Markus 2: 1-12
Het jy ’n kledingstuk in jou kas waarvan jy net nie ontslae kan raak nie? Nie as gevolg van ’n sentimentele houding nie, maar eerder as gevolg van die gemak wat saam met jare se dra gekom het. ’n Mat kan ook so ’n voorwerp vir ons wees.
Jesus is in ’n huis besig om die evangelie aan ’n groot aantal mense te bring. Daar is so baie mense in die huis dat daar nie genoeg plek vir nog mense is om by die huis in te kom nie. Daar was selfs nie plek vir vier persone wat ’n verlamde man na Jesus toe wou bring nie. Die vier persone het die man op ’n mat gedra, ’n gat in die huis se dak gemaak en die man deur die dak afgesak na waar Jesus gestaan het. Jesus is verwonderd oor die vier persone se geloof en sê toe vir die verlamde man: Ek beveel jou, staan op, vat jou mat en gaan huis toe. Jesus skenk só vir die verlamde man ’n nuwe lewe, aangesien hy nie meer verdoem is tot sy matbestaan nie. Jesus nooi hom om uit om sy mat op te tel en huis toe te gaan.
Dis ’n groot uitnodiging wat Jesus vir hom gee, aangesien hy heel waarskynlik nie welkom was by sy familie nie. Sy toestand het hom onrein gemaak in die samelewing van daardie tyd. Jesus genees hom nie net nie, maar herstel ook só sy verhouding met sy familie. Hy moes baie bang gevoel het om terug te gaan na die familie toe wat hom eens op ’n tyd weggegooi het. Sy mat was – in hierdie lig gesien – ’n vreemde gemaksone, want dit was sy getroue reisgenoot toe niemand hom wou hê nie.
Die “matte” in ons lewens kan ook vir ons ’n vreemde gemaksone word, aangesien dit die deurgetrapte en beproefde paaie in ons lewens is. Hoe lyk die nuwe lewe waartoe jy geroep word, maar sukkel om aan te neem, omdat jy dit nie regkry om op te staan en jou mat (ou lewe) op te rol nie?
Ds Steve Oxton, Wapadrant