1 Konings 19: 19-21

Terwyl die jong Elisa besig is om te ploeg met twaalf spanne van twee, kom Elia by hom en gooi sy mantel oor Elisa. Elia dra sy rol en amp as profeet op Elisa oor. Nou wag daar ’n nuwe uitdaging. Maar eers moet Elisa afhandel en klaarmaak met dit waarmee hy besig is. Hy groet sy familie, slag die osse vir ’n afskeidsete saam sy werksmense, en dan is hy gereed vir sy nuwe lewe as profeet.

Hier is die kruks van die verhaal: Daar kom tye in ons lewens dat dit nodig is om ons hede, en dikwels ook ons verlede, te hanteer, sodat God iets nuut in ons lewe kan doen. Dit beteken dat ’n mens soms eerlik met jouself moet wees en moet vra: Wat is daar wat my terughou? Wat is daar wat ek moet Iaat gaan? Wanneer ons in die sleurgang van die lewe vasgevang is, soos ’n Elisa wat in die stof agter sy ossespanne aanslof, verlang ons na iets nuuts, is ons reg vir ’n verandering. Maar is daar dalk iets wat ons terughou?

Ons wil voluit lewe, ons potensiaal bereik, maar die seermaakwoorde wat teenoor ons uitgespreek is, laat ons aan onsself twyfel. Ons wil vry en met vrede in ons hart lewe, maar koester nog bitterheid en haat teenoor iemand wat ons ingeloop het en wat ons nie kan vergewe nie. Dan kom ons nooit uit die stof van ’n geestelike ploegland en osse nie.

Elisa maak klaar. Hy groet en neem afskeid. Dan is hy vry en gereed vir die groot taak en nuwe uitdaging wat God vir hom in gedagte het. Dit is soms nodig vir ons om dieselfde te doen. Laat gaan die seer, die haat, die wroeging. Vergewe en beweeg aan. Omhels die nuwe, opwindende lewe wat die Here vir jou beplan en gereed hou. Voel die mantel van sy droom vir jou op jou skouer val. En laat jou nuwe lewe Hom verheerlik!

Gebed

Here, help my om alles wat my vrede steel, te Iaat gaan sodat ek u nuwe lewe kan leef. Amen.

Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort