Esegiël 36: 16-38

Die tempel was vir die volk die teken van God se teenwoordigheid. In ’n vreemde land is hulle gestroop van hierdie versekering. Deur Esegiël sê die Here vir sy volk hoekom hulle in hierdie haglike omstandighede is: Hulle het die Naam van die Here oneer aangedoen. Hulle het geleef soos wat hulle wou. Hulle het sosiale ongeregtigheid gepleeg en afgode aanbid. Die straf hierop was dat hulle deur ander moondhede oorheers en weggevoer is. God se Naam het hierdeur in gedrang gekom. Onder die heidense nasies het die gedagte geleef dat indien jy ’n nasie oorwin het, het jy ook die god van daardie nasie oorwin. Dalk kan dit van die lewelose gode gesê word, maar nie van die God van Israel nie. Hy is die enigste ware, lewende God.

Daarom sê die Here: Ek sal my volk weer herstel. Ek sal die volk weer terugbring in hul land. Ek sal die volk en die land en die berge en die gesaaides weer opbou. Ek sal my verbond met hierdie volk in stand hou. Maar nie ter wille van die volk nie, ter wille van die eer van my Naam.

Dit is eerstens hoekom God sy volk weer gaan opbou. Van die begin af was dit die Here se bedoeling met sy volk, dat sy Naam geëer sal word. Tweedens is sy Naam heilig, en deur Hom te eer, sal ongelowiges ook daardeur nadergetrek word. God se betrokkenheid by Israel moes ’n getuienis wees by die nasies rondom hulle. Hulle moes besef dat Jahwe God is, en moes ook deel wou hê aan so ’n verhouding.

Vandag leef ons duidende jare verder in ’n nuwe verhouding met God. Hy herstel ons gebroke verhouding deur die kruisdood van Jesus Christus. Ons is dus die nuwe volk van God wat sy Naam moet eer. As sy kerk, as geroepenes, moet ons lewe ’n getuienis wees van sy werking en betrokkenheid in ons lewens. Is iets van Hom deur jou sigbaar?

Ds Manda le Roux, Weskus