Ons is Desembermaand op pad Weskus toe. Ons volg die N12-roete na ons bestemming en die uitgestrekte Karoo-landskap flits verby. Kimberley, Hopetown, Strydenburg, Britstown, Vosburg, Carnarvon, Williston, Calvinia, Nieuwoudtville, oor die Van Rhynspas, Clanwilliam, Graafwater, Lambertsbaai. ’n Lang reguit pad deur die Karoo. Asemrowend mooi en oop. Ons sien tot by môre en daar is asem. Genoeg asem!
Wanneer ek hierdie oopheid beleef, tref die ironie my altyd – die kontras tussen hierdie oopheid en uitgestrektheid van die landskap en ons toe-leef, ons geslotenheid, ons toe deure. Voor ons die langpad aangedurf het, moes ons sorg dat al ons besittings veilig is. Ons moes met iemand reël om so nou en dan ’n draai by die huis te kom maak. Sorg dat die elektriese heining in ’n werkende toestand is, dat al die deure gesluit is, dat die alarms werk, dat alles wat binne moet wees binne sal bly en diegene wat buite moet wees, buite gehou sal word. Dis vir oorsese besoekers aan ons land altyd die vreemdste dat ons agter toe deure en heinings leef. Sekuriteitswoonplekke is uniek aan ons land. Veiligheid is vir ons almal ’n prioriteit en ons dink gedurig met deernis en angstigheid aan diegene wat op plase bly – uitgelewer aan ongewenste elemente. Hekke, drade, veiligheidsheinings en diefwering voor die vensters is nie altyd genoeg beskerming nie.
Hierdie toe-leef het ook deel van ons menswees, ons leefwyse, geword. Ons het toe deure vir mekaar geword. Ons uitreik na mekaar is beperk. Ons omgee is beperk tot diegene wat nie my veiligheid bedreig en my sal dwing om my toe deure oop te maak nie. Ons verdraagsaamheid met mekaar is min, want ek kan dit nie waag om die deur van my denke, my opinie oop te maak en ’n ander een in te nooi nie, want dit is onveilig. Ondenkbaar. En tog is dit so kontra-evangelie, kontra-God-se-Woord.
Die Nuwe Testament wemel van oop-deur-metafore. Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word (Matt 7: 7, AFR2020). Ek is die deur vir die skape (Joh 10: 7, AFR2020). Johannes 20: 19-23 vertel van die dissipels wat bevrees vir die Jode agter toe deure geskuil het en Jesus wat ten spyte van ’n toe deur tussen hulle kom staan het en twee maal sê: “Vrede vir julle.”
In Openbaring 3: 7-8 (AFR2020) word die gemeente Filadelfia vertroos met die woorde van Jesaja 22: 22: Dit sê die Heilige, die Ware, wat die sleutel van Dawid hou, wat oopmaak, en niemand sal dit toesluit nie, wat toesluit en niemand sal dit oopmaak nie. Jesus word die Sleuteldraer, wat Lewe oopsluit vir almal. In vers 8 volg die trooswoorde: Kyk, Ek het voor jou ’n oop deur gegee, wat niemand kan sluit nie. Jesus Christus het immers toe deure kom oopmaak, toe deure na God oopgesluit en dit moontlik gemaak vir elkeen om God, Here en Vader te noem. Hy het die tempeldeure oopgemaak sodat tollenaars, sondaars, prostitute, vroue, armes, onbesnedenes, stukkendes, nie-goed-genoeg-mense by God welkom is. Hy is die deur wat grense oopgemaak het en grendels afgebreek het. Deure-oopmaak het ook ’n ander naam – genade. Genade onbeskryflik groot. Genade is altyd oop, nooi altyd in, is onbeperk. Die Here wat ons ken en bely is die deur na die Lewe, oop en verwelkomend.
’n Nuwe jaar roep ook altyd die beeld op van oop deure, nuwe geleenthede en vooruitsigte. En ja, baie dinge bly dieselfde. Wilhelm Jordaan (Netwerk24, 8 Januarie 2025) beskryf hierdie dieselfde-wees so: Mens ken mos die menslike geneuk, dat sotterny en dwaasheid, soos die vorige en elke ander jaar, sal voortgaan: Verhoudings sal tot niet gaan; gesinne sal verbrokkel; geweld teen vroue en kinders sal aanhou; kibbelendes sal bly kibbel; praters sal bly praat en donderjaers sal voortdonner. Slotsom: “Selle ou storie…”
En tog kan ons onsself nie dissipels van Jesus Christus noem as ons nie glo aan nuut wees en nuwe vooruitsigte nie. Ons kan nie dissipels wees as ons nie erns maak met oop deure nie. As ons nie bereid is om ons voortdurend te bekeer, anders te kyk, dieper te kyk nie. Aan die louwarm Laodisea word die opdrag gegee: Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe, en saam met hom eet, en Hy saam met My (Op 3: 20, AFR2020). Hy wat deure oopmaak, vra dat ons deure vir mekaar sal oopmaak.
In ’n jaar waar ons weer ’n Algemene Kerkvergadering gaan hou, is dit juis ons uitdaging – om die deure van ons harte vir mekaar oop te maak. Die geslote deure van my opinie is reg, en die res is weg, moet plek maak vir luister na die Sleuteldraer, luister na mekaar. Mag ons deure vir mekaar wawyd oop wees in ’n jaar wat van ons verbeeldingryke moontlikhede, dink, besin en na binne kyk, eis.
(Dr Sanrie de Beer is predikant in Gemeente Philadelphia)