Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Koning Lodewyk XV wat van 1710 tot 1774 in Frankryk geheers het, was loshande beskou as Frankryk se swakste koning nog.  Sy swak regering het byvoorbeeld aanleiding gegee tot die Franse Rewolusie wat tydens sy opvolger se bewind losgebars het.  Hy was nie ook juis ‘n nederige mens nie, aangesien hy in 1732 die volgende kennisgewing laat opsit het in die St Medard begraafplaas in Parys:

God word hiermee verbied om in hierdie plek wonderwerke te doen.  Op las van Koning Lodewyk XV, koning van Frankryk.

Die rede vir hierdie kennisgewing was blykbaar, beweer sommiges, dat Lodewyk so ‘n sedelose lewe gelei het dat hy die oordeelsdag so gevrees het, en daarom God wou verbied om iets te kom doen daar waar hy eendag begrawe sou lê.  Dit is asof hy met sy kennisgewing wou sê: Hier mag God se koninkryk nie kom nie.  Hier mag God nie kom Dit is Lodewyk XV se koninkryk en plek hierdie!

Die Bybel daarenteen, broers en susters, leer ons dat God se koninkryk sal kom op God se tyd, volgens God se wil, maak nie saak wat enige mens daaroor te sê het nie.  Wat ons bring by die tweede bede van die Onse Vader waar Jesus ons leer om te bid : Laat u koninkryk kom!

En hoe meer ek met hierdie gebed besig is, broers en susters, hoe meer kom ek agter dat dit wat ek al seker baie duisende kere in my lewe gebid het, baie, baie meer om die lyf het as wat ek altyd gedink het.  Ons ken hierdie woorde so goed, hulle rol so maklik oor ons tong.  Sonder om te besef wat dit werklik beteken wanneer ons pleitend bid: Laat u koninkryk kom!

Vir ‘n begin: het God se koninkryk nie al klaar gekom nie?  Psalm 24 leer ons dat aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon – alles behoort aan die Here.  Is daar dan ‘n plek waar die Skeppergod nie ook as Koning heers nie?  Is daar dan ‘n plek in die heelal waar God se koninkryk nog nie gekom het nie?

Jesus sê immers self in Lukas 17, as die Fariseërs Hom vra wanner die koninkryk van God kom dat die koninkryk van God hier by julle is.  En in Matteus 4:17 sê Jesus : Bekeer julle, want die koninkryk van God het naby gekom! Waar Jesus is, daar is die koninkryk van God.

So was dit van die begin van die skepping af.  Alles behoort aan die Here: elke doudruppel, elke berg, elke mossie, elke bossie.  Hy is nie alleen Vader van die gelowiges nie, maar ook Koning oor die heelal.  En daarom is die koninkryk van God hier en oral, en het dit in Christus op ‘n nuwe wyse aangebreek.  Selfs, en veral, ook in begraafplase, daardie rou simbool van ons verganklikheid!

As dit nie so was nie, is alles in die Bybel immers ‘n leuen.  Dan was die woorde van die profete en die dissipels en die apostels nie waar nie.  Dan was die kruis op Golgota en die leë graf en die hemelvaart en Pinkster en die beloftes van Jesus se wederkoms alles leuens.  Dan is ons geloof immers ‘n yslike misverstand, gegrond op niks.

En as dit so is, broers en susters, dat God reeds as Koning oor sy koninkryk heers, hoekom leer Jesus dan sy dissipels om te bid dat sy koninkryk nog moet kom?  Hoekom, broers en susters?  Omdat God se koninkryk ‘n geheimnisvolle kant het.  Omdat God se koninkryk op so ‘n wyse teenwoordig is dat dit nie soos ‘n stoomroller oor alles heen loop nie.  En kom ek verduidelik.

God se mense is nie God se robotte nie.  God se mense, en alle ander mense kan keuses in die lewe maak.  Mense kan vir God of teen God kies.  En deur ander mense en ons kan ons God se koninkryk verduister, dit teenstaan.  Ook ons kan soos Lodewyk by wyse van spreke ‘n kennisgewingbordjie oprig wat sê: Hier mag God se koninkryk nie kom nie.  Hier mag God geen wonderwerk doen nie.  Hier maak ek soos ek wil, want hierdie is my private koninkrykie.  Op las!

Ons kan, broers en susters, met ander woorde, ons ou koninkrykie bo God s’n verkies.  En ek sou baie voorbeelde kom noem waar ek, en miskien ook u, dit doen.

En doen ons dit, gebeur eintlik die ergste wat ‘n mens jou kan voorstel: God laat ons aan onsself oor!  Hy laat ons oor ons eie ou rykies heers.  En dit is seker die ergste oordeel waarmee God ‘n mens kan tref.  Want gaan kyk maar, waar mense deur die eeue hulle eie koninkryke probeer bou het, het hulle hulleself nog altyd teen ‘n duiselingwekkende spoed vernietig.

En dit is juis die saak wat Jesus aan die orde stel wanneer Hy in Lukas 9:25 vra: Wat help dit ‘n mens as hy die hele wêreld as wins kry, maar homself verloor of ten gronde gaan?  En kom ons lees mooi wat Jesus hier sê:  Jesus sê nie dat jy jou kans op jou eie hemeltjie verloor nie – jy verloor jouself.  Bou maar lekker aan jou ou koninkrykie – jy gaan eendag nie net jou koninkrykie verloor nie – jy gaan jou hele self verloor!

Wanneer ons dus bid om die koms van God se koninkryk, bid ons eintlik vir geloof, vir geloof wat net God kan gee, bid ons dat alle mense in geloof voor en saam met God sal lewe.  Die Heidelbergse Kategismus (Sondag 48, vraag 123) verwoord hierdie gebed immers soos volg: Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp!

Met God se regering as Heerser oor sy koninkryk skort daar niks.  Wel met ons onderwerping daaraan!  Ons verkies ons eie koninkrykies.  Daarom is ons so huiwerig om te vra dat God se koninkryk moet kom.  Daarmee bid ons immers om die ondergang, om die neerlaag van ons eie koninkryke, daarmee haal ons die kennisgewingborde teen God af, daarmee bely ons dat alles in ons lewe onder die heerskappy van God val, en daarom ook behoort te val!

Wanneer ons bid Laat u koninkryk kom, dan bely ons daarmee dat God Koning is oor alles; ook die Koning is van my lewe.  Maar dan vra ons ook: Here, word elke dag meer en meer Koning van my lewe; help my om ontslae te raak van daardie valse koning wat so graag heerskappy wil voer oor my lewe – daardie valse koning met die naam ‘die eie Ek!’

Maar ons bid ook om meer as net geloof in hierdie bede, broers en susters.  God se koninkryk, het ons gesien, het ‘n soort van ‘n misterieuse dimensie: God se teenwoordigheid by ons is werklik, maar voorlopig.  God se koninkryk het gekom, maar ook nog nie heeltemal nie.  Die koninkryk het gekom (Christus, byvoorbeeld, het gekom), die koninkryk kom nog elke dag daar waar mense tot geloof kom en in geloof voor God lewe, maar terselfdertyd moet die koninkryk ook nog kom.

Daarom vra ons in hierdie bede meer as om net te vra dat mense tot geloof moet kom.  Ons kyk ook na die einde van die tye.  Want die koninkryk van God behels ook die heerlike toekoms wat nog na ons toe aankom, nie deur menslike inspanning nie, nie deur revolusie of evolusie nie, maar deur die krag van God.

Die gebed om die koms van God se koninkryk is dus nie net daarop gerig dat mense na God toe kom nie, maar ook dat God na mense toe kom.  Nie omdat Hy nou afwesig is nie, maar omdat Hy selfs in groter heerlikheid en nabyheid as nou na ons toe gaan kom.  Hy het immers reeds in Christus en deur sy Gees op Pinksterdag na ons toe gekom.  Wat nou alreeds is, sal dan met groter duidelikheid geopenbaar word.  Op daardie dag, ‘wanneer alles  aan die Seun onderwerp is, sal Hy Hom ook self onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het.  So sal God alles wees vir alles’ (1 Kor 15:28).

Wanneer ons hierdie gebed bid, het ons die onwrikbare sekerheid: dit sal beantwoord word.  Want God het dit belowe.  Ons woorde waai nie in die wind weg nie.  Die koninkryk sal kom.  Daar is geen mag in hemel, op aarde of waar of in wie ook al wat die koms van die koninkryk kan stuit nie.  Ons kan maar probeer om God uit ons koninkrykies te hou met al die kennisgewingborde wat daar in die wêreld is.  God laat Hom nie keer nie.  Sy koninkryk kom ten spyte van alles wat mense probeer doen om dit te verhinder.

Sy koninkryk kom ook nie as gevolg van al die mooi pogings van die mense wat hulle so vroom probeer hou hier op aarde nie – sy Koninkryk sal kom omdat God Koning is en Koning bly tot in ewigheid!

Baie keer sien ons nie veel van die koms van hierdie koninkryk met ons menslike oë nie, en dan wil-wil ons begin wanhopig raak.  Ek het in die eerste preek in hierdie reeks verwys na Helmut Thielicke wat tydens die 2de Wêreldoorlog ‘n ook preekreeks oor die Onse Vader gelewer het.  Hy het meer as een keer gepreek terwyl die bomme val.  Hy skryf dat mense juis in tye soos daardie die koms van die koninkryk van God baie helderder kon sien as in die tye toe alles met hulle goed gegaan het, want in daardie moeilike tye het hulle baie duidelik besef hoe volkome hulle van God afhanklik was.  Hulle het besef dat God se koninkryk juis kom tussen die ruïnes en bomme deur.  Hy skryf:

Die grootste geheimenisse van God speel hulle altyd in die diepte af…  God bou sy koninkryk in die verborgenheid.  Dis soos by die oprigting van ‘n brug wat onder baie steiers en plate gebou word.  ‘n Verbyganger kan van die bouwerk nie veel sien nie.  Mens hoor net die duisende hamerslae.  Maar op ‘n dag word die steiers en plate weggeneem en die bouwerk staan daar voor ons verwonderde en beskaamde o?.  So is dit met die koninkryk van God: God was nie ledig in daardie tye toe ons tevergeefs na tekens van sy spore en sy werk gesoek het nie…

God was nie ledig nie, Hy is en was aan die werk en eendag, eendag sal ons die volle glorie van sy werk kan sien en waardeer … eendag, wanneer sy koninkryk in sy volle heerlikheid kom!

Maar nou wag ons nog.  Nou bid ons nog: Ons Vader wat in die hemel is; laat u Naam geheilig word; laat u Koninkryk kom…

Maar kom ons onthou wat ons sê as ons hierdie baie bekende woorde op ons lippe neem! Ons sê dat God ons hemelse Vader is en dat Hy weet wat ons nodig het, nog voordat ons dit van Hom vra; ons sê dat ons hierdie hemelse Vader wil eer en aan Hom die ereplek in ons lewens wil gee; ons sê dat hierdie ereplek is dat Hy koning van ons lewe is, en ons vra dat Hy sy koningskap sal bevestig, in ons harte, in die ganse wêreld, en ons sê ook dat ons nie kan wag vir dié dag wanneer sy Koninkryk in sy volle heerlikheid weer sal kom nie!

El sluit af: Ou Lodewyk XV het daar in die St Medard begraafplaas met sy ou kennisgewinkie probeer wys hoe belangrik hy kwansuis sou wees.  Miskien moet ons ook elkeen ‘n kennisgewing van ons eie opsit, ‘n kennisgewing wat lui: God doen hier wonders, want Sy koninkryk het gekom; Sy koninkryk het gekom, kom elke dag en sal nog kom.  Ek is deel daarvan – Hy doen dit vir my; Hy doen dit ook deur my.  Op las van die Koning van die Konings! 
Amen

Gebed 
Laat u koninkryk kom, 
Koning van die koninkryk! 
Elke millimeter van die kosmos, 
alle kragte, ruimte, tyd: 
hede, verlede en toekoms; 
elke komeet en planeet, 
elke greintjie materie 
behoort aan U. 
Elke sel van my bestaan, 
elke hartklop, asemteug, 
flitsende gedagtegang, 
my kom en gaan 
my dink en doen 
behoort aan U. 
U is my gister, 
my vandag 
my môre 
U is … 

my Koning in ewigheid! 
Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap