Matteus 16: 1-4
Seelui het die gesegde: Red skies in the morning, sailors warning. Red skies at night, sailors delight. Hierdie wysheid was ook onder die Jode van die eerste eeu ná Christus bekend. Die lug is rooi in die aand wanneer stofdeeltjies in die atmosfeer vasgevang word en die blou lug wyk. Dit gebeur met sononder wanneer die rooi lug onder hoë druk vanuit die weste inbeweeg. Dan weet hulle dat dit die volgende dag droog en goeie weer gaan wees. Natuurlik is dit vir boere en seelui noodsaaklike inligting.
Die Fariseërs en Sadduseërs eis ’n teken vanuit die hemel, en hulle is op soek na ’n wonderwerk. Jesus wys hulle gewoon daarop dat hulle tekens vanuit die natuur kan lees. Maar hulle herken nie die tekens of wonderwerke wat Hy alreeds verrig het nie. Om ’n teken uit die hemel te sien wat hulle versoek het, sou vir hulle bevestiging wees dat Hy wel die Messias is. Jesus is terdeë daarvan bewus dat hulle vir Hom ’n strik met hul versoeke stel. Hy laat Hom nie mislei nie en natuurlik sien Hy deur hul bose planne. Hy het nie gekom om ’n aardse koninkryk te vestig nie. Hy het nie aardse legitimiteit nodig vir wat Hy kom doen het nie. Sy antwoord oor die weer vang hulle half onkant. Hy beskaam hulle. Hulle kan sogenaamd die weer bepaal, maar hulle kan nie insien of raaksien dat God se koninkryk in hul midde is nie. Niks wat Hy gesê of gedoen het, kon by hulle registreer nie. Hy laat nie toe dat hulle Hom beheer nie.
Watter tekens en wonderwerke sien ons raak? Sien ons God raak in al die wonders wat ons daagliks beleef, of kies ons gewoon om met geslote oë vir die Here deur die lewe te gaan?
Ons sien die tekens van die tyd; Hy kom, Hy kom, die Regter!
Hy kom in krag en heerlikheid en eis van al sy knegte
verslag van hulle werksaamheid.
Die Regter prys die troue kneg, maar oordeel tref die slegte.
(Gesang 584: 1)
Ds Kathleen Smith, Kaapstad