Matteus 7: 12; 22: 39 (AFR53)

In die tye waarin ons leef, bly dit vir my verstommend wat ons oor die grootste van afstande kan regkry. Tegnologie het dit vir die mens moontlik gemaak om afstande af te lê wat in die verlede onmoontlik gelyk het. Hierdie soeke na groter afstande begin – veral in ons tyd – al hoe meer in menseharte ook te leef.

Ons ken almal die goue reël baie goed. Dit kom in verskeie kulture en godsdienste voor: Doen aan ander, wat jy graag aan jouself gedoen wil hê. In die Christelike tradisie kry ons dit in onder andere die vorm van Matteus 7: 12, waar Jesus tydens sy bergpredikasie vir die mense sê: Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, doen julle ook so aan hulle;…. Die probleem met die goue reël is die feit dat die mense aan wie ons goed wil doen juis dit bly: Hulle bly net mense, die ander, of hulle. Daar bly steeds ’n bepaalde afstand in hierdie verhouding. Dis ’n tipe leef-en-laat-leef-verhouding, maar op ’n afstand. ’n Mens kan dit eintlik tele-liefde noem. Liefde op ’n afstand.

Later in Matteus vra ’n wetgeleerde vir Jesus wat die belangrikste gebod in die wet is. Jesus antwoord dat ons die Here met die volheid van ons menswees moet liefhê; en dat ons ook ons naaste (plesion) moet liefhê soos onsself. Kan jy hoor? Dit is nie vir Jesus goed genoeg dat ons liefde net beperk is tot naamlose en gesiglose figure op ’n afstand nie. Dit is nie vir Jesus goed genoeg dat ons barmhartigheid net beperk is tot mense wat baie ver van ons af verwyderd is nie. Vir Jesus is dit noodsaaklik dat ons naby (dit is immers wat die stam van plesion beteken) mense in hul nood en vreugdes sal kom. Dit is vir Jesus belangrik dat ons mense sal raak leef. Dit is vir Jesus belangrik dat mense, met ander woorde, bure of naastes vir ons sal word. Jesus was nie in die tele-liefde (liefde op ’n afstand) besigheid nie.

Ds Steve Oxton, Wapadrant