Hierdie kroniek is in 2003 gedurende die Pase in Jerusalem geskryf. In die lig van die onnodige oorlog toe en nou, is dit goed om opnuut te besin oor die andersheid van God se koninkryk teenoor dié van wêreldse regeerders. Vir wêreldse konings gaan dit om mag en uitbuiting; vir God gaan dit om deernis en diens.
“Jesus, onthou my wanneer U in u koninkryk kom!” En Jesus antwoord: “Dit is só, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Luk 23: 42-43)
Onthou, o God, hoe u dienskneg verneder is; hoe ek in my hart die beledigings van mense/nasies verduur het. (Ps 89: 50)
23 Maart was die derde Lydensondag in 2003. Ek het my in dié tyd in Jerusalem bevind, besig met navorsing oor die vroegste gemeente in Jerusalem direk ná die kruisiging van Jesus in hierdie selfde stad soveel jaar gelede. Ek is onder andere geïnteresseerd in die vraag op watter wyse Jerusalem die moeder van die kerk is.
Dié Sondagoggend, ná my Nagmaalviering in die Lutherse kerk op die Via Dolorosa in die ou stad Jerusalem, het ek die kerk van die Heilige Graf besoek om daar op my eie vir vrede te bid. Daar was min mense in Jerusalem – ek het ook geen toeriste gesien nie – om die dood van Jesus twee duisend jaar gelede te herdenk. Dit lyk asof die oorlog in Irak en die konflik in Palestina mense weghou van Palestina/Israel en van die eredienste in die kerkgeboue langs die Via Dolorosa.
Toe ek die kerk van die Heilige Graf verlaat, het ek, soos so baie kere in die verlede, op die stoep van die “Gate Cafe” by die Damaskuspoort ’n beker kruietee by die vriendelike Palestynse kafeebaas gaan geniet. Vanuit daardie hoogtetjie het ek vir die res van die oggend oor Jerusalem en die beweging en gesigte van mense getuur – Israelse soldate, Arabiese handelaars, Palestyne oud en jonk, wat in en uit deur die hek in die stadsmure kom, en ek het diep begin nadink oor Jerusalem en Jesus se lyding.
Onder die vier Evangelies in die Nuwe Testament neem die stad Jerusalem ’n eie kenmerkende plek in Lukas se Passievertelling in. In die ander drie Evangelies is Jerusalem veral simbool van die bose – die plek waar die profete van ouds vermoor is en waar Jesus gely en gesterf het. Die drie evangeliste Johannes, Markus en Matteus het eintlik nie ’n goeie woord oor Jerusalem te sê nie. Jerusalem is die plek van boosheid en van moord. Volgens Markus en Matteus het die dissipels by Jesus se gevangeneming en verhoor uit Jerusalem gevlug, en volgens Johannes het Jesus die inisiatief geneem en met die tempelpolisie ooreengekom dat hulle uit die stad vertrek, sodat hul lewens gespaar kon bly. Hierdie Evangelies berig dat Jesus en die dissipels eers weer ná Jesus se opstanding in Galilea mekaar sal ontmoet. In Galilea sal die volgelinge se “nuwe lewe” vorm aanneem.
Maar só word dit nie in Lukas berig nie. In Friederich Nietzsche se woorde, vir my doel aangepas, kan ’n mens sê: In Lukas is Jerusalem die plek van chaos én die plek waar die dansende sterre gesien word. Die plek wat Jerusalem in Lukas inneem, bied vir my ’n reliëf vir hierdie uitspraak van Nietzsche toe hy oor homself teen die agtergrond van Van Gogh se Starry Night gesê het dat alleen die mens wat van die chaos in sy of haar hart weet, die dansende sterre kan sien.
