Johannes 1: 1-16

In die Noordpool is dit vir maande lank nag. Wanneer die inwoners die aanbreek van die dag verwag, gaan die boodskappers uit na die hoogste punte om te wag vir die eerste tekens van lig. As hulle die eerste tekens van lig begin sien, gaan trek hulle hul mooiste klere aan, omhels mekaar en roep hard uit: Aanskou die son, die lig het gekom. Die wekroep word dan deur die hele land voorgedra.

Ons lees in Johannes 1: In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Alles het deur Hom tot stand gekom. Dit neem ons eintlik terug na die skepping, toe alles donker en duister was. Daar was niks, maar God was daar, die lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie. Dan gebeur die wonderwerk in Johannes 1: 14: Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.

Sien ons dit nog raak in ons moderne wêreld? Die Lig van die Christusfees. Of word ons verblind deur al die ander mooi liggies rondom ons? Sien ons Advent nog as hierdie voorbereidingsgeleentheid, om onsself in siel en gees voor te berei vir die ware Lig, Jesus Christus se koms? Of jaag ons so na die einde van die jaar dat ons nie agterkom hoekom ons hierdie voorbereidingstyd het vir die aankoms van die Verlosser nie?

In Johannes 8: 12 sê Jesus: Ek is die lig vir die wêreld. In Johannes 12: 36 sê Hy: Terwyl julle die lig het, moet julle in die lig glo, sodat julle mense van die lig kan wees. Kan jy hoor? Jesus het as die lig na die wêreld toe gekom sodat dié wat in Hom glo, nie in die duisternis sou bly nie. Ons wat glo, behoort ook eintlik soos die mense van die Noordpool wat die Noorderlig sien breek, ’n wekroep met die wêreld te deel: Aanskou die lig, die Verlosser het gekom.

Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos