n vier-ure-proses om hom in die bed te kry (nadat hy eintlik al 20:30 in die bed was)!

Baie mense spog ook reeds met al die nuwe vaardighede wat hul aangeleer het in die tyd van korona. Verf, bak, brei, kosmaak, teken… En wat het ek geleer? Myne is beslis minder indrukwekkend, maar amper meer prakties…

  • Die voorbereidingstyd op resepte is eintlik net ’n voorbeeld. 15 min in my huis is 1 uur en 15 min (Wag nou, Seunie! Nee! Dis warm, pasop!).
  • As die doeke 17:00 klaar gewas is, is dit heeltemal voldoende om dit eers teen 02:00 in die oggend op te hang. Dit muf nie as dit so lank lê nie!
  • Enige iets kan in die tuimeldroër gaan – dit lyk dieselfde na twee ure daarbinne!
  • As jy muffins bak met ’n oond wat alles brand, gebruik ’n pan wat van silikoon gemaak is en smeer die binnekant met botter! Perfekte muffins!
  • Winkelassistente kan maskers net so goed soos gesigte herken. Die outjie met die steriliseerder by Dischem se ingang ken my nou al as gevolg van my blommetjies-masker.
  • Ek weet nou presies hoe die child lock op my nuwe wasmasjien werk. Klein vingertjies hou daarvan om knoppies te druk…
  • Ek het geleer om skottelgoed binne 15 minute te was. Jy móét as Seuntjie weer gaan wakker word en aan die slaap gesus moet word.

En tog, op ’n ernstiger noot, hoe ongelooflik is menseharte, om so ’n vreemde situasie te hanteer. Hoe dokters, paramedici en ander gesondheidswerkers hul eie lewens in gevaar plaas om voort te gaan met hul werk. Hoe ouers hard werk om hul kinders se ontwikkeling deurgaans te stimuleer. Hoe onderwysers hard werk sodat skoolkinders steeds skoolwerk doen. Hoe my seuntjie se dagmoeder die oulikste stimulasie-aktiwiteite en video’s stuur, en so ook sy musiekjuffrou. En hoe gelukkig ons is om ons seuntjie se eerste treë te aanskou, en dat ons dit onmiddellik per video en WhatsApp met ons vriende en familie kan deel. En elke week kan ons inskakel op ons eie gemeente se kerkdienste. Nie dat Seuntjie nou leer om stil te sit in die kerk nie, maar nou ja. Dit is nie nou so belangrik nie.

Wanneer die huis te klein begin voel, en die ingehokte realiteit meer werklik raak, en ons te veel na ons hartsmense begin verlang, dan kyk ek na ons seuntjie se groot glimlag en opgewondenheid om Mamma en Pappa heeltyd naby te hê, en dan dink ek: Miskien is hierdie ’n geseënde tyd van samesyn vir baie gesinne. En om nog meer liries te raak: She had never imagined that curiosity was one of the many masks of love. Dit kom uit die boek Love in the time of Cholera, geskryf deur Gabriel Garcia Màrquez.

So ja, ons leef in ’n tyd van ’n globale pandemie, ’n tyd waarin ons ingeperk word, en mense met onderliggende siektes vrees vir hul lewens, ’n vrees vir ’n onsigbare gevaar. Maar ek glo in hierdie tyd veral dat liefde oorwin. Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie (1 Joh 4: 18).

In hierdie tyd is liefde en geloof die pilare wat ons as gelowiges staande hou. Faith and fear both demand you believe in something you cannot see. You choose (Bob Proctor).

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link