Johannes 16: 13 (AFR2020)
Maar wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die volle waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself praat nie, maar Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die toekomstige dinge aan julle bekend maak.
Die Heilige Gees, as die Gees van die waarheid, lei gelowiges in die hele waarheid, leer Jesus. Maar, wat is waarheid? wil ek vandag saam met Pilatus vra (Joh 18: 38). Daar is ’n klomp algemene waarhede oor God wat ons goed ken – soos dat Hy liefde is, vrede gee, verlossing bewerk, dat Hy Gees is en daarom alomteenwoordig, ensovoorts. Maar daar is ook waarhede wat deur die wêreld en ander gelowe en sieninge voorgestel word – wêreldliefde, individuele voorkeure bo dit wat God verwag, die doel van die lewe is subjektief en nie gerig op ’n groter (skepper)wese nie, die mens is eintlik inherent goed, dat die mens van homself en sy ewemensdom afhanklik is, ensovoorts.
Met al dié waarhede in omloop en daagliks in ons ore via die media, is dit moeilik om tussen reg en verkeerd te onderskei. Jesus leer egter dat dit die Heilige Gees is wat ons die waarhede oor God uitwys, en om te kan onderskei tussen wat reg en verkeerd is. Uiteindelik lei die Gees ons na Jesus, die Christus. Sien, Hy is die volle waarheid. Waarheid is ’n Persoon. Waarheid het ’n Naam, Jesus. Waarheid word met ’n hoofletter W geskryf. Jesus is God se WAARHEID vir ons.
Om egter in hierdie Waarheid te glo, het ek die Gees van waarheid nodig – wat nie uit sy eie praat nie, maar net wat Hy by die Vader en die Seun hoor. Die Heilige Gees lei my na dieper insigte en begrip van God se plan vir my. Saam met Hom ontdek ek hoe om die Waarheid as ’n Persoon in my lewe te sien en te ervaar, leer ek morele keuses maak, leer ek hoe om verhoudings in stand te hou en om geestelik te groei. Sonder die Gees is dit moeilik om in elke situasie die morele oorwinnaar te bly.
Ds Dawie Jacobs, Emeritus