Volgens Lukas vlug die dissipels nie weg van die traumatiese gebeure rondom die inhegtenisneming en verhoor van Jesus nie. Hulle verlaat nie Jerusalem toe die priesters en die soldate Jesus kruisig nie. In Jerusalem ervaar hulle nie net die dood nie, maar ook die opstanding, die hemelvaart, die geboorte van die kerk, en die begin van hul reis as Christene. Toe Jesus op pad was vanaf Galilea na Jerusalem, het Hy volgelinge geroep en hulle in geen onduidelike taal nie gewys op die prys wat dissipelskap gaan eis. Dit vra die bereidheid om martelaar te wees. Die gewilligheid om jou lewe prys te gee, is voorwaarde vir die reis van Christen-wees in die wêreld. Die pad begin by Golgota in Jerusalem en neem jou daarvandaan na Jerigo deur die gebied van Samaria, om te kyk of jy of bereid is om te assosieer met mense wat jy eerder sou wou vermy. Eers wanneer jy hierdie struikelblok oorbrug het, gaan jou reis, volgens Lukas, na Galilea toe – die plek waar Markus en Matteus die kerk se werk in die wêreld laat begin het. Volgens Lukas (en Paulus) bly die volgelinge van Jesus nie in Galilea (en Sirië) nie, maar hiervandaan gaan hulle reis na die eindes van die wêreld.
Jerusalem is dus in Lukas beide die plek van lydensdood én die plek van nuwe begin. Vir Lukas is Jerusalem die plek van kruisiging, opstanding, hemelvaart, Pinkster, en die plek waar die kerk se geskiedenis begin. Die passie van Jesus in Lukas is die verhaal oor die lot van Jerusalem as tegelykertyd hel én paradys.
Dit is daarom begryplik dat Lukas die enigste Evangelie is wat ’n ander berig het oor die twee “kwaaddoeners” wat saam met Jesus gekruisig is. Hulle verteenwoordig die twee portrette van Jerusalem: die een wat saam-ly en doodgaan met chaos in die hart, en ondergaan; die ander wat saam-ly en doodgaan met ’n lied soos Psalm 30 (vers 11) in die hart oor weeklag wat in dans verander, en die paradys ingaan.
Die ander Evangelies se berigte oor die twee “kwaaddoeners” het ’n ander strekking as dié in Lukas. In Markus en Matteus word hulle politieke rebelle, ’n mens kan sê “terroriste”, genoem – mense wat kan verwag om deur die Romeinse owerhede gekruisig te word, want marteling en kruisiging was die tipe afskrik-teregstelling wat politieke onrusstokers se lot was. In Markus, Matteus en Johannes lyk dit of dit slegs belangrik was om te vermeld dat die “rebelle” sáám met Jesus gekruisig is. Saam-kruisiging wou waarskynlik beklemtoon dat Jesus se “koningskap” gesien is as ’n bedreiging vir die keiser, en die wrede teregstelling saam met ander onrusstokers moes dien as afskrikmiddel vir Jesus se volgelinge wat dieselfde lot kon verwag.
Hierdie Evangelies wou die andersheid van die inhoud van God se koninkryk vergelyk met dié van die keiser en ander wêreldse regeerders. Vir wêreldse konings gaan dit om mag en uitbuiting; vir God gaan dit om deernis en diens. Lukas se bedoeling is ietwat anders, hoewel ook hierdie evangelis dit nie nalaat om die barmhartigheid van God, soos dit in die lewe van Jesus gesien kan word, te beklemtoon nie. Lukas het egter nie so ’n sterk “politieke kritiek” soos die ander evangeliste nie. Jerusalem is vir Lukas nie in die eerste plek ’n politieke sentrum nie, maar ’n kerklik-kultiese sentrum wat, soos die moederskoot van ’n vrou, die plek is waar die lewe begin. Jerusalem is vir Lukas nie in die eerste plek die setel van die koning se regering nie, maar in die eerste instansie die plek van die tempel waar die koning se kroningsplegtigheid in die teenwoordigheid van God plaasvind. Daarom lees ons in Lukas dat Jesus se lewe vanaf die moederskoot (Luk 2:21 ev) in Jerusalem begin en ook daar tydens sy kroning as koning eindig. Die feit dat Lukas die twee saamgekruisigdes nie “rebelle” noem nie, maar “kwaaddoeners”, wys dat Jesus se koningskap vir hom nie in die eerste plek ’n “politieke” aangeleentheid was nie, maar deel is van Jesus se kroning as ’n soort geboorteproses wat nuwe lewe voortbring.
Lukas meld net soos die Evangelies van Markus en Matteus dat dié twee aan die linker- en regterkant van Jesus aan kruise hang. Die vermelding van die regter- en linkerkant is vir Markus en Matteus belangrik. Hierdie posisies is ereplekke, selfs gesien teen die agtergrond van die skandelike gebeure van die kruisiging. Markus het sy lesers vertel dat daar twee dissipels was wat gedink het dat hul lojaliteit jeens Jesus voordeel vir hulle in die kerk kan inhou wanneer die trauma van lyding en dood agter die rug is – hul Christen-wees sou vir hulle belangrikheid, mag en eer beteken. Volgens Markus het hulle van Jesus geleer dat om saam met Jesus te ly, is om ’n keuse uit te oefen van diens en nie van heers nie. Die berig oor die twee “terroriste” wat aan kruise aan die regter- en linkerkant van Jesus se kruis hang, dien as afskrikmiddel, want Jesus se lyding kan tog nie met arrogansie en maglus verwar word nie; dit is aanduiding van pryslose liefde en diens.
Net so, wat Matteus betref, moes die moeder van hierdie twee dissipels ’n soortgelyke les leer. In Markus was dit haar twee seuns Johannes en Jakobus self wat belangrikheid begeer het; in Matteus was dit sy as ma wat erkenning en belangrikheid begeer het omdat haar lojale dissipelseuns geëer sou word as hulle aan die regter- en linkerkant van Jesus se koningstroon plek kon inneem. Markus sê nie dat dit hierdie ma was wat saam met die ander vroue getuies van die kruisiging was nie. Maar Matteus vermeld haar as eksplisiet teenwoordig by die Golgota-gebeure. Dáár het sy met eie oë gesien dit dit nie haar twee seuns was wat aan die kruise aan die regter- en linkerkant van Jesus hang nie; dit was twee “terroriste” en sy moes sien watter offer saam-kruis-dra vra – alles behalwe posisies van eer en mag!
Lukas meld nie hierdie gebeure wanneer hy na die vroue by die kruisisiging van Jesus verwys nie. Maar ook vir Lukas bied vermelding van die huilende vroue ’n geleentheid om te wys op die bittere lyding wat die kruisiging as kroningsgeleentheid simboliseer. Vir Lukas is daar egter skynbaar meer op die spel wanneer hy oor die vroue by die kruisiging van Jesus berig. Dit is die vroue en nie die mans nie wat simbool van die “nuwe lewe” is wat op grond van die lyding en dood deurbreek. Lukas vermeld die “uitgedroogde” moederskoot van vroue sonder kinders, slanende op hul borste wat nog nooit kinders gevoed het nie (Luk 23: 28-31). Hulle is die “vroue van Galilea” wat ween oor die lyding van Jesus.
Ons het hier waarskynlik ’n implisiete verwysing na woorde in Sagaria 12: 10 – 13: 1. Daar verwys dit na die mede-lyde van die vroue met die lydende koning in Jerusalem – ’n geween wat die begin is van ’n fontein van lewenswater wat na die droogte sal oopbreek. Sagaria koppel hierdie mede-lyde in Jerusalem aan ’n baie ou herinnering aan die “huilery” by Hadad-Rimmon in die vlakte van Megiddo (Sag 12: 11). Uit die ou verlede was daar ’n vrugbaarheidskultus rondom die heidense god Tammus wat aan die einde van die droë seisoen (winter) na die onderwêreld neerdaal en, ná die geween van sy suster, opstaan en die nuwe lente (gepaardgaande met reën aan die begin van die seisoen) inlui. In Palestina is dit die tyd tussen Februarie en Maart, die “lydenstyd”. Vir die profeet is hierdie “nuwe lewe” die kroning van die “nuwe” Seun van Dawid as koning in Jerusalem, wat wys op die hergeboorte van Jerusalem (Sag 13: 1). Die twee “kwaaddoeners” word vir Lukas karakters wat die ondergang én die nuwe lewe simboliseer.
Verder beklemtoon die berig van dié twee die onskuldige lyding van Jesus as koning. Die tema onskuld is een van die kenmerkende aspekte in Lukas se lydensverhaal. Hierdie tema word in Lukas méér as in die ander Evangelies beklemtoon. Die tema herinner ook aan ’n baie ou Babiloniese (Irakese) mite oor die lydende koning. In hierdie mitiese verhaal gaan lyding van die koning die kroning van die koning vooraf. Eers word vertel hoe die koning beledig word deur priesters, hoe hy op die wang geslaan word, hoe hy van sy septer en koningsklere gestroop word; en dan, nadat sy onskuld bewys is en bevestig is dat hy nie skuldig is aan geweld en oorlog en moord nie, vind sy kroning as nuwe koning plaas.
Spore van die lyding en die herstel van die koning kan gelees word in Psalm 89 (veral verse 19-52) en Psalm 22 (’n gedeelte wat direk aangehaal word in die passiegeskiedenis van Jesus). In Lukas se lydensverhaal neem die een “kwaaddoener” deel aan die belediging van Jesus, en die ander een wys op Jesus se onskuld. Net soos in Psalm 89 herhaal hy die woorde: Onthou my, o God! En Jesus se antwoord was: Vandag, het jy die Paradys ingegaan!” Die woordjie “vandag” word sterk beklemtoon. In Jesaja 51: 3 wys die “paradys” (die tuin van die begin) op Jerusalem (Sion), uitgebeeld as die droë woestyn, wat God in die tuin van Eden herskep. Vir die “kwaaddoener”, asook vir ons, verwys hierdie hergeboorte nie na ’n vae toekomsbelofte van iets wat eers na ons dood werklikheid gaan word nie, maar is dit iets baie persoonlik, reëel en teenwoordig. Vir my/ons het vandag die fontein van nuwe lewe oopgebreek, die droë moederskoot het geboorte gegee, lyding het vir Jerusalem ’n nuwe begin gebring! Alles is anders!
Watter saamval van omstandighede dat ek hierdie woorde vandag, 23 Maart 2003, in Jerusalem kon neerskryf!
Ten slotte, onwillekeurig dink ek aan die rol wat hierdie verhaal oor die twee “kwaaddoeners” in die lewe van die bekende Russiese skrywer Leo Tolstoi gespeel het. Tolstoi is veral bekend vir sy groot epiese drama Oorlog en Vrede. Toe Tolstoi, vyf jaar nadat hy ’n Christen geword het, aan sy bekering teruggedink het, het hy oor dié radikale verandering in sy lewe aan die hand van Lukas 23: 43 nagedink. Tolstoi skryf dat hy op grond van sy nuwe begin nie meer dit begeer wat hy voorheen begeer het nie en dat hy nou dit begeer wat hy voorheen nie wou gehad het nie. Wat voorheen boos was, is nou vir hom goed, en wat vroeër goed was, is nou boosheid. Dit is, sê hy, soos ’n mens wat op reis was om besigheid te gaan doen, maar op pad skielik besef het dat hierdie besigheid nie meer nodig is nie en toe teruggekeer het. Wat regs was, is nou links, en wat links was, is nou regs. Die rigting van die lewe het verander en kwaad en goed het plekke geruil. Ek was, sê Tolstoi, soos die kwaaddoener wat hang aan die kruis, en ek het Jesus saam met my sien hang, en my lewe het verander… Hoe tragies, Tolstoi is later in sy lewe deur die kerk as ketter uit die kerk geban oor sy aanhoudende kritiek op die politieke maglus in kerk en regering.
Vandag, in Jerusalem, dink ek ook aan my lewe terug – en ek dank God vir die Paradys, terwyl die bomme hier oorkant die grens in Irak val en die land en mense waar Abraham vandaan kom, vernietig … en ek bid vir vrede: O God, dit lyk asof die soldate en hul presidente en eerste ministers en sjeiks nie weet wat wat hulle doen nie! Laat ek tog nie ophou om te vertel van die stories oor die Paradys, oor die nuwe Jerusalem nie.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)